Eksodus
32 Intussen het die volk gesien dat Moses lank neem om van die berg af te kom.+ Daarom het die volk om Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: “Staan op, maak vir ons ’n god wat voor ons uit sal trek,+ want wat hierdie Moses betref, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het,+ ons weet werklik nie wat met hom gebeur het nie.” 2 Hierop het Aäron vir hulle gesê: “Ruk die goue oorringe+ af wat aan die ore van julle vrouens, van julle seuns en van julle dogters is, en bring dit na my toe.” 3 En die hele volk het begin om die goue oorringe wat aan hulle ore was, af te ruk en dit na Aäron toe te bring. 4 Toe het hy die goud uit hulle hande geneem, en hy het dit met ’n graveeryster gevorm+ en ’n gegote beeld van ’n kalf+ daarvan gemaak. En hulle het begin sê: “Dit is jou God, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.”+
5 Toe Aäron dit sien, het hy voor die beeld ’n altaar gebou. Uiteindelik het Aäron uitgeroep en gesê: “Môre is daar ’n fees vir Jehovah.” 6 En hulle het die volgende dag vroeg opgestaan, en hulle het brandoffers begin offer en gemeenskapsoffers begin aanbied. Daarna het die volk gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om vrolik te wees.+
7 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Gaan, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.+ 8 Hulle het gou van die weg afgewyk wat ek hulle beveel het om te gaan.+ Hulle het vir hulle ’n gegote beeld van ’n kalf gemaak en hou aan om hulle daarvoor neer te buig en daaraan offerandes te bring en te sê: ‘Dit is jou God, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.’”+ 9 En Jehovah het verder vir Moses gesê: “Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ’n hardnekkige volk.+ 10 Laat my dan nou begaan, sodat my toorn teen hulle kan ontvlam en ek hulle kan uitroei,+ en laat ek jou ’n groot nasie maak.”+
11 En Moses het die aangesig van Jehovah sy God versag+ en gesê: “Waarom, o Jehovah, sou u toorn+ ontvlam teen u volk wat u met groot krag en met ’n sterk hand uit Egipteland uitgelei het? 12 Waarom sou die Egiptenaars+ sê: ‘Met kwade bedoelings het hy hulle uitgelei om hulle tussen die berge dood te maak en om hulle van die oppervlak van die aarde uit te roei’?+ Wend u af van u brandende toorn+ en voel spyt+ oor die kwaad teen u volk. 13 Dink aan u knegte Abraham, Isak en Israel, vir wie u by uself gesweer het,+ deurdat u vir hulle gesê het: ‘Ek sal julle saad vermeerder soos die sterre van die hemel,+ en hierdie hele land wat ek aangewys het, sal ek aan julle saad gee,+ sodat hulle dit inderdaad in besit kan neem tot onbepaalde tyd.’”+
14 En Jehovah het begin spyt voel oor die kwaad wat hy gesê het hy sy volk sou aandoen.+
15 Daarna het Moses omgedraai en teen die berg afgeklim+ met die twee tafels van die Getuienis+ in sy hand, tafels waarop daar aan al twee kante geskryf was. Aan weerskante was daar op hulle geskryf. 16 En die tafels was die werk van God, en die skrif was die skrif van God, gegraveer op die tafels.+ 17 En Josua het die geraas van die volk begin hoor omdat hulle so geskreeu het, en hy het vir Moses gesê: “Daar is oorlogsgeraas+ in die kamp.” 18 Maar hy het gesê:
“Dit is nie die geluid van sang oor ’n magtige daad nie,+
En dit is nie die geluid van sang oor ’n nederlaag nie;
Dit is die geluid van ander sang wat ek hoor.”
19 En net toe hy naby die kamp kom en die kalf+ en die danse kon sien, het Moses se toorn ontvlam, en hy het dadelik die tafels uit sy hande gegooi en hulle aan die voet van die berg verbrysel.+ 20 Toe het hy die kalf geneem wat hulle gemaak het en dit met vuur verbrand en dit verbrysel totdat dit fyn was,+ waarna hy dit op die oppervlak van die waters+ gestrooi het en die kinders van Israel dit laat drink het.+ 21 Daarna het Moses vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy ’n groot sonde oor hulle gebring het?” 22 Hierop het Aäron gesê: “Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U ken die volk goed, dat hulle tot die kwaad geneig is.+ 23 En hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons ’n god wat voor ons uit sal trek,+ want wat hierdie Moses betref, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet werklik nie wat met hom gebeur het nie.’ 24 Ek het derhalwe vir hulle gesê: ‘Wie het goud? Hulle moet dit van hulle afruk sodat hulle dit vir my kan gee.’ En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.”
25 En Moses het gesien dat die volk bandeloos geword het, omdat Aäron hulle bandeloos laat word het,+ tot skande onder hulle teenstanders.+ 26 Toe het Moses in die poort van die kamp gaan staan en gesê: “Wie is aan Jehovah se kant? Kom na my toe!”+ En al die seuns van Levi het by hom begin bymekaarkom. 27 Hy het toe vir hulle gesê: “Só het Jehovah, die God van Israel, gesê: ‘Gord elkeen van julle sy swaard aan sy sy. Gaan van poort tot poort deur die kamp en weer terug en maak dood, elkeen sy broer en elkeen sy naaste en elkeen sy intieme kennis.’”+ 28 En die seuns van Levi+ het gedoen soos Moses gesê het, sodat daar op daardie dag ongeveer drieduisend man van die volk geval het. 29 En Moses het verder gesê: “Vul julle hand vandag met mag vir Jehovah,+ want elkeen van julle is teen sy eie seun en sy eie broer,+ en sodat hy julle vandag ’n seën kan skenk.”+
30 En net die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle—julle het ’n groot sonde begaan,+ en ek sal nou opklim na Jehovah toe. Miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.”+ 31 Toe het Moses na Jehovah toe teruggekeer en gesê: “Ag, maar hierdie volk het ’n groot sonde begaan, deurdat hulle vir hulle ’n god van goud gemaak het!+ 32 Maar as u tog nou hulle sonde sal vergewe+—en so nie, wis my dan asseblief uit+ u boek+ wat u geskryf het.” 33 Jehovah het egter vir Moses gesê: “Elkeen wat teen my gesondig het, dié sal ek uit my boek uitwis.+ 34 En kom dan nou, lei die volk waarheen ek vir jou gesê het. Kyk! My engel sal voor jou uit gaan,+ en die dag waarop ek straf bring, sal ek beslis straf oor hulle bring vir hulle sonde.”+ 35 En Jehovah het ’n plaag oor die volk gebring omdat hulle die kalf gemaak het, wat Aäron gemaak het.+