• Ontwaak!—2009
  • Die waterkrisis—Wat word daaromtrent gedoen?

Die waterkrisis—Wat word daaromtrent gedoen?

Die hele wêreld word geraak deur die waterkrisis. Dit hou vir miljarde van die aarde se bewoners gesondheidsgevare in. Watter stappe is gedoen om die balans tussen die watervoorraad en waterverbruik te herstel?

SUID-AFRIKA: “Durban se armes kry waterdienste wat hulle lank ontsê is”, sê ’n opskrif in die tydskrif Science. Die artikel berig dat armes wat daar woon, dekades lank nie genoeg water gehad het nie as gevolg van die vorige regerings se apartheidsbeleid, wat nou afgeskaf is. Die artikel sê dat daar in 1994 “’n kwartmiljoen huishoudings in die omstreke van Durban was wat geen toegang tot skoon water of sanitasie gehad het nie”.

Om die situasie reg te stel, het ’n ingenieur in 1996 ’n program in werking gestel wat sowat 200 liter water per dag aan elke huishouding sou voorsien. Wat was die gevolg? “Net 120 000 van Durban se 3,5 miljoen inwoners het nie toegang tot skoon water nie”, berig Science. Nou verg dit, op die meeste, net ’n paar treë om by water uit te kom—’n groot verbetering teenoor die verlede, toe baie mense water meer as ’n kilometer ver moes dra.

Die tydskrif Science verduidelik dat om die sanitasieprobleem op te los, “ou ‘puttoilette’” vervang word met “urineskeidende tweeputtoilette, wat urine en ontlasting skei sodat laasgenoemde vinniger kan uitdroog en ontbind”. Vroeg in 2008 is daar al sowat 60 000 van hierdie toilette geïnstalleer, hoewel daar op daardie stadium geraam is dat dit ’n verdere twee jaar sou neem voordat al die huise ’n behoorlike toilet sou hê.

Brasilië: In die stad Salvador het honderde kinders aan diarreale siektes gely weens die gebrek aan ’n rioolstelsel en toilette.* Om die situasie reg te stel, het die stad 2 000 kilometer se rioolpype vir meer as 300 000 huise aangelê. Wat was die gevolg? Diarree in die stad het met 22 persent afgeneem, en die syfer vir gebiede waar dit voorheen baie algemener was, het met 43 persent gedaal.

Indië: In party wêrelddele is daar gedurende sommige seisoene ’n oormaat van goeie water; dit word egter nie altyd opgevang sodat dit benut kan word nie. Maar in 1985 het ’n groep Indiese vroue in die streek Dholera, in die noordwestelike staat Goedjarat, met ’n vindingryke manier vorendag gekom om water te bespaar. Hulle het gereël dat ’n groep ’n opgaardam bou wat so groot soos ’n sokkerveld was toe dit voltooi is. Hulle het die dam toe met dik plastiek uitgevoer om te voorkom dat dit lek. Hulle pogings was suksesvol. Trouens, maande ná die volgende moesonseisoen het hulle nog steeds water gehad—ondanks die feit dat hulle “bure vryelik daarvan kon drink”.

Chili: Hierdie Suid-Amerikaanse land strek oor 4 265 kilometer, met die Stille Oseaan aan die westekant en die Andesgebergte aan die oostekant. Die Staat beheer alle waterregte en gee goedkeuring vir die bou van damme en kanale. Wat was die gevolg? Nou ontvang 99 persent van stadsbewoners en 94 persent van mense wat op die platteland woon, genoeg water.

Die uiteindelike oplossing

Elke land het blykbaar sy eie manier om die waterkrisis die hoof te bied. In party lande waar gunstige winde gereeld waai, pomp windmeule water na die oppervlak en dien ook as kragopwekkers. In welvarender lande word die ontsouting van seewater ook as ’n praktiese oplossing beskou. Op baie plekke word rivier- en reënwater in enorme damme opgevang—’n maatreël wat redelik doeltreffend is, hoewel opgaardamme in droë gebiede sowat 10 persent van hulle water deur verdamping kan verloor.

Jehovah se Getuies, die uitgewers van hierdie tydskrif, glo dat die uiteindelike oplossing vir die waterkrisis in God se hande is, nie die mens s’n nie. Die Bybel sê: “Aan Jehovah [God] behoort die aarde en alles wat dit vul, die vrugbare land en dié wat daarop woon. Want op die seë het hy dit gegrondves, en op die riviere hou hy dit stewig gevestig.”—Psalm 24:1, 2.

Dit is waar dat God mense die verantwoordelikheid gegee het om na hierdie planeet om te sien (Genesis 1:28). Maar die mens se wanbestuur van die aarde se hulpbronne—tesame met die verwoestende gevolge daarvan—voorsien verdere bewyse van hierdie feit: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

Wat sal Jehovah doen om weer ’n volmaakte balans in die elemente van ons planeet teweeg te bring? Die Bybel verseker ons dat dit sy voorneme is om ‘alles nuut te maak’ (Openbaring 21:5). Stel jou ’n wêreld voor waar daar geen armoede, droogtes of watertekorte is nie. Stel jou ’n wêreld voor sonder moesonoorstromings, wat vandag jaarliks duisende lewens eis. God sal sy talle beloftes onder die heerskappy van sy Koninkryk vervul! Jehovah self het gesê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.

Sou jy graag meer wou leer omtrent God se voorneme om ons aarde te herstel, soos dit in sy Woord, die Bybel, uiteengesit word? Die volgende artikel sal verduidelik hoe jy dit kan doen.

[Voetnoot]

Elke jaar sterf sowat 1,6 miljoen kinders wêreldwyd aan diarreale siektes. Dit is meer as die gesamentlike sterftes as gevolg van vigs, tuberkulose en malaria.

[Lokteks op bladsy 5]

“Waar daar nie water is nie, is daar nie lewe nie. . . . Ons lewe deur die genade van water.”—Michael Parfit, skrywer vir National Geographic

[Lokteks op bladsy 6]

Om een ton graan te produseer, vereis 1 000 ton water

[Lokteks op bladsy 6]

“70 persent van die wêreld se waterverbruik word aan besproeiing gewy.”—Plan B 2.0, deur Lester R. Brown

[Grafieke/Prente op bladsy 7]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoeveel varswater is beskikbaar?

Totale watervoorraad

97,5% soutwater

2,5% varswater

Varswater

99% opgesluit in gletsers en ysberge of onder die grond

 1% beskikbaar vir byna sewemiljard mense en tallose ander lewensvorme

[Prent op bladsy 7]

Pype word aangelê sodat mense toegang tot skoon water kan hê, Durban, Suid-Afrika

[Erkenning]

Courtesy eThekwini Water and Sanitation Programme

[Prent op bladsy 7]

Vroue werk aan ’n projek om reënwater op te vang, Rajasthan, Indië, 2007

[Erkenning]

© Robert Wallis/Panos Pictures

[Prent op bladsy 7]

Plaaslike mense werk aan ’n nuwe waterstelsel vir hulle dorpie naby Copán, Honduras

[Erkenning]

© Sean Sprague/SpraguePhoto.com