Eksodus
18 En Jetro, die priester van Miʹdian, Moses se skoonpa,+ het gehoor van alles wat God vir Moses en vir sy volk Israel gedoen het toe Jehovah Israel uit Egipte uitgelei het.+ 2 Jetro, Moses se skoonpa, het Sippoʹra, Moses se vrou, by hom in sy huis laat bly nadat Moses haar na hom toe teruggestuur het 3 saam met haar twee seuns.+ Die een seun se naam was Gersom,*+ want Moses het gesê: “Ek het ’n uitlander geword wat in ’n vreemde land woon.” 4 Die ander seun se naam was Eliëser,* want hy het gesê: “Die God van my vader is my helper. Hy het my van Farao se swaard gered.”+
5 En Jetro, Moses se skoonpa, het saam met Moses se seuns en sy vrou na Moses toe gekom in die wildernis waar hy by die berg van die ware God+ kamp opgeslaan het. 6 Toe het hy Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa, Jetro,+ kom na jou toe saam met jou vrou en haar twee seuns.” 7 Moses het dadelik uitgegaan om sy skoonpa te ontmoet, en hy het neergebuig en hom gesoen. Hulle het mekaar gevra hoe dit gaan, en toe het hulle in die tent ingegaan.
8 Moses het vir sy skoonpa alles vertel wat Jehovah aan Farao en Egipte gedoen het om Israel te help+ en van al die probleme wat hulle op die pad gehad het+ en hoe Jehovah hulle verlos het. 9 Jetro was baie bly oor al die goeie dinge wat Jehovah vir Israel gedoen het deur hulle van Egipte* te red. 10 Toe het Jetro gesê: “Mag Jehovah geloof word, wat julle van Egipte en van Farao gered het, en wat die volk uit Egipte se greep gered het. 11 Nou weet ek dat Jehovah groter is as al die ander gode+ as gevolg van wat hy gedoen het aan diegene wat hoogmoedig was en sy volk sleg behandel het.” 12 Toe het Jetro, Moses se skoonpa, ’n brandoffer en offerandes vir God gebring, en Aäron en al die ouermanne van Israel het ’n maaltyd saam met Moses se skoonpa voor die ware God kom eet.
13 Die volgende dag het Moses soos gewoonlik gaan sit om as regter vir die volk op te tree, en die volk het van die oggend tot die aand voor Moses bly staan. 14 Toe Moses se skoonpa sien wat hy alles vir die volk doen, het hy gevra: “Wat doen jy alles vir die volk? Hoekom sit jy hier alleen met die hele volk wat van die oggend tot die aand voor jou staan?” 15 Moses het vir sy skoonpa gesê: “Omdat die volk na my toe bly kom om God se leiding te vra. 16 Wanneer ’n saak ontstaan, word dit aan my voorgelê, en ek moet tussen die een persoon en die ander oordeel, en ek maak die besluite van die ware God en sy wette bekend.”+
17 Moses se skoonpa het vir hom gesê: “Die manier waarop jy te werk gaan, is nie goed nie. 18 Jy sal beslis uitgeput raak, jy en hierdie volk wat by jou is, want hierdie las is te groot vir jou, en jy kan dit nie alleen dra nie. 19 Luister nou na my. Ek sal vir jou raad gee, en God sal met jou wees.+ Jy moet as verteenwoordiger van die volk voor die ware God dien,+ en jy moet die sake voor die ware God bring.+ 20 Jy moet hulle die wetsvoorskrifte en die wette leer+ en aan hulle bekend maak watter weg hulle moet volg en wat hulle moet doen. 21 Maar jy moet uit die volk bekwame manne+ kies wat God vrees, betroubare manne wat oneerlike wins haat.+ Stel hulle oor die volk aan as hoofde oor 1 000, hoofde oor 100, hoofde oor 50 en hoofde oor 10.+ 22 Wanneer sake ontstaan,* moet hulle as regters optree vir die volk, en hulle moet al die moeilike sake voor jou bring,+ maar hulle moet al die klein sake self hanteer. Maak dit vir jou makliker deur hulle toe te laat om die las saam met jou te dra.+ 23 As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy die las kan dra en sal almal tevrede huis toe gaan.”
24 Moses het onmiddellik na sy skoonpa geluister en alles gedoen wat hy gesê het. 25 Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel – hoofde oor 1 000, hoofde oor 100, hoofde oor 50 en hoofde oor 10. 26 Hulle het dus as regters vir die volk opgetree wanneer sake ontstaan het. Hulle het die moeilike sake na Moses toe gebring,+ maar hulle het elke klein saak self hanteer. 27 Daarna het Moses van sy skoonpa afskeid geneem,+ en sy skoonpa het na sy land teruggegaan.