Maandag 18 Maart
Hierdie mense kom in opstand teen die bevele van die keiser. – Hand. 17:7.
Die nuwe gemeente in Tessalonika is erg teëgestaan. ’n Groep teenstanders het “party broers na die stadsleiers toe gesleep” (Hand. 17:6). Kan jy jouself net indink hoe bang hierdie nuwe Christene was? Hulle kon minder in hulle diens aan Jehovah begin doen het, maar die apostel Paulus wou nie hê dat dit moes gebeur nie. Hy het seker gemaak dat daar goed vir die nuwe gemeente gesorg word. Paulus het die Tessalonisense herinner: “Ons het Timoteus, ons broer . . . gestuur om julle standvastig te maak en julle in julle geloof te vertroos, sodat niemand deur hierdie moeilike tye verswak word nie” (1 Tess. 3:2, 3). Timoteus het gesien hoe Paulus die broers in Listra versterk. Omdat Timoteus gesien het hoe Jehovah hulle gehelp het, kon hy sy nuwe broers en susters verseker dat alles ook vir hulle goed sou uitdraai. – Hand. 14:8, 19-22; Heb. 12:2. w22.08 21 ¶4
Dinsdag 19 Maart
Ons [verkry] deur hom die lewe. – 1 Joh. 4:9.
In die laat 19de eeu het ’n groep Bybelstudente wat deur Charles Taze Russell gelei is, begin om ’n deeglike studie van die Bybel te maak. Hulle wou weet wat Jesus se offerande regtig beteken en hoe sy dood herdenk moet word. Vandag help hulle navorsing ons. Hoe so? Ons verstaan nou wat Jesus se offerande beteken en wat dit vir ons en vir alle mense sal doen (1 Joh. 2:1, 2). Ons het ook geleer dat die Bybel twee vooruitsigte noem vir mense wat God se goedkeuring het – onsterflike lewe in die hemel vir party en ewige lewe op die aarde vir ander. Ons kom nader aan Jehovah terwyl ons leer hoe baie hy ons liefhet en hoe baie Jesus se offerande ons persoonlik help (1 Pet. 3:18). So net soos ons getroue broers van die verlede nooi ons ander om die Gedenkmaal saam met ons te herdenk volgens die patroon wat Jesus ingestel het. w23.01 21 ¶6-7
Bybelleesgedeelte vir Gedenkmaal: (Gebeure ná sononder: 9 Nisan) Markus 14:3-9
Woensdag 20 Maart
Hy het vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. – 2 Kor. 5:15.
Jesus het mense geleer oor die seëninge wat God se Koninkryk sou bring. Ons is dankbaar vir die losprys omdat dit ons toelaat om ’n sterk vriendskap met Jehovah en Jesus te hê. Dié wat geloof in Jesus beoefen, het ook die hoop om vir ewig te lewe en om hulle geliefdes wat gesterf het, weer te sien (Joh. 5:28, 29; Rom. 6:23). Ons het niks gedoen om hierdie seëninge te verdien nie, en ons kan God en Christus ook nooit terugbetaal vir wat hulle vir ons gedoen het nie (Rom. 5:8, 20, 21). Maar ons kan vir hulle wys hoe dankbaar ons is. Hoe? Deur die dinge wat ons het te gebruik om die Koninkrykswerk te ondersteun. Ons kan byvoorbeeld help om geboue vir rein aanbidding te bou en in stand te hou. w23.01 26 ¶3; 27 ¶5
Bybelleesgedeelte vir Gedenkmaal: (Gebeure in die dag: 9 Nisan) Markus 11:1-11