Dit maak Christene gelukkig om te dien
“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—HANDELINGE 20:35.
1. Watter verkeerde gesindheid is vandag algemeen, en waarom is dit skadelik?
GEDURENDE die laaste dekades van die 1900’s is die woorde “ek eerste” dikwels gehoor. Die “ek eerste”-gesindheid is ’n kombinasie van selfsug, gierigheid en ’n gebrek aan besorgdheid oor ander. Ons kan daarvan seker wees dat die “ek eerste”-gesindheid beslis nog in die jaar 2000 bestaan. Hoeveel keer hoor jy die vrae: “Wat kry ek daaruit?” of “Hoe baat ek daarby?” So ’n selfsugtige gesindheid bevorder nie geluk nie. Dit is presies die teenoorgestelde van die beginsel wat Jesus gemeld het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
2. Wat toon dat dit geluk verskaf om te gee?
2 Is dit waar dat dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang? Ja. Dink aan Jehovah God. Hy is “die bron van lewe” (Psalm 36:9, NW). Hy voorsien alles wat ons nodig het om gelukkig en produktief te wees. Trouens, hy is die Bron van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Jehovah, “die gelukkige God”, gee voortdurend (1 Timoteus 1:11). Hy is lief vir sy menseskepping, vir wie hy soveel gee (Johannes 3:16). Dink ook aan ’n mensegesin. As jy ’n ouer is, weet jy hoeveel opofferings dit verg, hoeveel jy moet gee, om ’n kind groot te maak. En baie jare lank is die kind onbewus van die opofferings wat jy maak. Hy aanvaar dit alles as vanselfsprekend. En tog maak dit jou gelukkig om te sien dat jou kind floreer omdat jy op onselfsugtige wyse gegee het. Waarom? Omdat jy hom liefhet.
3. Waarom is dit ’n plesier om Jehovah en ons medegelowiges te dien?
3 Om uit liefde te gee, is eweneens ’n kenmerk van ware aanbidding. Aangesien ons Jehovah en ook ons medegelowiges liefhet, is dit vir ons ’n plesier om hulle te dien, om van onsself vir hulle te gee (Matteus 22:37-39). Enigeen wat Jehovah met selfsugtige beweegredes aanbid, het op die ou end baie min vreugde. Maar diegene wat onselfsugtig dien, wat meer besorg is oor wat hulle kan gee as wat hulle hoop om te ontvang, is inderdaad gelukkig. Hierdie waarheid is duidelik wanneer ons kyk hoe sekere Bybelwoorde wat met ons aanbidding verband hou in die Skrif gebruik word. Ons sal drie van hierdie woorde in hierdie en die volgende artikel bespreek.
Jesus se openbare diens
4. Wat behels “openbare diens” in die Christendom?
4 In die oorspronklike Grieks is een belangrike woord wat met aanbidding te doen het, die woord lei·tour·giʹa, wat in die Nuwe Wêreld-vertaling met “openbare diens” vertaal word. In die Christendom het die woord “liturgie” uit lei·tour·giʹa ontstaan.a Maar die formalistiese liturgieë, of eredienste, van die Christendom is nie werklik ’n nuttige openbare diens nie.
5, 6. (a) Watter openbare diens is in Israel verrig, en met watter voordele? (b) Watter veel voortrefliker openbare diens het dié vervang wat in Israel verrig is, en waarom?
5 Die apostel Paulus het ’n Griekse woord wat verwant is aan lei·tour·giʹa met verwysing na Israel se priesters gebruik. Hy het gesê: “Elke priester [neem] van dag tot dag sy plek in om openbare diens [’n vorm van lei·tour·giʹa] te verrig en om dieselfde offerandes dikwels te bring” (Hebreërs 10:11). Levitiese priesters het ’n baie waardevolle openbare diens in Israel verrig. Hulle het die volk God se Wet geleer en offerandes gebring wat die sondes van die volk bedek het (2 Kronieke 15:3; Maleagi 2:7). Wanneer die priesters en die volk ag geslaan het op Jehovah se Wet, het die nasie rede gehad om vreugdevol te wees.—Deuteronomium 16:15.
6 Dit was ’n groot voorreg vir die Israelitiese priesters om openbare diens onder die Wet te verrig, maar hulle diens het alle waarde verloor toe Israel weens hulle ontrouheid verwerp is (Matteus 21:43). Jehovah het iets veel voortreflikers gereël—die openbare diens wat deur Jesus, die groot Hoëpriester, verrig is. Ons lees van hom: “Hy het sy priesterskap sonder enige opvolgers omdat hy vir ewig bly lewe. Gevolglik kan hy ook dié wat deur hom tot God nader volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit.”—Hebreërs 7:24, 25.
7. Waarom bring Jesus se openbare diens onvergelyklike voordele mee?
7 Jesus is ’n ewige priester sonder enige opvolgers. Net hy kan mense dus volkome red. Hy verrig daardie onvergelyklike openbare diens, nie in ’n mensgemaakte tempel nie, maar in die antitipiese tempel, Jehovah se grootse reëling vir aanbidding wat in 29 G.J. in werking getree het. Jesus dien nou in die Allerheiligste van daardie tempel, in die hemel. Hy is “’n openbare dienaar [lei·tour·gosʹ] van die heiligdom en van die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie” (Hebreërs 8:2; 9:11, 12). Al beklee Jesus ’n baie hoë posisie, is hy nog steeds “’n openbare dienaar”. Hy gebruik sy hoë gesag om te gee, nie om te neem nie. En dit verskaf hom vreugde om op dié wyse te gee. Dit maak deel uit van “die vreugde wat hom voorgehou is” en wat hom versterk het om deur sy hele lewenswandel op aarde heen te volhard.—Hebreërs 12:2.
8. Hoe het Jesus ’n openbare diens verrig wat die Wetsverbond vervang het?
8 Daar is nog ’n aspek van Jesus se openbare diens. Paulus het geskryf: “Jesus [het] ’n uitnemender openbare diens verkry, sodat hy ook die middelaar van ’n dienooreenkomstig beter verbond is, wat wetlik bevestig is op beter beloftes” (Hebreërs 8:6). Moses was die middelaar van die verbond wat die grondslag van Israel se verhouding met Jehovah was (Exodus 19:4, 5). Jesus was die middelaar van ’n nuwe verbond, wat die geboorte van ’n nuwe nasie moontlik gemaak het, “die Israel van God”, wat saamgestel is uit geesgesalfde Christene uit baie nasies (Galasiërs 6:16; Hebreërs 8:8, 13; Openbaring 5:9, 10). Wat ’n uitstekende openbare diens het hy tog verrig! Hoe bly is ons tog om Jesus te ken, ’n openbare dienaar deur wie ons Jehovah op aanneemlike wyse kan aanbid!—Johannes 14:6.
Christene verrig ook openbare diens
9, 10. Wat is party vorme van openbare diens wat deur Christene verrig word?
9 Geen mens verrig ’n openbare diens wat so verhewe is soos dié van Jesus nie. Wanneer gesalfde Christene egter hulle hemelse beloning ontvang, neem hulle hulle plek langs Jesus in en het hulle as hemelse konings en priesters ’n aandeel aan sy openbare diens (Openbaring 20:6; 22:1-5). Tog verrig Christene op aarde wel openbare diens, en hulle put groot vreugde daaruit om dit te doen. Toe daar byvoorbeeld ’n voedseltekort in Palestina was, het die apostel Paulus bydraes van broers in Europa na Joodse Christene in Judea geneem om die noodsituasie te verlig. Dit was ’n openbare diens (Romeine 15:27; 2 Korintiërs 9:12). Vandag verrig Christene met graagte ’n soortgelyke diens, deur hulle broers te hulp te snel wanneer hulle beproewinge, natuurrampe of ander rampspoede ondervind.—Spreuke 14:21.
10 Paulus het na nog ’n openbare diens verwys toe hy geskryf het: “Selfs al word ek soos ’n drankoffer uitgegiet op die offerande en openbare diens waartoe geloof julle gelei het, is ek bly en verheug ek my saam met julle almal” (Filippense 2:17). Paulus se harde werk ten behoewe van die Filippense was ’n openbare diens wat hy met liefde en ywer verrig het. ’n Soortgelyke openbare diens word vandag verrig, veral deur gesalfde Christene, wat as “die getroue en verstandige slaaf” dien en geestelike voedsel op die regte tyd voorsien (Matteus 24:45-47). En as ’n groep is hulle “’n heilige priesterdom” wat die opdrag het “om geestelike offerandes te bring wat vir God aanneemlik is deur Jesus Christus” en om “die voortreflikhede alom bekend [te] maak van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:5, 9). Soos Paulus verheug hulle hulle in sulke voorregte, terwyl hulle hulle ‘uitgiet’ in die nakoming van hulle verantwoordelikhede. En hulle metgeselle, die “ander skape”, ondersteun hulle en neem saam met hulle deel aan die werk om die mensdom van Jehovah en sy voornemens te vertel (Johannes 10:16; Matteus 24:14).b Wat ’n wonderlike en vreugdevolle openbare diens is dit tog!—Psalm 107:21, 22.
Verrig heilige diens
11. Hoe het die profetes Anna ’n goeie voorbeeld vir alle Christene gestel?
11 Nog ’n Griekse woord wat met aanbidding verband hou, is la·treiʹa, wat in die Nuwe Wêreld-vertaling met “heilige diens” vertaal word. Heilige diens het te doen met dade van aanbidding. Die 84-jarige weduwee en profetes Anna word byvoorbeeld beskryf as iemand “wat nooit van die tempel afwesig was nie en nag en dag met vaste en smekinge heilige diens [’n Griekse woord wat verwant is aan la·treiʹa] verrig het” (Lukas 2:36, 37). Anna het Jehovah met standvastigheid gedien. Sy is ’n goeie voorbeeld vir ons almal—oud en jonk, mans en vroue. Net soos Anna ernstig tot Jehovah gebid en hom gereeld by die tempel gedien het, sluit ons heilige diens ook gebed en vergaderingbywoning in.—Romeine 12:12; Hebreërs 10:24, 25.
12. Wat is ’n vername kenmerk van ons heilige diens, en in watter sin is dit ook ’n openbare diens?
12 Die apostel Paulus het ’n vername kenmerk van ons heilige diens genoem toe hy geskryf het: “God, aan wie ek met my gees heilige diens in verband met die goeie nuus oor sy Seun verrig, is my getuie hoe ek altyd sonder ophou in my gebede van julle melding maak” (Romeine 1:9). Ja, die verkondiging van die goeie nuus is nie net ’n openbare diens aan diegene wat dit hoor nie, maar is ook ’n daad van aanbidding aan Jehovah God. Of ons nou ’n horende oor vind of nie, die predikingswerk is heilige diens wat aan Jehovah verrig word. Ons pogings om ander te vertel van ons geliefde hemelse Vader se voortreflike eienskappe en liefdevolle voornemens verskaf ons beslis groot vreugde.—Psalm 71:23.
Waar verrig ons heilige diens?
13. Watter hoop het diegene wat heilige diens in die binneste voorhof van Jehovah se geestelike tempel verrig, en wie is saam met hulle verheug?
13 Paulus het aan gesalfde Christene geskryf: “Laat ons . . . , aangesien ons ’n koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie, voortgaan om onverdiende goedhartigheid te geniet, waardeur ons op welgevallige wyse heilige diens aan God kan verrig met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebreërs 12:28). Die gesalfdes is standvastig in hulle geloof terwyl hulle die Allerhoogste aanbid met die gewisse hoop om die Koninkryk te beërf. Net hulle kan aan hom heilige diens verrig in die Heilige en in die binneste voorhof van Jehovah se geestelike tempel, en hulle sien met gretige verwagting daarna uit om saam met Jesus in die Allerheiligste, die hemel self, te dien. Hulle metgeselle, die “ander skape”-klas, is saam met hulle verheug oor hulle wonderlike hoop.—Hebreërs 6:19, 20; 10:19-22.
14. Hoe vind die groot skare by Jesus se openbare diens baat?
14 Maar wat van daardie ander skape? Soos die apostel Johannes vooruitgesien het, het ’n groot skare van hulle in hierdie laaste dae verskyn, en “hulle het hulle lang gewade gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:14). Dit beteken dat hulle, soos hulle gesalfde medeaanbidders, geloof beoefen in Jesus se openbare diens—sy offerande van sy volmaakte menselewe ten behoewe van die mensdom. Die ander skape vind ook baat by Jesus se openbare diens deurdat hulle “vashou aan [Jehovah se] verbond” (Jesaja 56:6). Nee, hulle is nie partye in die nuwe verbond nie, maar hulle hou daaraan vas deur die wette in verband daarmee te gehoorsaam en met die reëlings saam te werk wat deur middel van die verbond gemaak word. Hulle assosieer met die Israel van God, voed hulle by dieselfde geestelike tafel en werk saam met die lede daarvan deur God in die openbaar te loof en geestelike offerandes te bring wat hom behaag.—Hebreërs 13:15.
15. Waar verrig die groot skare heilige diens, en hoe voel hulle oor hierdie seëning?
15 Daarom word die groot skare gesien waar hulle “voor die troon en voor die Lam staan, geklee in lang wit gewade”. Hulle is ook “voor die troon van God . . . ; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel; en die Een wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle uitsprei” (Openbaring 7:9, 15). In Israel het proseliete in die buitenste voorhof van Salomo se tempel aanbid. Net so ook aanbid die groot skare Jehovah in die buitenste voorhof van sy geestelike tempel. Dit verskaf hulle groot blydskap om daar te dien (Psalm 122:1). Selfs nadat die laaste van hulle gesalfde metgeselle hulle hemelse erfenis ontvang, sal hulle aanhou om aan Jehovah heilige diens te verrig as sy volk.—Openbaring 21:3.
Heilige diens wat onaanvaarbaar is
16. Watter waarskuwings word in verband met heilige diens gegee?
16 In die dae van eertydse Israel moes hulle heilige diens in ooreenstemming met Jehovah se wette verrig (Exodus 30:9; Levitikus 10:1, 2). Net so is daar vandag ook vereistes waaraan ons moet voldoen sodat ons heilige diens vir Jehovah aanneemlik kan wees. Paulus het dus aan die Kolossense geskryf: “[Ons het] nie opgehou . . . om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, sodat julle kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God” (Kolossense 1:9, 10). Dit word nie aan ons oorgelaat om te besluit wat die regte manier is om God te aanbid nie. Juiste Bybelkennis, geestelike insig en godvrugtige wysheid is uiters belangrik. Anders kan sake baie sleg afloop.
17. (a) Hoe is heilige diens in die dae van Moses verdraai? (b) Hoe kan heilige diens vandag verkeerd verrig word?
17 Dink aan die Israeliete in die dae van Moses. Ons lees: “God [het] hom afgekeer en hulle oorgegee om heilige diens aan die leër van die hemel te verrig” (Handelinge 7:42). Daardie Israeliete het gesien watter kragtige dade Jehovah om hulle ontwil verrig het. En tog het hulle hulle tot ander gode gewend toe hulle gedink het dat dit tot hulle voordeel sou wees. Hulle was nie lojaal nie, en lojaliteit is ’n vereiste as ons wil hê dat ons heilige diens God moet behaag (Psalm 18:25, NW). Daar is vandag weliswaar nie baie wat hulle sal wegdraai van Jehovah om sterre of ’n goue kalf te aanbid nie, maar daar is ander vorme van afgodediens. Jesus het ons daarteen gewaarsku om “Rykdom” te dien, en Paulus het hebsug afgodery genoem (Matteus 6:24; Kolossense 3:5). Satan doen hom voor as ’n god (2 Korintiërs 4:4). Sulke vorme van afgodediens is algemeen en is ’n strik. Dink byvoorbeeld aan iemand wat beweer dat hy Jesus volg, maar wat in werklikheid daarna streef om ryk te word of wat eintlik op homself en sy eie idees vertrou. Wie dien hy werklik? Verskil hy enigsins van die Jode van Jesaja se dag wat by Jehovah se naam gesweer het, maar sy groot dade aan onrein afgode toegeskryf het?—Jesaja 48:1, 5.
18. Hoe is heilige diens in die verlede sowel as in ons tyd verkeerd verrig?
18 Jesus het ook gewaarsku: “Die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het” (Johannes 16:2). Saulus, wat die apostel Paulus geword het, het ongetwyfeld gedink dat hy God dien toe hy ‘die moord op Stefanus goedgekeur het’ en “dreiging en moord teen die dissipels van die Here geblaas het” (Handelinge 8:1; 9:1). Vandag beweer party wat etniese suiwering en volksmoord pleeg ook dat hulle God aanbid. Daar is baie mense wat sê dat hulle God aanbid, maar hulle aanbidding is in werklikheid gerig tot die gode van nasionalisme, stamtrots, rykdom, die eie ek of ’n ander godheid.
19. (a) Hoe beskou ons ons heilige diens? (b) Watter soort heilige diens sal ons vreugde verskaf?
19 Jesus het gesê: “Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig” (Matteus 4:10). Hy het met Satan gepraat, maar hoe noodsaaklik is dit tog dat ons almal op sy woorde ag slaan! Om heilige diens aan die Soewereine Heer van die heelal te verrig, is ’n baie groot, vreesinboesemende voorreg. En wat kan gesê word oor die verrigting van openbare diens wat met ons aanbidding verband hou? Om dit tot voordeel van ons medemens te doen, is ’n vreugdevolle werk wat ons groot geluk verskaf (Psalm 41:2, 3; 59:16, NW). Maar sulke diens bring slegs ware geluk mee as dit heelhartig en op die regte manier verrig word. Wie aanbid God waarlik op die regte manier? Wie se heilige diens is vir Jehovah aanneemlik? Ons kan hierdie vrae beantwoord as ons na die derde Bybelwoord kyk wat met ons aanbidding te doen het. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
[Voetnote]
a Die Christendom se liturgieë is gewoonlik kerkdienste of spesifieke rituele, soos die Nagmaal in die Rooms-Katolieke Kerk.
b In Handelinge 13:2 sê die verslag dat profete en onderrigters in Antiogië Jehovah “in die openbaar gedien het” (’n vertaling van ’n Griekse woord wat verwant is aan lei·tour·giʹa). Hierdie openbare diens het heel waarskynlik ingesluit om vir die publiek te getuig.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter voortreflike openbare diens het Jesus verrig?
• Watter openbare diens verrig Christene?
• Wat is Christelike heilige diens, en waar word dit verrig?
• Wat moet ons opdoen as ons wil hê dat ons heilige diens God moet behaag?
[Prent op bladsy 10]
Ouers put groot vreugde daaruit om te gee
[Prente op bladsy 12, 13]
Christene verrig openbare diens wanneer hulle ander help en wanneer hulle die goeie nuus verkondig
[Prent op bladsy 14]
Ons het juiste kennis en insig nodig om seker te wees dat ons heilige diens vir God aanneemlik is