Die tweede boek van Samuel
7 Nadat die koning in sy eie paleis*+ ingetrek het en Jehovah hom van al sy vyande om hom rus gegee het, 2 het die koning vir die profeet Natan+ gesê: “Hier woon ek in ’n huis van sederhout,+ terwyl die Ark van die ware God in ’n tent staan.”+ 3 Natan het vir die koning gesê: “Gaan doen wat u hart u beweeg om te doen, want Jehovah is met u.”+
4 Maar daardie selfde nag het Jehovah vir Natan gesê: 5 “Gaan sê vir my kneg Dawid: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Moet jy vir my ’n huis bou om in te woon?+ 6 Van die dag af dat ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot vandag toe,+ het ek nie in ’n huis gewoon nie, maar ek het in ’n tent en in ’n tabernakel+ rondgetrek.* 7 Het ek in al die tyd dat ek saam met al die Israeliete rondgetrek het, ooit vir enige van die stamleiers van Israel wat ek as ’n herder oor my volk Israel aangestel het, gevra: ‘Hoekom het julle nie vir my ’n huis van sederhout gebou nie?’”’ 8 Sê vir my kneg Dawid: ‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Ek het jou uit die weiveld geneem, waar jy skape opgepas het,+ om ’n leier oor my volk Israel te word.+ 9 En ek sal met jou wees waar jy ook al gaan,+ en ek sal al jou vyande voor jou vernietig.+ Ek sal vir jou ’n groot naam maak,+ soos dié van die magtige manne van die aarde. 10 Ek sal vir my volk Israel ’n plek gee en hulle daar vestig, en hulle sal in vrede daar woon. En goddelose mense sal hulle nie weer onderdruk soos hulle in die verlede gedoen het nie,+ 11 ja, van die dag af dat ek rigters oor my volk Israel aangestel het.+ En ek sal jou rus gee van al jou vyande.+
“‘“Jehovah het ook vir jou gesê dat Jehovah vir jou ’n koningshuis sal gee.+ 12 Wanneer jy sterf,*+ sal ek jou nageslag,* jou eie seun,* koning maak ná jou, en ek sal sy koninkryk stewig vestig.+ 13 Hy is die een wat ’n huis vir my naam sal bou,+ en ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig stewig vestig.+ 14 Ek sal sy vader word, en hy sal my seun word.+ Wanneer hy verkeerd doen, sal ek hom dissiplineer met die lat van mense en met die houe van die mensekinders.*+ 15 My lojale liefde sal nie van hom af weggeneem word soos ek dit van Saul af weggeneem het,+ wat ek voor jou verwyder het nie. 16 Jou huis en jou koninkryk sal vir ewig bestaan, en jou troon sal vir ewig stewig gevestig wees.”’”+
17 Natan het al hierdie woorde aan Dawid oorgedra en hom van hierdie hele visioen vertel.+
18 Toe het koning Dawid voor Jehovah gaan sit en gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, wie is ek en wat is my huis dat u my so ver gebring het?+ 19 En asof dit nie genoeg is nie, o Soewereine Heer Jehovah, sê u ook nog dat die huis van u kneg tot in die verre toekoms sal bly bestaan, en dit is wet vir die hele mensdom, o Soewereine Heer Jehovah. 20 Wat kan u kneg Dawid nog vir u sê? Want u ken my so goed,+ o Soewereine Heer Jehovah. 21 U het al hierdie groot dinge gedoen en dit aan u kneg bekend gemaak+ omdat dit u wil is en u dit belowe het. 22 Daarom is u waarlik groot,+ o Soewereine Heer Jehovah. Daar is niemand soos u nie,+ en daar is geen God behalwe u nie.+ Alles wat ons gehoor het, bevestig dit. 23 En watter ander nasie op die aarde is soos u volk Israel?+ God het hulle gaan bevry en hulle sy volk gemaak+ en ’n groot naam vir homself gemaak+ deur groot en ontsagwekkende dinge vir hulle te doen.+ U het die nasies en hulle gode uitgedryf ter wille van u volk, wat u uit Egipte bevry het. 24 U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak,+ en u, o Jehovah, het hulle God geword.+
25 “En nou, o Jehovah God, mag u vir altyd die belofte vervul wat u oor u kneg en sy huis gemaak het, en mag u doen net soos u belowe het.+ 26 Mag u naam vir ewig verheerlik word,+ sodat mense kan sê: ‘Jehovah van die leërmagte is God oor Israel,’ en mag die huis van u kneg Dawid stewig gevestig wees voor u.+ 27 Want u, Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, het vir u kneg gesê: ‘Ek sal vir jou ’n koningshuis gee.’+ Daarom het u kneg die moed* om hierdie gebed tot u te rig. 28 En nou, o Soewereine Heer Jehovah, u is die ware God, en u woorde is die waarheid,+ en u het hierdie goeie dinge aan u kneg belowe. 29 Seën dus asseblief die huis van u kneg, en mag dit vir ewig voor u bestaan,+ want u, o Soewereine Heer Jehovah, het dit belowe, en mag u die huis van u kneg vir ewig seën.”+