Die sebra—Afrika se wilde perd

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AFRIKA

’N DUISEND sebras hardloop vry oor die Afrikagrasvlakte. Hulle gestreepte flanke maak ’n ritmiese golfbeweging terwyl hulle nekke, met hulle dik maanhare, op die ritme van hulle kragtige bewegings wieg. Die geluid van hulle hoewe op die droë aarde dreun oor die vlaktes. ’n Rooi stofwolk styg agter hulle op en kan kilometers ver gesien word. Hulle hardloop, vry en wild, met niks wat hulle inperk nie.

Asof ’n onsigbare teken gegee is, begin hulle stadiger hardloop, en dan gaan staan hulle. Met hulle groot, sterk tande vreet hulle die droë gras. Die trop is waaksaam en kyk van tyd tot tyd op om te luister en die lug te ruik. Op die wind bereik die gebrul van ’n leeu in die verte hulle ore, en hulle raak gespanne. Hulle ken die geluid goed. Met gespitste ore en gras wat bewegingloos uit hulle bekke hang, kyk die sebras in die rigting waaruit die gebrul kom. Daar is blykbaar geen onmiddellike gevaar nie; daarom buig hulle weer hulle nekke en wei verder.

Wanneer die son begin neerskroei, beweeg hulle verder. Hierdie keer is dit die reuk van water wat die wilde perde na ’n rivier toe aantrek. Hulle gaan staan op ’n hoë bank en kyk af op die stadig bewegende bruin water, terwyl hulle snork en die droë stof met hulle pote kap. Hulle huiwer, bewus van ’n potensiële gevaar onder die rivier se kalm oppervlak. Maar hulle is baie dors, en party begin vorentoe beur. Dan hardloop hulle skielik af tot by die rivier se oewer. Een vir een les hulle hulle dors, draai dan om en keer terug na die oop vlaktes.

Teen die aand beweeg die trop tydsaam deur die lang gras. Die silhoeët wat hulle teen die dieprooi gloed van die ondergaande son vorm, met die Afrikaveld in die agtergrond, is voorwaar ’n pragtige gesig.

Gestreep en sosiaal

Die daaglikse roetine vir sebras is altyd dieselfde. Hulle is voortdurend aan die beweeg, op soek na kos en water. Waar hulle op die oop vlaktes wei, lyk die sebras skoon en vet, en hulle gestreepte velle span styf om hulle gespierde lywe. Die sebra se strepe is uniek, en soos sommige beweer, is daar nie twee patrone wat presies dieselfde is nie. Hulle treffende wit en swart strepe lyk vreemd tussen die ander diere van die vlakte. En tog is hulle voorkoms aantreklik en is dit ’n deel van die ongetemdheid van Afrika self.

Sebras is van nature baie sosiaal. Individuele diere vorm sterk bande wat ’n leeftyd kan duur. Hoewel ’n groot trop uit etlike duisend diere kan bestaan, word dit in talle kleiner familiegroepe verdeel wat uit ’n hings en sy merries bestaan. Hierdie klein familiegroep handhaaf orde deur ’n streng hiërargiese stelsel te volg. Die dominante merrie bepaal die familie se beweging. Sy loop voor, en die ander merries en hulle vulletjies volg haar een-een volgens rangorde. Maar eintlik is die hings die leier van die groep. As hy wil hê sy familie moet van koers verander, gaan hy na die dominante merrie en stoot hy haar liggies in die nuwe rigting.

Sebras hou daarvan om mekaar se pels te versorg, en mens sien dikwels hoe hulle teen mekaar skuur of aan mekaar se flanke, skouers en rûe knibbel. Wanneer hulle mekaar se pels versorg, versterk dit blykbaar die band tussen individuele diere, en dit begin wanneer die kleintjies maar net ’n paar dae oud is. As ’n ander lid van die familie nie in die nabyheid is om dit te doen nie, vind die sebras verligting van ’n jeukerige vel deur in die stof te rol of hulle lyf teen ’n boom, miershoop of iets anders te skuur.

Die stryd om oorlewing

’n Sebra se lewe is vol gevare. Leeus, wildehonde, hiënas, luiperds en krokodille beskou almal hierdie dier van 250 kilogram as ’n moontlike prooi. ’n Sebra kan tot 55 kilometer per uur hardloop, maar word soms onverhoeds betrap deur roofdiere wat hom verras of bekruip. Leeus lê hulle voor, krokodille wag in troebel water en luiperds bekruip hulle onder die sluier van die nag.

Die sebras se veiligheid is afhanklik van die waaksaamheid en die gesamentlike optrede van lede van die trop. Hoewel die meeste snags slaap, is daar altyd ’n paar wat wakker is om te luister en wag te hou. As ’n sebra ’n roofdier sien nader kom, maak hy ’n snorkgeluid om die hele trop te waarsku. Dikwels, as een lid van die trop siek of oud is en nie kan bybly nie, sal die ander sebras doelbewus stadiger loop of wag sodat die stadiger dier weer by die trop kan aansluit. Wanneer gevaar dreig, gaan staan die hings onbevrees tussen die roofdier en die merries en byt en skop hy na die vyand om die trop kans te gee om weg te kom.

Hierdie hegte familieband word toegelig deur ’n merkwaardige voorval wat op die Serengeti-vlakte in Afrika plaasgevind het, soos deur die natuurkenner Hugo van Lawick waargeneem is. Hy het vertel hoe ’n trop wildehonde ’n trop sebras begin jaag het en ’n merrie, haar jong vul en ’n jaaroud vul van die trop afgeskei het. Terwyl die res van die trop sebras weggalop het, het die ma en die jaaroud vul hulle moedig teen die honde probeer verdedig. Die honde het gou aggressiewer geraak, en die merrie en die jaaroud vul het moeg begin word. Dit het nie gelyk of hulle dit sou maak nie. Van Lawick onthou die hopelose toneel: “Skielik het ek die grond voel vibreer, en toe ek rondkyk, sien ek, tot my verbasing, hoe tien sebras vinnig nader kom. ’n Oomblik later het hierdie trop die ma en haar twee kleintjies omring, en toe het die hele groep omgeswaai en dig bymekaar in die rigting galop waaruit die tien te voorskyn gekom het. Die honde het hulle ongeveer 50 meter ver agtervolg, maar kon nie die trop binnedring nie en het toe maar opgegee.”

Die grootmaak van vulletjies

Die sebramerrie is beskermend teenoor haar pasgebore vul en hou hom aanvanklik weg van die ander lede van die trop. Gedurende hierdie intieme tydperk van afsondering kan die vul ’n hegte band met sy ma ontwikkel. Die jong vul memoriseer die wit en swart gestreepte patroon wat uniek aan sy ma is. Daarna sal hy sy ma se roep, reuk en gestreepte patroon herken en sal hy geen ander merrie aanvaar nie.

Pasgebore vulletjies word nie gebore met die kenmerkende wit en swart strepe van hulle ouers nie. Hulle strepe is rooibruin en sal slegs met tyd swart word. Binne die groter trop kom vulletjies van verskillende familiegroepe bymekaar om te speel. Hulle hardloop en jaag mekaar, skop en hardloop tussen die volwassenes deur, wat soms saam met hulle speel. Die vulletjies maak ’n speletjie daarvan om voëls en ander klein diere te jaag. Sebravulletjies, met hulle lang, dun bene, groot, swart oë en blink, sagte pelse, is pragtige diere en ’n plesier om dop te hou.

Wild en wonderlik

’n Mens kan vandag nog groot troppe sebras wild en vry oor die uitgestrekte goue grasvlaktes van Afrika sien hardloop. Dit is ’n besonder indrukwekkende gesig.

Wie sal ontken dat die sebra, met sy unieke wit en swart gestreepte patroon, sterk familielojaliteit en wilde en vrye gees, ’n majestueuse en wonderlike dier is? Wanneer ons meer omtrent so ’n dier leer, vind ons die antwoord op ’n vraag wat duisende jare gelede gevra is: “Wie het die sebra in vryheid uitgestuur?” (Job 39:5, NW). Die antwoord is duidelik. Dit is die Ontwerper van alle lewende dinge, Jehovah God.

[Venster op bladsy 14]

Waarom het die sebra strepe?

  Diegene wat in evolusie glo, vind dit moeilik om die sebra se strepe te verklaar. Party het al gedink dat dit moontlik as ’n waarskuwingsteken dien. Dit is egter duidelik dat leeus en ander groot roofdiere nie in die minste deur die sebra se strepe afgeskrik word nie.

  Ander is van mening dat die strepe kan dien as ’n middel om die geslagsdrif te prikkel. Maar aangesien alle sebras soortgelyke strepe het en hulle strepe nie eie aan ’n spesifieke geslag is nie, is dit onwaarskynlik.

  ’n Ander teorie is dat die wit en swart patroon geëvolueer het om die hitte van die warm Afrika-son te help verlig. Maar waarom het ander diere dan nie strepe nie?

  ’n Algemene teorie is dat die sebra deur middel van evolusie strepe ontwikkel het as ’n vorm van kamoeflering. Wetenskaplikes het ontdek dat die stygende hitte van die Afrikavlaktes inderdaad die sebra se buitelyne vervorm en vervaag, wat dit moeilik maak om hom van ver af te sien. Maar hierdie soort kamoeflering het nie veel nut nie, aangesien leeus, die sebra se grootste vyand, slegs oor kort afstande aanval.

  Daar is ook al beweer dat die bewegende massa gestreepte sebralywe jagtende leeus tydens ’n stormloop verwar, sodat dit vir hulle moeiliker is om hulle op individuele diere toe te spits. Maar natuurstudies het getoon dat leeus in werklikheid net so bedrewe en suksesvol daarin is om sebras as ander diere te jag.

  Iets anders wat tot die verwarring bydra, is die feit dat die sebra se strepe soms vir die dier ’n nadeel is. Snags, op die maanverligte vlaktes, maak die sebra se wit en swart gestreepte patroon hom selfs sigbaarder as ander diere met een kleur. Aangesien leeus gewoonlik snags jag, wil dit voorkom asof dit beslis teen die sebra tel.

  Waar het die sebra dan sy strepe gekry? Die antwoord op hierdie vraag kan in ’n eenvoudige stelling gevind word: “Die hand van die HERE [het] dit gemaak” (Job 12:9). Ja, die Skepper het die aarde se skepsele met unieke eienskappe en kenmerke ontwerp wat hulle, vir redes wat die mens nie ten volle verstaan nie, op wonderbaarlike wyse vir die lewe toerus. Die wonderlike ontwerp van lewende dinge dien nog ’n doel. Dit vul mense se harte met geluk, plesier en vreugde. Trouens, die prag van die skepping het baie vandag beweeg om te voel soos Dawid lank gelede gevoel het: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.