Eksodus
33 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Vertrek van hier af, jy en die volk wat jy uit Egipte uitgelei het. Gaan na die land wat ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed belowe het deur te sê: ‘Ek sal dit aan julle nageslag* gee.’+ 2 Ek sal ’n engel voor julle uit stuur+ en die Kanaäniete, die Amoriete, die Hetiete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete verdryf.+ 3 Gaan na ’n land wat oorloop van melk en heuning.+ Maar ek sal nie saam met julle gaan nie, want julle is ’n hardkoppige volk,+ en ek sal julle dalk op die pad vernietig.”+
4 Toe die volk hierdie harde woorde hoor, het hulle begin treur, en nie een van hulle het juwele of mooi klere gedra nie. 5 Jehovah het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Julle is ’n hardkoppige volk.+ Ek kan binne ’n oomblik deur julle kamp gaan en julle vernietig.+ Moet dus nie juwele of mooi klere dra terwyl ek besluit wat ek met julle gaan doen nie.’” 6 Van die berg Horeb af het die Israeliete dus nie meer hulle juwele gedra nie.
7 En Moses het sy tent geneem en dit buite die kamp opgeslaan, ’n hele ent van die kamp af, en hy het dit ’n tent van samekoms genoem. Elkeen wat Jehovah vir leiding wou vra,+ het uitgegaan na die tent van samekoms, wat buite die kamp was. 8 Sodra Moses na die tent uitgegaan het, het die hele volk opgestaan en het elkeen by die ingang van sy tent gaan staan, en hulle het Moses dopgehou totdat hy in die tent ingegaan het. 9 Sodra Moses in die tent ingegaan het, het die wolkkolom+ afgekom en by die ingang van die tent gaan staan terwyl God met Moses gepraat het.+ 10 Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent sien staan het, het elkeen van hulle opgestaan en by die ingang van sy tent neergebuig. 11 Jehovah het direk* met Moses gepraat,+ net soos een man met ’n ander man sou praat. Wanneer hy na die kamp teruggekeer het, het Josua,+ die seun van Nun, sy dienaar en helper,+ nie die tent verlaat nie.
12 En Moses het vir Jehovah gesê: “Kyk, u sê vir my: ‘Lei hierdie volk,’ maar u het my nie laat weet wie u saam met my sal stuur nie. Wat meer is, u het gesê: ‘Ek ken jou by naam,* en jy geniet ook my goedkeuring.’ 13 Asseblief, as ek u goedkeuring geniet, maak dan u weë aan my bekend,+ sodat ek u kan ken en kan aanhou om u goedkeuring te geniet. Onthou ook dat hierdie nasie u volk is.”+ 14 Toe het God gesê: “Ek sal self saam met jou gaan+ en ek sal jou rus gee.”+ 15 Moses het vir hom gesê: “As u nie self saamgaan nie, moet u ons nie hiervandaan laat wegtrek nie. 16 Hoe sal mense weet dat ek en u volk u goedkeuring geniet? Net as u saam met ons gaan,+ sal dit duidelik wees dat ek en u volk anders is as enige ander volk op die aarde.”+
17 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Ek sal ook doen wat jy vra, want jy geniet my goedkeuring, en ek ken jou by naam.” 18 Toe het Moses gesê: “Laat my asseblief u heerlikheid sien.” 19 Maar hy het gesê: “Ek sal jou al my goedheid laat sien, en ek sal die naam van Jehovah aan jou bekend maak.+ Ek sal my goedkeuring gee aan wie ek my goedkeuring wil gee, en ek sal genade betoon aan wie ek genade wil betoon.”+ 20 Maar hy het bygevoeg: “Jy kan nie my gesig sien nie, want geen mens kan my sien en lewe nie.”
21 Jehovah het verder gesê: “Hier is ’n plek naby my. Gaan staan op die rots. 22 Wanneer ek jou my heerlikheid laat sien, sal ek jou in ’n skeur in die rots sit, en ek sal jou met my hand beskerm totdat ek verbygegaan het. 23 Daarna sal ek my hand wegneem, en jy sal my van agter sien. Maar my gesig kan nie gesien word nie.”+