Josua
7 Maar die Israeliete was ontrou, want hulle was ongehoorsaam aan die bevel oor wat vernietig moes word, want Agan,+ die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die goed gevat wat vernietig moes word.+ Daarom het Jehovah se woede teen die Israeliete opgevlam.+
2 Toe het Josua manne van Jeʹrigo af uitgestuur na Ai,+ wat naby Bet-Awen is, oos van Bet-El,+ en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.” Die manne het Ai dus gaan verken. 3 Toe hulle na Josua teruggekeer het, het hulle vir hom gesê: “Dit is nie nodig vir al die manne om te gaan nie. Sowat 2 000 of 3 000 manne is genoeg om Ai te verslaan. Moenie al die manne moeg maak deur hulle soontoe te stuur nie, want daar is min mense wat daar woon.”
4 Toe het omtrent 3 000 manne soontoe gegaan, maar hulle moes vir die manne van Ai vlug.+ 5 Die manne van Ai het 36 manne doodgemaak, en hulle het hulle van buite die stadspoort tot by Sebaʹrim* agternagesit en hulle op die afdraand bly doodmaak. Die volk het dus heeltemal moed verloor.*
6 Toe het Josua sy klere geskeur en met sy gesig na die grond toe voor die Ark van Jehovah neergeval, hy en die ouermanne van Israel, en hulle het tot die aand toe daar gebly en stof op hulle koppe bly gooi. 7 Josua het gesê: “Ag, Soewereine Heer Jehovah, hoekom het u hierdie volk al die pad oor die Jordaanrivier gebring net om ons in die hand van die Amoriete te gee om vernietig te word? As ons maar net tevrede was om aan die ander kant* van die Jordaanrivier te bly! 8 Verskoon my, o Jehovah, maar wat kan ek sê noudat Israel gevlug het* vir sy vyande? 9 Wanneer die Kanaäniete en al die inwoners van die land hiervan hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitwis, en wat sal u omtrent u groot naam doen?”+
10 Jehovah het Josua geantwoord: “Staan op! Hoekom lê jy op die grond? 11 Israel het gesondig. Hulle het die verbond verbreek+ wat ek hulle beveel het om te hou. Hulle het van die goed gevat wat vernietig moes word.+ Hulle het dit gesteel+ en dit in die geheim by hulle eie besittings gesit.+ 12 Daarom sal die Israeliete nie hulle vyande kan oorwin nie. Hulle sal van hulle vyande af wegvlug, want hulle is nou iets wat vernietig moet word. Ek sal nie weer met julle wees tensy julle dit wat vernietig moet word, onder julle uitroei nie.+ 13 Staan op en heilig die volk!+ Sê vir hulle: ‘Heilig julle vir môre, want dit is wat Jehovah, die God van Israel, sê: “Dit wat vernietig moet word, is onder julle, o Israel. Julle sal nie julle vyande kan oorwin tensy julle ontslae raak van dit wat vernietig moet word nie. 14 Julle moet môreoggend stam vir stam bymekaarkom, en die stam wat Jehovah kies,+ sal nader kom, familie vir familie, en die familie wat Jehovah kies, sal nader kom, huisgesin vir huisgesin, en die huisgesin wat Jehovah kies, sal nader kom, man vir man. 15 En die een wat gevang word met die items wat vernietig moet word, sal verbrand word,+ hy en alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van Jehovah verbreek het+ en omdat hy iets skandeliks in Israel gedoen het.”’”
16 Toe het Josua die volgende oggend vroeg opgestaan en Israel stam vir stam laat nader kom, en die stam van Juda is gekies. 17 Hy het die families van Juda laat nader kom, en toe is die familie van die Seragiete+ gekies. Daarna het hy die familie van die Seragiete laat nader kom, man vir man, en toe is Sabdi gekies. 18 Laastens het hy Sabdi se huisgesin laat nader kom, man vir man, en Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, is gekies.+ 19 Toe het Josua vir Agan gesê: “My seun, gee asseblief eer aan Jehovah, die God van Israel, en erken jou skuld aan hom. Sê asseblief vir my wat jy gedoen het. Moet dit nie vir my wegsteek nie.”
20 Agan het Josua geantwoord en gesê: “Dit is waar. Ek is die een wat teen Jehovah, die God van Israel, gesondig het, en dit is wat ek gedoen het: 21 Toe ek ’n mooi ampskleed uit Siʹnear+ tussen die buit sien, en 200 sikkels* silwer en een goudstaaf wat 50 sikkels weeg, wou ek dit hê, en toe vat ek dit. Dit is in die grond onder my tent weggesteek, en die geld lê daaronder.”
22 Josua het dadelik boodskappers gestuur, en hulle het na die tent gehardloop, en die kleed was inderdaad in sy tent weggesteek, met die geld daaronder. 23 Toe het hulle die items uit die tent geneem en dit na Josua en al die Israeliete gebring en dit voor Jehovah neergesit. 24 Josua en die hele Israel saam met hom het Agan,+ die seun van Serag, toe geneem, sowel as die silwer, die ampskleed, die goudstaaf,+ sy seuns, sy dogters, sy bul, sy donkie, sy kudde, sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hulle na die Agor-vallei+ gebring. 25 Josua het gesê: “Hoekom het jy rampspoed* oor ons gebring?+ Vandag gaan Jehovah rampspoed oor jou bring.” Toe het die hele Israel hom met klippe doodgegooi,+ en daarna het hulle hulle verbrand.+ So is hulle almal met klippe doodgegooi. 26 En hulle het hom bedek met ’n groot hoop klippe wat tot vandag toe nog daar is. Toe het Jehovah se brandende woede bedaar.+ Daarom word daardie plek tot vandag toe die Agor-vallei* genoem.