Woensdag 27 Maart
[Soek] eers die Koninkryk. – Matt. 6:33.
Die dissipels was baie hartseer toe Jesus gesterf het. Hulle het nie net hulle geliefde vriend verloor nie, maar hulle het ook gevoel dat hulle hulle hoop verloor het (Luk. 24:17-21). Maar toe Jesus aan hulle verskyn het, het hy die tyd geneem om hulle te help verstaan hoe hy Bybelprofesieë vervul het. Hy het hulle ook ’n belangrike werk gegee om te doen (Luk. 24:26, 27, 45-48). Toe Jesus hemel toe gegaan het, was die dissipels nie meer hartseer nie, maar eerder baie vreugdevol. Hulle was baie gelukkig omdat hulle geweet het dat Jesus lewe en dat hy hulle sal help met die werk wat hy vir hulle gegee het om te doen. Hulle vreugde het hulle gemotiveer om Jehovah te bly loof (Luk. 24:52, 53; Hand. 5:42). Om Jesus se dissipels na te volg beteken dat ons God se Koninkryk eerste in ons lewe stel. Al het ons volharding nodig om Jehovah te bly dien, belowe hy om ons ryklik te seën as ons dit doen. – Spr. 10:22. w23.01 30-31 ¶15-16
Bybelleesgedeelte vir Gedenkmaal: (Gebeure in die dag: 16 Nisan) Markus 16:2-8
Donderdag 28 Maart
Tot stof sal jy terugkeer. – Gen. 3:19.
Ons wil beslis nie dieselfde fout maak wat Adam en Eva gemaak het nie. As ons nie daardie selfde fout wil maak nie, moet ons aanhou om meer oor Jehovah te leer, sy eienskappe waardeer en probeer verstaan hoe hy dink. As ons dit doen, sal ons liefde vir Jehovah beslis sterker word. Dink aan Abraham. Hy was baie lief vir Jehovah. Selfs wanneer dit vir hom moeilik was om Jehovah se besluite te verstaan, het hy nie daarteen gerebelleer nie. Hy het eerder probeer om Jehovah beter te leer ken. Byvoorbeeld, toe Abraham uitgevind het dat Jehovah Sodom en Gomorra wou vernietig, was hy eers bang dat “die Regter van die hele aarde” die regverdiges saam met die goddeloses sou vernietig. Dit het nie vir Abraham sin gemaak nie, en daarom het hy Jehovah nederig ’n hele paar vrae gevra. Jehovah het hom geduldig geantwoord. Uiteindelik het Abraham besef dat Jehovah die harte van elke mens ondersoek en dat Hy nooit die onskuldige saam met die skuldige straf nie. – Gen. 18:20-32. w22.08 28 ¶9-10
Vrydag 29 Maart
Die betroubare persoon kan iets vertroulik hou. – Spr. 11:13.
In 455 VHJ, nadat goewerneur Nehemia die mure van Jerusalem herbou het, het hy gesoek na betroubare manne wat goed vir die stad sou sorg. Nehemia het Hananja as die hoof van die Vesting gekies. Die Bybel beskryf Hananja as “’n baie betroubare man [wat] die ware God meer gevrees [het] as baie ander mense” (Neh. 7:2). Liefde vir Jehovah en ’n vrees om hom seer te maak, het Hananja beweeg om enige toewysing wat hy gekry het, ernstig op te neem. Daardie eienskappe sal ons ook help om betroubaar te wees in ons diens aan God. Kyk na die voorbeeld van Tigikus, ’n betroubare vriend van die apostel Paulus. Paulus het op Tigikus staatgemaak en hom beskryf as ’n “getroue bedienaar” (Ef. 6:21, 22). Paulus het hom nie net vertrou om briewe vir die broers in Efese en Kolosse te neem nie, maar ook om hulle aan te moedig en te vertroos. Tigikus herinner ons aan die getroue, betroubare manne wat vandag na ons geestelike behoeftes omsien. – Kol. 4:7-9. w22.09 9-10 ¶5-6