Levitikus
24 Jehovah het verder vir Moses gesê: 2 “Beveel die Israeliete om vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die ligte te bring, om die lampe voortdurend aan die brand te hou.+ 3 Aäron moet reël dat die lampe wat buite die gordyn* van die Getuienis in die tent van samekoms is, altyd voor Jehovah brand, van die aand tot die oggend toe. Dit is ’n permanente wetsbepaling vir julle en julle nageslag. 4 Hy moet sorg dat die lampe op die lampstaander+ van suiwer goud altyd in orde is voor Jehovah.
5 “Jy moet fynmeel neem en 12 ringvormige brode daarmee bak. Twee tiendes van ’n efa* moet vir elke brood gebruik word. 6 Jy moet hulle in twee stapels, ses in ’n stapel,+ op die tafel van suiwer goud voor Jehovah neersit.+ 7 Jy moet suiwer wierook op elke stapel sit, en dit sal ’n simbool van die brode+ wees, ’n vuuroffer aan Jehovah. 8 Hy moet dit gereeld, op elke Sabbatdag, voor Jehovah regsit.+ Dit is ’n permanente verbond met die Israeliete. 9 Dit moet Aäron en sy seuns s’n word,+ en hulle moet dit op ’n heilige plek eet,+ want dit is iets besonder heiligs vir hom uit Jehovah se vuuroffers, as ’n permanente wetsvoorskrif.”
10 Onder die Israeliete was daar ’n seun van ’n Israelitiese vrou en ’n Egiptiese man,+ en hy en ’n Israelitiese man het in die kamp met mekaar begin baklei. 11 Die seun van die Israelitiese vrou het die Naam* begin laster en vervloek.+ Daarom het hulle hom na Moses toe gebring.+ Terloops, sy ma was Seʹlomit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan. 12 Hulle het hom in aanhouding geplaas totdat Jehovah se besluit aan hulle bekend gemaak is.+
13 Toe het Jehovah vir Moses gesê: 14 “Bring die persoon wat die vloek uitgespreek het, uit tot buite die kamp, en almal wat hom gehoor het, moet hulle hande op sy kop lê, en dan moet die hele gemeenskap van Israel hom met klippe doodgooi.+ 15 En jy moet vir die Israeliete sê: ‘As enigiemand sy God vervloek, moet hy verantwoordelik gehou word vir sy sonde. 16 Die persoon wat Jehovah se naam gelaster het, moet dus vir seker doodgemaak word.+ Die hele gemeenskap van Israel moet hom beslis met klippe doodgooi. Die uitlander wat onder julle woon sowel as die gebore Israeliet moet doodgemaak word as hy die Naam laster.
17 “‘As iemand ’n mens se lewe neem, moet hy vir seker doodgemaak word.+ 18 Enigiemand wat ’n mak dier doodslaan, moet daarvoor vergoed, lewe vir lewe. 19 As iemand sy medemens beseer, moet daar aan hom gedoen word net soos hy gedoen het.+ 20 Breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand – wat hy gedoen het, moet aan hom gedoen word.+ 21 Iemand wat ’n dier doodslaan, moet daarvoor vergoed,+ maar iemand wat ’n mens doodslaan, moet doodgemaak word.+
22 “‘Dieselfde regterlike bevel moet vir julle geld – vir ’n uitlander wat onder julle woon sowel as vir ’n gebore Israeliet,+ want ek is Jehovah julle God.’”
23 Moses het toe met die Israeliete gepraat, en hulle het die persoon wat die vloek uitgespreek het, uitgebring tot buite die kamp, en hulle het hom met klippe doodgegooi.+ So het die Israeliete gedoen net soos Jehovah Moses beveel het.