Josua
5 Toe al die konings van die Amoriete+ wat aan die westekant van die Jordaanrivier* was en al die konings van die Kanaäniete+ wat by die see was, gehoor het dat Jehovah die water van die Jordaanrivier voor die Israeliete laat opdroog het sodat hulle kon deurgaan, het hulle baie bang geword,*+ en hulle het heeltemal moed verloor* as gevolg van die Israeliete.+
2 Op daardie stadium het Jehovah vir Josua gesê: “Maak vir jou messe van vuurklip en besny+ die manne van Israel weer, ’n tweede keer.” 3 Toe het Josua vir hom messe van vuurklip gemaak en die manne van Israel by Giʹbeat-Haäralot* besny.+ 4 Josua het hulle besny omdat al die manne van die volk wat Egipte verlaat het, al die manne wat oud genoeg was om te veg, in die wildernis gesterf het nadat hulle Egipte verlaat het.+ 5 Almal wat Egipte verlaat het, was besny, maar almal wat op pad in die wildernis gebore is toe hulle Egipte verlaat het, was nie besny nie. 6 Die Israeliete het 40 jaar+ lank deur die wildernis getrek totdat die hele nasie uitgesterf het, dit wil sê die manne wat oud genoeg was om te veg en wat Egipte verlaat het en wat nie Jehovah se stem gehoorsaam het nie.+ Jehovah het vir hulle gesweer dat hy hulle nooit die land sou laat sien+ wat Jehovah aan hulle voorvaders met ’n eed belowe het om aan ons te gee nie,+ ’n land wat oorloop van melk en heuning.+ 7 Toe het hy hulle seuns hulle plek laat inneem.+ Josua het hulle besny. Hulle was nie besny nie omdat hulle nie gedurende die reis besny is nie.
8 Toe hulle die hele nasie klaar besny het, het hulle daar in die kamp gebly totdat hulle herstel het.
9 Daarna het Jehovah vir Josua gesê: “Vandag het ek die skande van Egipte van julle af weggerol.” Daarom word daardie plek tot vandag toe Gilgal*+ genoem.
10 Die kamp van die Israeliete het in Gilgal gebly, en hulle het die Pasga gehou op die 14de dag van die maand,+ in die aand, op die woestynvlaktes van Jeʹrigo. 11 En op daardie selfde dag, die dag ná die Pasga, het hulle van die opbrengs van die land begin eet, naamlik ongesuurde brode+ en geroosterde graan. 12 En die volgende dag, nadat hulle van die opbrengs van die land geëet het, het die manna opgehou. Die Israeliete het nie meer manna gekry nie,+ want hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän begin eet.+
13 Toe Josua naby Jeʹrigo was, het hy opgekyk en ’n man+ voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand.+ Josua het na hom toe geloop en vir hom gevra: “Is jy aan ons kant of aan die kant van ons vyande?” 14 Hierop het hy gesê: “Ek* het gekom as bevelvoerder* van Jehovah se leërmag.”+ Toe het Josua gekniel en met sy gesig na die grond toe neergebuig en vir hom gevra: “Wat wil my heer vir sy kneg sê?” 15 Die bevelvoerder van Jehovah se leërmag het Josua geantwoord: “Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is heilig.” Josua het dit dadelik gedoen.+