Deuteronomium
14 “Julle is kinders van Jehovah julle God. Julle mag nie julleself sny+ of julle voorkop kaal skeer vir ’n dooie persoon nie.+ 2 Want julle is ’n heilige volk+ vir Jehovah julle God, en Jehovah het julle uitgekies om sy volk te word, sy spesiale eiendom,* uit al die volke wat op die oppervlak van die aarde is.+
3 “Julle mag niks eet wat afstootlik is nie.+ 4 Julle mag die volgende diere eet:+ die bul, die skaap, die bok, 5 die takbok, die gasel, die reebok, die wilde bok, die wildsbok, die wilde skaap en die bergskaap. 6 Julle mag enige dier eet waarvan die hoewe heeltemal gesplete is en wat herkou. 7 Maar julle mag nie die volgende diere eet wat herkou of wat gesplete hoewe het nie: die kameel, die haas en die klipdassie, want hulle herkou maar het nie gesplete hoewe nie. Hulle is vir julle onrein.+ 8 En ook die vark, want dit het gesplete hoewe, maar dit herkou nie. Dit is vir julle onrein. Julle mag nie hulle vleis eet of aan hulle karkasse raak nie.
9 “Julle mag die volgende eet van alles wat in die waters is: Julle mag enigiets eet wat vinne en skubbe het.+ 10 Maar julle mag niks eet wat geen vinne en skubbe het nie. Dit is vir julle onrein.
11 “Julle mag enige rein voël eet. 12 Maar julle mag nie die volgende eet nie: die arend, die visvalk, die swartaasvoël,+ 13 die rooiwou, die swartwou, elke soort wou, 14 elke soort kraai, 15 die volstruis, die uil, die meeu, elke soort valk, 16 die steenuil, die langooruil, die swaan, 17 die pelikaan, die aasvoël, die kormorant, 18 die ooievaar, elke soort reier, die hoep-hoep en die vlermuis. 19 Elke insek met vlerke is ook vir julle onrein. Hulle mag nie geëet word nie. 20 Julle mag enige rein vlieënde dier eet.
21 “Julle mag geen dier eet wat dood gevind is nie.+ Julle mag dit gee vir die uitlander wat in julle stede* onder julle woon, en hy mag dit eet, of dit kan aan ’n uitlander verkoop word. Want julle is ’n heilige volk vir Jehovah julle God.
“Jy mag nie ’n boklam in sy ma se melk kook nie.+
22 “Jy moet vir seker ’n tiende gee van alles wat jou saad jaar ná jaar op die landerye voortbring.+ 23 Jy moet voor Jehovah jou God die tiendes eet van jou graan, jou nuwe wyn, jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee op die plek wat hy vir sy naam uitkies,+ sodat jy kan leer om Jehovah jou God altyd te vrees.+
24 “Maar as die reis vir jou te lank is en jy dit nie kan vervoer na die plek wat Jehovah jou God uitkies as die plek vir sy naam nie,+ omdat dit ver van jou af is (want Jehovah jou God sal jou seën), 25 dan kan jy dit verkoop en met die geld in jou hand reis na die plek wat Jehovah jou God sal uitkies. 26 Dan kan jy met die geld enigiets koop wat jy begeer – beeste, skape, bokke, wyn en ander alkohol en enigiets wat jy wil hê. En jy moet daar voor Jehovah jou God eet en bly wees, jy en jou huisgesin.+ 27 En moenie die Leviet wat in julle stede is,+ afskeep nie, want hy het geen deel of erfdeel saam met julle nie.+
28 “Aan die einde van elke derde jaar moet jy die hele tiende van jou opbrengs vir daardie jaar uitbring en dit in julle stede neersit.+ 29 Dan sal die Leviet, wat geen deel of erfdeel saam met julle het nie, die uitlander wat onder julle woon, die weeskind* en die weduwee wat in julle stede is, kom en eet en versadig word,+ sodat Jehovah jou God jou kan seën in alles wat jy doen.+