Volgens Lukas
21 En toe hy opkyk, het hy die rykes hulle bydraes in die skatkiste sien gooi.+ 2 Toe het hy gesien dat ’n arm weduwee twee muntstukkies van baie min waarde* ingooi,+ 3 en hy het gesê: “Ek verseker julle dat hierdie arm weduwee meer as hulle almal ingegooi het.+ 4 Want hulle almal het bydraes ingegooi uit hulle oorvloed, maar al is sy baie arm, het sy alles ingegooi waarvan sy moes lewe.”+
5 Later, toe party oor die tempel praat, hoe dit met pragtige stene en toegewyde dinge versier is,+ 6 het hy gesê: “Die dae kom wanneer al hierdie dinge wat julle sien, afgebreek sal word. Daar sal nie ’n klip op ’n klip gelos word nie.”+ 7 Toe het hulle vir hom gevra: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat sal die teken wees dat al hierdie dinge gaan plaasvind?”+ 8 Hy het gesê: “Pasop dat julle nie mislei word nie,+ want baie sal kom en my naam gebruik en sê: ‘Dit is ek,’ en: ‘Die vasgestelde tyd is naby.’ Moenie agter hulle aan gaan nie.+ 9 En wanneer julle van oorloë en oproere hoor, moet julle nie bang word nie. Want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde sal nie onmiddellik kom nie.”+
10 Toe het hy vir hulle gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan+ en koninkryk teen koninkryk.+ 11 Daar sal groot aardbewings wees, en voedseltekorte en vreeslike siektes op die een plek ná die ander.+ Mense sal skrikwekkende dinge sien, en daar sal groot tekens van die hemel af wees.
12 “Maar voordat al hierdie dinge gebeur, sal mense teen julle optree en julle vervolg+ en julle aan die sinagoges en die tronke oorlewer. Julle sal ter wille van my naam voor konings en goewerneurs gebring word.+ 13 Dit sal daartoe lei dat julle ’n getuienis gee. 14 Besluit dus in julle harte om nie vooraf te oefen hoe julle julle gaan verdedig nie,+ 15 want ek sal vir julle woorde en wysheid gee, wat al julle teenstanders saam nie sal kan weerstaan of bevraagteken nie.+ 16 Wat meer is, julle sal selfs deur ouers en broers en familielede en vriende oorgelewer* word, en hulle sal party van julle doodmaak,+ 17 en julle sal deur alle mense gehaat word as gevolg van my naam.+ 18 Maar nie eers ’n haar op julle koppe sal verlore gaan nie.+ 19 Deur julle volharding sal julle julle lewens red.+
20 “Maar wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërmagte omsingel is,+ moet julle weet dat haar verwoesting naby gekom het.+ 21 Laat die mense wat in Judeʹa is, dan na die berge begin vlug,+ en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die platteland is, nie daar ingaan nie, 22 want in daardie dae sal daar regverdig geoordeel en gestraf word,* sodat alles wat geskryf staan, vervul kan word. 23 Dit sal ’n verskriklike tyd wees vir die swanger vrouens en vir dié wat in daardie dae ’n baba borsvoed!+ Want die mense in die land sal baie ly, en hierdie volk sal swaar gestraf word. 24 Hulle sal met die swaard doodgemaak word en as gevangenes na al die nasies weggeneem word,+ en Jerusalem sal deur die nasies* vertrap word totdat die vasgestelde tye van die nasies* verby is.+
25 “En daar sal tekens in die son en maan en sterre wees,+ en die nasies van die aarde sal bang wees en sal nie weet wat om te doen nie as gevolg van die gedreun en onstuimigheid van die see. 26 Mense sal flou word van vrees en spanning as gevolg van die dinge wat oor die bewoonde aarde kom, want die kragte van die hemel sal geskud word. 27 En dan sal hulle die Seun van die mens+ met krag en groot heerlikheid in ’n wolk sien kom.+ 28 Maar wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle koppe op, want julle verlossing kom nader.”
29 Toe het hy vir hulle ’n illustrasie vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome.+ 30 Wanneer julle sien dat hulle nuwe blare kry, weet julle dat die somer nou naby is. 31 Net so moet julle, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat die Koninkryk van God naby is. 32 Ek verseker julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ’n einde kom voordat alles gebeur nie.+ 33 Hemel en aarde sal verdwyn, maar my woorde sal nooit verdwyn nie.+
34 “Maar pasop dat julle harte nooit oorweldig word deur te veel te eet en te veel te drink+ en deur die bekommernisse van die lewe nie.+ Anders sal hierdie dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom 35 soos ’n strik.+ Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. 36 Bly dus wakker+ en doen altyd smeekgebede+ sodat julle veilig kan kom deur hierdie dinge wat gaan gebeur en voor die Seun van die mens sal kan staan.”+
37 Gedurende die dag het hy mense in die tempel geleer, maar in die aand het hy uitgegaan na die berg wat die Olyfberg genoem word en die hele nag daar gebly. 38 En die hele volk het vroeg in die oggend na hom toe gekom om in die tempel na hom te luister.