Genesis
34 Dina, Jakob se dogter wat hy by Lea gehad het,+ het die gewoonte gehad om by die jong vroue van die land te kuier.+ 2 Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet,+ ’n hoofman van die land, haar gesien het, het hy haar gegryp en haar verkrag. 3 En hy het baie geheg geraak aan Dina, die dogter van Jakob, en hy het verlief geraak op die jong vrou en het met sy woorde haar hart probeer wen. 4 Uiteindelik het Sigem vir Hemor,+ sy pa, gesê: “Kry vir my hierdie jong vrou sodat ek met haar kan trou.”
5 Toe Jakob hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy kudde in die veld. Jakob het dus niks gesê totdat hulle teruggekom het nie. 6 Later het Hemor, Sigem se pa, na Jakob toe gegaan om met hom te praat. 7 Maar die seuns van Jakob het daarvan gehoor en dadelik van die veld af teruggekeer. Hulle was ontsteld en baie kwaad, want hy het Israel onteer deur seksuele omgang met Jakob se dogter te hê,+ iets wat glad nie gedoen mag word nie.+
8 Hemor het met hulle gepraat en gesê: “My seun Sigem wil julle dogter baie graag hê.* Gee haar asseblief vir hom as sy vrou 9 en laat daar huweliksverbintenisse tussen ons wees. Gee vir ons julle dogters, en neem ons dogters vir julle.+ 10 Julle mag by ons woon, en die land sal vir julle beskikbaar wees. Woon en dryf handel in die land en vestig julle hier.” 11 Toe het Sigem vir Dina se pa en haar broers gesê: “Gee vir my asseblief waarvoor ek vra, en ek sal vir julle gee wat julle ook al van my vra. 12 Vra my gerus vir ’n baie hoë bruidsprys en ’n baie duur geskenk.+ Ek is bereid om vir julle enigiets te gee wat julle van my vra. Gee my net die jong vrou sodat ek met haar kan trou.”
13 Jakob se seuns het ’n bedrieglike antwoord vir Sigem en Hemor, sy pa, gegee omdat hy Dina, hulle suster, onteer het. 14 Hulle het vir hulle gesê: “Ons kan beslis nie toelaat dat ons suster aan ’n man gegee word wat nie besny is* nie,+ want dit sal ’n skande vir ons wees. 15 Ons kan dit net op hierdie voorwaarde toelaat: Julle moet soos ons word en al die manlike persone onder julle besny.+ 16 Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem, en ons sal by julle woon en een volk word. 17 Maar as julle nie na ons luister en besny word nie, sal ons ons dogter neem en gaan.”
18 Wat hulle gesê het, het goed geklink vir Hemor+ en sy seun Sigem.+ 19 Die jong man het dadelik gedoen wat hulle gevra het,+ want hy het baie van Jakob se dogter gehou, en hy was die mees geëerde man van sy pa se hele huis.
20 Toe het Hemor en sy seun Sigem na die stadspoort gegaan en met die manne van hulle stad gepraat+ en gesê: 21 “Hierdie manne wil in vrede met ons lewe. Laat hulle in die land woon en daarin handel dryf, want die land is groot genoeg vir hulle om ook daarin te woon. Ons kan hulle dogters vir ons as vrouens neem, en ons kan ons dogters vir hulle gee.+ 22 Maar die manne sal net op een voorwaarde instem om by ons te woon, sodat ons een volk kan word: Elke manlike persoon onder ons moet besny word, net soos hulle besny is.+ 23 Sal hulle besittings, hulle rykdom en al hulle vee dan nie ons s’n word nie? Kom ons doen dus wat hulle vra, sodat hulle by ons kan woon.” 24 Almal wat by die stadspoort was, het na Hemor en sy seun Sigem geluister, en al die manlike persone van die stad is besny.
25 Maar op die derde dag, toe hulle nog in pyn was, het twee van Jakob se seuns, Siʹmeon en Levi, broers van Dina,+ hulle swaarde geneem. Hulle het in die stad ingegaan, terwyl niemand in die stad iets vermoed het nie, en het almal wat manlik is, doodgemaak.+ 26 Hulle het Hemor en sy seun Sigem met die swaard doodgemaak en toe Dina uit Sigem se huis geneem en weggegaan. 27 Nadat die mans doodgemaak is, het Jakob se ander seuns die stad gestroop omdat hulle hulle suster onteer het.+ 28 Hulle het hulle kleinvee, hulle beeste, hulle donkies en alles in die stad en in die veld geneem. 29 Hulle het ook al hulle besittings geneem, al hulle kindertjies en hulle vrouens gevange geneem en die huise leeg gestroop.
30 Toe het Jakob vir Siʹmeon en Levi+ gesê: “Julle het groot moeilikheid vir my gemaak* deur te veroorsaak dat die inwoners van die land, die Kanaäniete en die Perissiete, my haat. Ek het min mense by my, en hulle sal bymekaarkom en my aanval, en ek sal vernietig word, ek en my familie.” 31 Maar hulle het gesê: “Behoort enigiemand ons suster soos ’n prostituut te behandel?”