Die tweede boek van Samuel
18 Dawid het toe die manne getel wat by hom was en hoofde oor 1 000 en hoofde oor 100 oor hulle aangestel.+ 2 En Dawid het ’n derde van die manne onder die bevel van Joab,+ ’n derde onder die bevel* van Joab se broer Abiʹsai,+ die seun van Seruʹja,+ en ’n derde onder die bevel van Ittai,+ die Gittiet, uitgestuur. Toe het die koning vir die manne gesê: “Ek sal ook saam met julle gaan veg.” 3 Maar hulle het gesê: “U moenie gaan veg nie,+ want as ons vlug, sal dit nie vir hulle saak maak* nie. En al sterf die helfte van ons, sal dit nie vir hulle saak maak nie, want u is 10 000 van ons werd.+ Daarom sal dit beter wees as u vir ons hulp vanuit die stad stuur.” 4 Die koning het vir hulle gesê: “Ek sal doen wat julle ook al dink die beste is.” Die koning het toe langs die stadspoort gaan staan, en al die manne het in groepe van 100 en van 1 000 uitgegaan. 5 Die koning het toe vir Joab en Abiʹsai en Ittai hierdie bevel gegee: “Behandel die jong man Absalom goed ter wille van my.”+ Al die manne het gehoor toe die koning die hoofde hierdie bevel in verband met Absalom gee.
6 Die manne het na die veld uitgegaan om teen Israel te veg, en die geveg het in die woud van Eʹfraim plaasgevind.+ 7 Die manne van Israel+ is daar deur die knegte van Dawid verslaan.+ ’n Groot slagting het op daardie dag plaasgevind – 20 000 manne het gesterf. 8 Die geveg het deur die hele streek versprei. En op daardie dag het die woud meer mense doodgemaak as die swaard.
9 Die knegte van Dawid het Absalom uiteindelik teëgekom. Absalom het op ’n muil gery, en die muil het onder die dik takke van ’n groot boom deurgegaan. Absalom se hare het in die groot boom vasgehaak, en hy het in die lug* bly hang terwyl die muil waarop hy gery het, verder gegaan het. 10 Toe het iemand dit gesien en vir Joab+ gesê: “Ek het Absalom in ’n groot boom sien hang.” 11 Joab het vir die man wat dit vir hom vertel het, gesê: “As jy dit gesien het, hoekom het jy hom nie net daar doodgemaak nie? Dan sou ek jou met graagte tien silwerstukke en ’n lyfband gegee het.” 12 Maar die man het vir Joab gesê: “Selfs al sou ek 1 000 silwerstukke ontvang,* sou ek nie my hand vir die koning se seun lig nie. Want ons het gehoor hoe die koning vir u en Abiʹsai en Ittai sê: ‘Sorg dat niemand die jong man Absalom seermaak nie.’+ 13 As ek ongehoorsaam was en hom doodgemaak het,* sou die koning daarvan gehoor het, en u sou my nie beskerm het nie.” 14 Joab het toe gesê: “Ek gaan nie meer tyd hier by jou mors nie!” Toe het hy drie pyle* geneem en dit deur Absalom se hart gesteek terwyl hy nog lewend in die groot boom gehang het. 15 Toe het tien dienaars wat Joab se wapens gedra het, gekom en Absalom doodgemaak.+ 16 Joab het toe op die horing geblaas, en die manne wat Israel agternagesit het, het teruggekom. Dit is hoe Joab die manne teruggeroep het. 17 Hulle het Absalom geneem en hom in ’n diep gat in die woud gegooi en ’n baie groot hoop klippe op hom gepak.+ En die hele Israel het na hulle huise gevlug.
18 Toe Absalom nog gelewe het, het hy ’n pilaar vir homself in die Vallei van die Koning+ opgerig, want hy het gesê: “Ek het nie ’n seun om my naam te laat voortleef nie.”+ Daarom het hy die pilaar na homself vernoem, en dit word tot vandag toe Absalom se Monument genoem.
19 Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok, het gesê: “Laat my asseblief hardloop en die nuus vir die koning gee, want Jehovah het hom geregtigheid gegee deur hom van sy vyande te red.”+ 20 Maar Joab het vir hom gesê: “Jy sal nie vandag die nuus oordra nie. Jy kan op ’n ander dag die nuus oordra, maar nie vandag nie, want die koning se seun het gesterf.”+ 21 Toe het Joab vir ’n Kussiet+ gesê: “Gaan sê vir die koning wat jy gesien het.” Die Kussiet het toe voor Joab gebuig en begin hardloop. 22 Ahiʹmaäs, die seun van Sadok, het weer vir Joab gesê: “Wat ook al gebeur, laat my asseblief ook agter die Kussiet aan hardloop.” Maar Joab het gesê: “My seun, hoekom wil jy gaan as jy geen nuus het om oor te dra nie?” 23 Hy het weer gesê: “Dit maak nie saak nie. Laat my gaan.” Toe het Joab vir hom gesê: “Gaan!” En Ahiʹmaäs het met die pad van die Jordaandistrik gehardloop, en hy het die Kussiet uiteindelik verbygegaan.
24 Dawid het tussen die twee stadspoorte gesit,+ en die wag+ het opgegaan na die dak van die poort by die muur. Hy het uitgekyk en ’n man gesien wat alleen hardloop. 25 Toe het die wag uitgeroep en vir die koning gesê wat hy sien. Die koning het gesê: “As hy alleen is, bring hy nuus.” Terwyl hy al hoe nader gekom het, 26 het die wag nog ’n man sien hardloop. Die wag het toe na die poortwagter uitgeroep: “Kyk! Daar is nog ’n man wat alleen hardloop!” Die koning het gesê: “Daardie man bring ook nuus.” 27 Die wag het gesê: “Die eerste man hardloop soos Ahiʹmaäs,+ die seun van Sadok.” Toe het die koning gesê: “Hy is ’n goeie man, en hy bring goeie nuus.” 28 Ahiʹmaäs het toe na die koning uitgeroep: “Ek het goeie nuus!” En hy het voor die koning gebuig met sy gesig na die grond toe. Toe het hy gesê: “Mag Jehovah u God geloof word, wat die manne aan u oorgelewer het wat teen my heer die koning in opstand gekom het!”*+
29 Maar die koning het gevra: “Gaan dit goed met die jong man Absalom?” Ahiʹmaäs het geantwoord: “Toe Joab vir my en die koning se kneg gestuur het, het ek gesien dat daar iets groots aan die gang is, maar ek weet nie waaroor dit gegaan het nie.”+ 30 Toe het die koning gesê: “Kom staan hier eenkant.” En Ahiʹmaäs het dit gedoen.
31 Toe het die Kussiet daar aangekom+ en gesê: “Dít is die nuus wat ek vir my heer die koning bring: Vandag het Jehovah geregtigheid aan u gegee deur u te red uit die hand van almal wat teen u in opstand gekom het.”+ 32 Maar die koning het vir die Kussiet gevra: “Gaan dit goed met die jong man Absalom?” Toe het die Kussiet gesê: “Mag al die vyande van my heer die koning en almal wat teen u in opstand gekom het en iets slegs aan u wou doen, soos die jong man word!”+
33 Dit het die koning ontstel, en hy het na die dakvertrek bo die poort opgegaan en gehuil. Terwyl hy geloop het, het hy gesê: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek gesterf het, Absalom my seun, my seun!”+