Woensdag 17 April
Probeer . . . om altyd ’n skoon gewete voor God en mense te hê. – Hand. 24:16.
Ons baseer baie van ons besluite oor ons gesondheid en mediese behandeling op die dinge wat ons uit die Bybel geleer het (1 Tim. 3:9). Wanneer ons besluite maak en met ander praat oor die besluite wat ons gemaak het, moet ons onthou wat Filippense 4:5 sê: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” Wanneer ons redelik is, is ons nie te bekommerd oor ons gesondheid nie. Ons is lief vir en respekteer ons broers en susters, selfs as die besluite wat hulle maak, anders is as ons s’n (Rom. 14:10-12). Ons wys dat ons dankbaar is teenoor Jehovah, die Bron van lewe, deur ons lewe te beskerm en hom ons bes te gee (Op. 4:11). Vir nou word ons siek en tref rampe ons. Maar dit is nie die lewe wat ons Skepper vir ons wou hê nie. Binnekort sal hy ons die ewige lewe gee sonder pyn en die dood (Op. 21:4). Intussen geniet ons dit om te lewe en om ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, te dien! w23.02 25 ¶17-18
Donderdag 18 April
U koninkryk is verdeel en aan die Mede en die Perse gegee. – Dan. 5:28.
Jehovah het duidelik gewys dat hy meer gesag as “die hoër owerhede” het (Rom. 13:1). Kom ons kyk na drie voorbeelde. Farao van Egipte het Jehovah se volk gevange geneem en oor en oor geweier om hulle vry te laat. Maar God het hulle bevry en Farao in die Rooisee laat verdrink (Eks. 14:26-28; Ps. 136:15). Koning Belsasar van Babilon het ’n fees gehou en “in opstand gekom teen die Here van die hemel” en “gode van silwer en goud . . . geloof” in plaas van Jehovah (Dan. 5:22, 23). Maar God het daardie arrogante man verneder. Belsasar is “daardie selfde nag” doodgemaak, en sy koninkryk is aan die Mede en die Perse gegee (Dan. 5:30, 31). Koning Herodes Agrippa I van Palestina het die apostel Jakobus laat doodmaak en toe die apostel Petrus in die tronk gegooi met die doel om hom ook dood te maak. Maar Jehovah het gekeer dat Herodes sy plan uitvoer. “Die engel van Jehovah [het] hom getref”, en hy het gesterf. – Hand. 12:1-5, 21-23. w22.10 15 ¶12
Vrydag 19 April
Ek sal na julle luister. – Jer. 29:12.
Terwyl ons lees oor hoe Jehovah in die verlede gesorg het vir dié wat lojaal aan hom was, sal ons hoop al hoe sterker word. Alles in God se Woord was “geskryf sodat ons daaruit kan leer, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting uit die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Dink na oor hoe Jehovah sy beloftes gehou het. Dink aan wat God vir Abraham en Sara gedoen het. Hulle het ’n ouderdom bereik waar hulle nie meer kinders kon kry nie. Maar God het hulle belowe dat hulle ’n kind sou hê (Gen. 18:10). Hoe het Abraham gereageer? Die Bybel sê hy het “geloof gehad dat hy die vader van baie nasies sou word” (Rom. 4:18). Al het Abraham nie geweet hoe God se belofte sou kon waar word nie, het hy die vertroue gehad dat Jehovah Sy belofte sou vervul. Daardie getroue man was nie teleurgestel nie (Rom. 4:19-21). Sulke verslae leer ons dat ons altyd op Jehovah kan vertrou om sy beloftes te vervul. w22.10 27 ¶13-14