Nehemia
9 Op die 24ste dag van hierdie maand het die Israeliete bymekaargekom. Hulle het gevas terwyl hulle saklinne aangehad het en daar stof op hulle was.+ 2 Dié van Israelitiese herkoms het hulle toe van al die uitlanders afgesonder,+ en hulle het gestaan en hulle eie sondes sowel as die oortredings van hulle vaders bely.+ 3 Toe het hulle van hulle plek opgestaan en gedurende ’n kwart van die dag* uit die Wetboek+ van Jehovah hulle God voorgelees, en gedurende nog ’n kwart van die dag het hulle hulle sondes bely en voor Jehovah hulle God neergebuig.
4 Jeʹsua, Bani, Kadʹmiël, Sebanʹja, Bunni, Serebʹja,+ Bani en Kenaʹni het op die verhoog+ van die Leviete gestaan, en hulle het met ’n harde stem tot Jehovah hulle God uitgeroep. 5 En die Leviete Jeʹsua, Kadʹmiël, Bani, Hasabneʹja, Serebʹja, Hodiʹa, Sebanʹja en Petagʹja het gesê: “Staan op en loof Jehovah julle God tot in alle ewigheid.*+ En laat hulle u glorieryke naam loof, wat groter is as al die seën en lof wat mense kan gee.
6 “U alleen is Jehovah,+ en u het die hemel gemaak, selfs die hoogste hemele en die hele leërmag daarvan, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is. En u hou dit alles aan die lewe, en die leërmag van die hemel buig voor u neer. 7 U is Jehovah, die ware God, wat Abram uitgekies het+ en hom uit Ur+ van die Galdeërs uitgelei het en hom die naam Abraham gegee het.+ 8 U het gesien dat sy hart getrou is voor u,+ en daarom het u ’n verbond met hom gemaak om die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Perissiete, die Jebusiete en die Girgasiete aan hom en aan sy nakomelinge* te gee.+ En u het u beloftes gehou omdat u regverdig is.
9 “U het gesien hoe ons voorvaders in Egipte swaargekry het,+ en u het hulle uitroepe by die Rooisee gehoor. 10 Toe het u tekens en wonderwerke teen Farao en al sy knegte en die hele volk van sy land gedoen,+ want u het geweet dat hulle u volk onderdruk* het.+ U het vir u ’n naam gemaak wat tot vandag toe onthou word.+ 11 U het die see voor hulle verdeel, sodat hulle op droë grond deur die see gegaan het,+ en u het hulle agtervolgers in die dieptes gegooi, soos ’n klip in onstuimige water gegooi word.+ 12 U het hulle gedurende die dag met ’n wolkkolom gelei, en gedurende die nag met ’n vuurkolom, om vir hulle die pad te verlig waarlangs hulle moes trek.+ 13 En u het op die berg Siʹnai neergedaal+ en uit die hemel met hulle gepraat+ en vir hulle regverdige oordele, wette van waarheid,* goeie wetsvoorskrifte en gebooie gegee.+ 14 U het u heilige Sabbat aan hulle bekend gemaak,+ en u het vir hulle gebooie, wetsvoorskrifte en ’n wet deur middel van u kneg Moses gegee. 15 U het vir hulle brood uit die hemel gegee wanneer hulle honger was,+ en u het vir hulle water uit die groot rots gegee wanneer hulle dors was,+ en u het vir hulle gesê om in die land in te gaan wat u met ’n eed aan hulle belowe het* en om dit in besit te neem.
16 “Maar hulle, ons voorvaders, was vermetel*+ en hardkoppig,*+ en hulle wou nie na u gebooie luister nie. 17 Hulle het geweier om te luister+ en het nie gedink aan u buitengewone dade wat u onder hulle gedoen het nie. Hulle het egter hardkoppig geword* en ’n leier aangestel sodat hulle weer slawe in Egipte kon word.+ Maar u is ’n God wat vryelik vergewe,* wat medelye* en genade betoon, wat nie gou kwaad word nie en wat vol lojale liefde* is,+ en u het hulle nie verlaat nie.+ 18 Selfs toe hulle vir hulle ’n metaalbeeld van ’n kalf gemaak het en gesê het: ‘Dit is julle God wat julle uit Egipte gelei het,’+ en hulle baie disrespekvol teenoor u opgetree het, 19 was u selfs in daardie tyd baie genadig teenoor hulle en het u hulle nie in die wildernis verlaat nie.+ Gedurende die dag was die wolkkolom altyd daar om hulle op die pad te lei, en gedurende die nag was die vuurkolom altyd daar om die pad te verlig waarlangs hulle moes trek.+ 20 U het u goeie gees gegee om hulle insig te gee,+ en u het nie u manna van hulle teruggehou nie,+ en u het vir hulle water gegee wanneer hulle dors was.+ 21 En 40 jaar lank het u hulle in die wildernis van kos voorsien.+ Hulle het niks kortgekom nie. Hulle klere het nie stukkend geword nie,+ en hulle voete het nie geswel nie.
22 “U het koninkryke en volke aan hulle gegee en dit stuk vir stuk uitgedeel,+ sodat hulle die land van Sihon,+ dit wil sê die land van die koning van Hesbon,+ sowel as die land van koning Og+ van Basan in besit geneem het. 23 U het hulle kinders so baie soos die sterre van die hemel gemaak.+ Toe het u hulle in die land ingebring wat hulle voorvaders volgens u belofte sou binnegaan en sou besit.+ 24 Hulle kinders het ingegaan en die land in besit geneem,+ en u het die Kanaäniete,+ wat in die land gewoon het, voor hulle onderwerp. U het die konings en die volke van die land in hulle hand gegee, sodat die Israeliete met hulle kon doen net wat hulle wou. 25 Hulle het versterkte stede+ en ’n vrugbare* land+ ingeneem, en hulle het huise vol allerhande goeie dinge in besit geneem, reënputte wat reeds uitgegrawe was, wingerde, olyfboorde+ en ’n oorvloed vrugtebome. Hulle het geëet en het versadig en vet geword, en hulle het die dinge geniet wat u vir hulle uit u groot goedheid gegee het.
26 “Maar hulle het ongehoorsaam geword en teen u in opstand gekom+ en hulle rug op u Wet gedraai.* Hulle het u profete doodgemaak wat hulle gewaarsku het om na u toe terug te keer, en hulle het baie disrespekvol teenoor u opgetree.+ 27 Daarom het u hulle in die hand van hulle teenstanders gegee,+ wat heeltyd vir hulle moeilikheid veroorsaak het.+ Maar hulle het tot u uitgeroep wanneer hulle swaargekry het, en u het vanuit die hemel gehoor, en as gevolg van u groot genade het u vir hulle redders gegee om hulle uit die hand van hulle teenstanders te red.+
28 “Maar sodra hulle verligting gehad het, het hulle weer gedoen wat sleg is voor u,+ en u het hulle in die hand gegee van hulle vyande, wat hulle oorheers* het.+ Dan het hulle teruggekeer en tot u om hulp geroep,+ en u het vanuit die hemel gehoor en hulle keer op keer gered as gevolg van u groot genade.+ 29 U het hulle gewaarsku sodat hulle na u Wet kon terugkeer, maar hulle was vermetel* en het geweier om na u gebooie te luister,+ en hulle het gesondig teen u wetsvoorskrifte, wat lewe beteken vir die een wat dit gehoorsaam.+ Hulle het hulle rug op u gedraai en was hardkoppig,* en hulle het geweier om te luister. 30 U was baie jare lank geduldig met hulle,+ en u het hulle bly waarsku deur u gees, deur middel van u profete, maar hulle het geweier om te luister. Uiteindelik het u hulle in die hand van die volke van die lande gegee.+ 31 Maar in u groot genade het u hulle nie vernietig+ of verlaat nie, want u is ’n God wat medelye* en genade betoon.+
32 “En nou, o ons God, die groot, magtige en ontsagwekkende God, wat sy verbond gehou het en lojale liefde betoon het,+ moenie al die teëspoed ligtelik opneem wat van die dae van die konings van Assiʹrië+ af tot vandag toe oor ons, ons konings, ons leiers,+ ons priesters,+ ons profete,+ ons voorvaders en u hele volk gekom het nie. 33 U was regverdig in alles wat oor ons gekom het, want u het getrou gebly, maar ons het goddelose dinge gedoen.+ 34 Ons konings, ons leiers, ons priesters en ons voorvaders het nie u Wet gehoorsaam nie. Hulle het nie aandag geskenk aan u gebooie of aan u herinneringe* waarmee u hulle gewaarsku het nie. 35 Selfs toe hulle in hulle koninkryk was en die oorvloedige goeie dinge geniet het wat u hulle gegee het en hulle in die uitgestrekte en vrugbare* land was wat u aan hulle gegee het, het hulle u nie gedien nie+ en het hulle nie opgehou om slegte dinge te doen nie. 36 Daarom is ons vandag slawe+ – ja, slawe in die land wat u aan ons voorvaders gegee het en waarvan hulle die opbrengs en die goeie dinge kon eet. 37 Die oorvloedige opbrengs daarvan behoort nou aan die konings wat u as gevolg van ons sondes oor ons aangestel het.+ Hulle doen met ons en ons vee net wat hulle wil, en ons kry baie swaar.
38 “Op grond van dit alles maak ons ’n belofte+ wat ons op skrif stel, en dit word bevestig deur die seël van ons leiers, ons Leviete en ons priesters.”+