Sleutels tot gesinsgeluk

Hoe om verantwoordelike kinders groot te maak

George:* “Dit was elke aand dieselfde storie. Michael, my vierjarige seun, het sy speelgoed oral in die huis laat rondlê. Ek het hom probeer kry om dit weg te pak voordat hy bed toe gaan. Maar dan het Michael histeries geword en het hy geskree en te kere gegaan. Soms het ek so gefrustreerd geraak dat ek op hom geskree het, maar dit het net ons albei sleg laat voel. Ek wou hê dat slaaptyd ’n aangename tyd moes wees. Ek het toe maar moed opgegee en self opgeruim.”

Emily: “Die probleem het begin toe my 13-jarige dogter, Jenny, dit moeilik gevind het om haar onderwyseres se instruksies vir ’n sekere skooltaak te verstaan. Jenny het ’n uur lank gehuil toe sy van die skool af huis by die huis gekom het. Ek het haar aangemoedig om by die skool hulp te vra, maar Jenny het volgehou dat haar onderwyseres gemeen was, en daarom was sy te bang om met haar te praat. Ek was sommer lus om reguit skool toe te gaan en vir die onderwyseres te sê presies wat ek van haar dink. Ek het gevoel dat niemand die reg het om my dogtertjie so ongelukkig te maak nie!”

VOEL jy soms soos George en Emily? Soos hierdie ouers, vind baie dit moeilik om te sien dat ’n kind met ’n probleem sukkel of ongelukkig is. Dit is net natuurlik dat ouers hulle kinders probeer beskerm. Maar die situasies hierbo was in werklikheid vir hierdie ouers ’n geleentheid om hulle kind ’n waardevolle les in verantwoordelikheid te leer. Die lesse wat ’n 4-jarige kan leer, sal natuurlik verskil van dié wat ’n 13-jarige kan leer.

Maar die waarheid is dat jy nie altyd daar sal wees om jou kind teen die probleme van die lewe te beskerm nie. ’n Kind sal uiteindelik sy vader en sy moeder verlaat en “sy eie vrag” van verantwoordelikheid dra (Galasiërs 6:5; Genesis 2:24). As ouers hulle kinders in staat wil stel om vir hulleself te sorg, moet hulle gefokus bly op die doel om hulle kinders te leer om onselfsugtige, liefdevolle, verantwoordelike volwassenes te word. Dit is nie ’n maklike taak nie!

Gelukkig het ouers ’n wonderlike voorbeeld in Jesus en in die manier waarop hy sy dissipels behandel het. Jesus was nie ’n letterlike ouer nie. Maar die doelwit wat hy voor oë gehad het toe hy sy dissipels gekies en opgelei het, was om hulle in staat te stel om die werk voort te sit, selfs ná sy dood (Matteus 28:19, 20). Wat Jesus uitgerig het, is soortgelyk aan die doel wat elke ouer hoop om te bereik, naamlik om verantwoordelike kinders groot te maak. Kyk na net drie dinge wat ouers by Jesus kan leer.

‘Stel die voorbeeld’ vir jou kind Naby die einde van sy lewe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Johannes 13:15). Net so moet ouers verduidelik en deur middel van hulle voorbeeld toon presies wat dit beteken om verantwoordelik te wees.

Vra jou af: ‘Praat ek dikwels op ’n positiewe manier oor my eie verantwoordelikhede? Praat ek oor die bevrediging wat ek daaruit put wanneer ek hard vir ander werk? Of kla ek dikwels en vergelyk ek my met dié wat lyk asof hulle ’n makliker lewe het?’

Toegegee, niemand is volmaak nie. Ons voel almal soms oorlaai. Maar jou voorbeeld is waarskynlik die kragtigste manier waarop jy jou kinders kan help om te sien hoe belangrik en waardevol verantwoordelike gedrag is.

PROBEER DIE VOLGENDE: Neem, indien moontlik, jou kind van tyd tot tyd saam met jou werk toe en wys hom of haar wat jy doen om die gesin finansieel te onderhou. Doen vrywillige werk waar jy jou kind kan saamneem. Bespreek ná die tyd hoe jy dit geniet het om na daardie verantwoordelikheid om te sien.—Handelinge 20:35.

Wees redelik in wat jy verwag Jesus het geweet dat dit tyd sou neem voordat sy dissipels gereed sou wees om die rolle te vervul en die verantwoordelikhede te aanvaar wat hy van hulle verwag het. Hy het eenkeer vir hulle gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie” (Johannes 16:12). Jesus het sy dissipels nie onmiddellik gevra om enigiets op hulle eie te doen nie. Hy het eerder baie tyd daaraan bestee om hulle baie dinge te leer. Eers toe Jesus gedink het dat sy dissipels gereed is, het hy hulle op hulle eie uitgestuur.

Dit is eweneens onredelik as ouers verwag dat kinders die verantwoordelikhede van volwassenes aanvaar voordat hulle gereed is. Maar wanneer hulle kinders groter word, moet ouers besluit watter opdragte en take vir hulle gepas is. Byvoorbeeld, ouers moet hulle kinders leer om verantwoordelik te wees vir hulle persoonlike higiëne, om hulle kamer skoon te maak, om stiptelik te wees en om verstandig met geld te werk. Wanneer ’n kind begin skoolgaan, moet ouers verwag dat die kind sy of haar skoolwerk as ’n belangrike verantwoordelikheid beskou wat die kind moet nakom.

Ouers moet meer doen as om net verantwoordelikhede aan hulle kind te gee. Hulle moet ook die kind ondersteun in sy pogings om sukses te behaal. George, die pa wat vroeër gemeld is, het besef dat Michael ontsteld geraak het toe hy gevra is om sy speelgoed weg te pak deels omdat die taak vir hom oorweldigend gelyk het. “In plaas van om net op Michael te skree om sy speelgoed op te tel”, sê George, “het ek hom probeer leer om die werk stelselmatig te doen.”

Presies wat het hy gedoen? “Eerstens”, sê George, “het ek ’n tyd vasgestel waarop die speelgoed elke aand opgetel moes word. Toe het ek saam met Michael gewerk en een deel van die kamer op ’n slag gedoen. Ek het die taak in ’n speletjie verander en dit selfs ’n kompetisie gemaak om te sien wie die vinnigste kan werk. Die proses het gou deel van die slaaptydroetine geword. Ek het Michael belowe dat ek vir hom ’n ekstra slaaptydstorie sou lees as hy vinnig klaarkry. Maar as hy te lank gedraai het, sou daar minder tyd vir stories wees.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Kyk wat elkeen van jou kinders redelikerwys kan doen om te help dat sake in jou huishouding vlot verloop. Vra jou af: ‘Is daar dinge wat ek nog steeds vir my kinders doen wat hulle self kan doen?’ Indien wel, werk saam met jou kinders totdat jy seker is dat hulle die taak op hulle eie kan verrig. Stel dit duidelik dat daar gevolge sal wees, hetsy goed of sleg, na gelang van hoe die kinders na hulle toegewese taak omsien. Pas dan die straf toe of gee die beloning.

Gee spesifieke instruksies Soos elke goeie onderrigter het Jesus geweet dat die beste manier om te leer, is deur te doen. Toe Jesus byvoorbeeld gemeen het dat die tyd reg is, het hy sy dissipels “twee-twee voor hom uit gestuur na elke stad en plek waar hy self sou kom” (Lukas 10:1). Maar hy het hulle nie net hulle eie gang laat gaan nie. Voordat hy hulle uitgestuur het, het hy hulle baie spesifieke instruksies gegee (Lukas 10:2-12). Toe die dissipels teruggekeer het en vertel het van die sukses wat hulle behaal het, het Jesus hulle geprys en aangemoedig (Lukas 10:17-24). Hy het sy vertroue in hulle vermoëns sowel as sy goedkeuring uitgespreek.

Hoe reageer jy wanneer jou kinders voor veeleisende verantwoordelikhede te staan kom? Probeer jy jou kinders beskerm teen die dinge waarvoor hulle bang is, en probeer jy keer dat hulle teleurgestel word of misluk? Jou instinktiewe reaksie is dalk om jou kind te “red” of om die las op jou skouers te neem.

Maar dink hieraan: Watter soort boodskap dra jy oor elke keer dat jy jou kinders te hulp snel en hulle op die een of ander manier “red”? Toon jy dat jy vertroue stel in hulle en hulle vermoëns? Of sê jy as ’t ware vir hulle dat jy hulle nog as hulpelose babas beskou wat op jou moet staatmaak vir alles?

Hoe het Emily, wat vroeër gemeld is, byvoorbeeld haar dogter se dilemma hanteer? In plaas daarvan om in te meng, het sy besluit dat Jenny self met die onderwyseres moet gaan praat. Emily en Jenny het saam ’n lys vrae opgestel wat Jenny skool toe kon neem. Toe het hulle bespreek wat die beste tyd sou wees om die onderwyseres te nader. Hulle het selfs deur middel van rolspel geoefen hoe die gesprek moontlik sou verloop. “Jenny het die moed bymekaargeskraap om haar onderwyseres te nader”, sê Emily, “en haar onderwyseres het haar geprys vir haar inisiatief. Jenny was baie trots op haarself—en ek was ook trots op haar.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf ’n uitdaging neer wat jou kind tans in die gesig staar. Skryf langs die uitdaging wat jy kan doen om jou kind te help om die uitdaging die hoof te bied sonder om hom of haar te “red”. Oefen saam met jou kind die stappe wat nodig is om die uitdaging te oorkom. Sê vir jou kind dat jy vertroue in sy of haar vermoë het.

As jy jou kinders altyd teen probleme beskerm, kan jy in werklikheid verhinder dat hulle die vermoë ontwikkel om die uitdagings van die lewe die hoof te bied. Versterk eerder jou kinders deur hulle groot te maak om verantwoordelikheid te aanvaar. Dit sal een van die kosbaarste geskenke wees wat jy hulle kan gee.

[Voetnoot]

Name is verander.

VRA JOU AF . . .

▪ Is ek realisties in wat ek van my kinders verwag?

▪ Sê ek en wys ek vir hulle wat hulle moet doen om sukses te behaal?

▪ Wanneer laas het ek my kind aangemoedig of geprys?

[Prent op bladsy 20]