Hoe lank kan ons leef?
“TALLE MENSE wat vandag leef, sal die geleentheid hê om baie lank te leef. Selfs onsterflikheid lyk tans moontlik.”
“Daar leef vandag miljoene wat nooit sal sterf nie.”
Wat is die verskil tussen hierdie twee stellings? Die eerste is ’n stelling deur dr. Lawrence E. Lamb, mediese rubriekskrywer en professor, in sy boek Get Ready for Immortality, wat in 1975 uitgegee is. Die tweede is die titel van ’n openbare toespraak en daaropvolgende boek deur J. F. Rutherford, die tweede president van die Wagtoringgenootskap. Die openbare toespraak is vir die eerste keer in 1918 in Los Angeles, Kalifornië, gehou.
Die twee skynbaar eenderse stellings verskil egter grootliks waar dit kom by die redenasie en navorsing daaragter. Dr. Lamb se woorde is tipies van die talle voorstaanders van onsterflikheid. Hierdie persone meen dat vooruitgang in die geneeskunde, met inbegrip van navorsing oor veroudering, binnekort die raaisel van waarom ons oud word, sal oplos en uiteindelik die dood self sal oorwin. Maar al het die hedendaagse wetenskap daarin geslaag om die gemiddelde verwagte lewensduur te verleng en talle te help om beter lewens te lei, bly voorspellings van onsterflikheid net dit—optimistiese voorspellings.
J. F. Rutherford het daarenteen nie voorspellings gemaak wat op die wetenskap of die geneeskunde gegrond is nie. Sy toespraak was op die Bybel gegrond. Hy het deur middel van vervulde Bybelprofesieë getoon dat die mensdom sy “tyd van die einde” betree het (Daniël 12:4). Hy het toe die aandag gevestig op die Bybelse hoop dat, net soos Noag en sy gesin die einde van die wêreld in hulle dag oorleef het, miljoene die vernietiging van hierdie wêreld sal oorleef en sal voortleef tot in ’n regverdige nuwe wêreld om die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet.—Mattheüs 24:37-39; Openbaring 21:3, 4.
Rutherford se toespraak was vir talle persone in sy gehoor verbasend. Selfs vandag vind talle mense dit onrealisties en moeilik om te glo wanneer daar gepraat word van die ewige lewe op aarde onder die bewind van God se Koninkryk (Psalm 37:10, 11, 29). Maar is wat die Bybel sê oor waarom ons oud word en sterf werklik so ongeloofwaardig? Wat sê dit trouens oor die onderwerp?
Gemaak om te lewe, nie om te sterwe nie
Dit is logies dat die Bybel begin met die verslag oor die begin van menselewe. In die eerste hoofstuk van Genesis lees ons dat nadat God die eerste mensepaar geskep het ‘Hy hulle geseën en vir hulle gesê het: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip’.—Genesis 1:28.
Die eerste mensepaar, Adam en Eva, asook hulle kinders, sou baie lank moes leef om daardie opdrag uit te voer. Maar hoe lank? As ons verder lees in die Bybelboek Genesis, vind ons dat daar nêrens melding gemaak word van enige spesifieke lewensduur wat vir Adam en Eva voorgeskryf is nie. Nogtans was daar een voorwaarde waaraan hulle moes voldoen indien hulle wou voortleef. God het vir Adam gesê: “Van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:17.
Hulle sou dus sterf net as hulle God se gebod veronagsaam het. Andersins het hulle die vooruitsig gehad om vir ewig in daardie aardse Paradys genaamd Eden te lewe. Mense is ongetwyfeld gemaak om te lewe, nie om te sterwe nie.
Die Genesisverslag vertel egter voorts dat die eerste mensepaar verkies het om God se uitdruklike gebod te veronagsaam en sodoende te sondig. Hulle ongehoorsame handelwyse het hulle, en vervolgens hulle nakomelinge, die doodvonnis besorg. Eeue later het die apostel Paulus verduidelik: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”—Romeine 5:12.
Die erflikheidswet bepaal dat Adam en Eva net dit wat hulle self gehad het aan hulle nageslag kon oordra. Soos hulle geskep is, kon hulle volmaakte, ewige lewe aan toekomstige geslagte oordra. Maar noudat hulle eie lewe deur sonde en die dood geskend is, kon hulle nie meer daardie wonderlike erfenis oordra nie. Sonde, onvolmaaktheid en die dood het sedertdien die lewenslot van alle mense geword, ondanks die pogings om die lewensduur van die mens te verleng.
In sekere sin kan dit vergelyk word met ’n rekenaarprogram wat foutief is. Die program sal nie behoorlik funksioneer nie, en die gevolge kan rampspoedig wees, tensy die fout opgespoor en gekorrigeer word. Die mens kon nie die inherente fout opspoor, laat staan nog korrigeer, wat lei tot die wanwerking van ons menseliggame en tot veroudering en die dood nie. Die mens se Skepper, Jehovah God, het egter reëlings getref om dit te korrigeer. Wat is sy oplossing?
God het die volmaakte menselewe gegee van sy Seun, Jesus Christus, “die laaste Adam”, wat dus, in werklikheid, die oorspronklike Adam as ons vader en lewegewer vervang. Daarom, pleks dat hulle ter dood veroordeel word as kinders van die sondaar Adam, kan gehoorsame mense waardig geag word om die ewige lewe as kinders van hulle “Ewige Vader”, Jesus Christus, te ontvang. Jesus self het verduidelik: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê.”—1 Korinthiërs 15:45; Jesaja 9:5; Johannes 3:16; 6:40.
Aan die einde van sy aardse bediening het Jesus Christus, in gebed tot sy hemelse Vader, die grondvereiste om hierdie wonderlike beloning van lewe te verkry, bekendgemaak deur te sê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
“Soos die dae van die bome”
Stel jou voor dat jy ’n sequoiasaad plant en sien hoe dit groei totdat die boom byna honderd meter hoog is, en dat jy jou dwarsdeur sy leeftyd in sy ontwikkeling verlustig. Stel jou dan voor dat jy langer lewe as daardie boom en duisende jare later nog een plant en jou weer eens in die ontwikkeling en prag daarvan verlustig.
Is so ’n gedagte realisties? Dit is inderdaad, want dit is gegrond op die belofte van die mens se Skepper, Jehovah God, wat sê: “Die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome” (Jesaja 65:22). Hierdie belofte help om die vraag te beantwoord oor hoe lank die mens kan leef. Die antwoord is: tot in die oneindige, ja, vir ewig.—Psalm 133:3.
’n Uitnodiging word tans gerig, naamlik: “Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Dit is ’n uitnodiging wat Jehovah God aan alle opregtes van hart rig. Die uitnodiging is om gebruik te maak van God se geestelike voorsienings vir ewige lewe op ’n paradysaarde.
Sal jy hierdie uitnodiging aanvaar? Jou vooruitsigte op langer lewe, ewige lewe, hang af van die keuse wat jy nou doen!
[Venster op bladsy 7]
VERWAGTE LEWENSDUUR
Iemand wat aan die einde van die 18de eeu in Noord-Amerika of Wes-Europa gebore is, kon verwag het om 35 of 40 jaar oud te word. Vandag kan mans en vroue in die Verenigde State verwag om onderskeidelik 71 en 78 jaar oud te word, en soortgelyke vooruitgang is in ander lande gemaak. Ons benut meer van ons potensiaal wat langlewendheid betref. Maar is daar ’n beperking op die lengte van ons verwagte lewensduur?
Daar is niemand in die moderne geskiedenis wat 500, 300 of selfs 200 jaar oud geword het of wat verwag het om so oud te word nie. Ondanks die vooruitgang in die geneeskunde is die verwagte lewensduur vandag nog steeds onder 80. Tog is daar berigte van persone wat 140 of selfs 150 jaar oud geword het. En in Bybelse tye het mense honderde jare oud geword. Is dit blote mites of legendes?
Dit is interessant dat The New Encyclopædia Britannica sê dat “die presiese duur van menselewe onbekend is”. Die artikel verduidelik dat, al aanvaar ons dat die een of ander persoon wel 150 geword het, “daar geen geldige rede is om die moontlikheid te verwerp dat ’n ander persoon dalk 150 jaar en een minuut sal word nie. En as 150 jaar en een minuut aanvaar word, waarom nie 150 jaar en twee minute nie, ensovoorts?” Die artikel vervat: “Op grond van bestaande kennis van langlewendheid is dit onmoontlik om ’n presiese syfer vir die duur van menselewe te gee.”
Wat kan ons hieruit aflei? Eenvoudig dat wat die geneeskunde aangaande veroudering en die dood geleer het, gegrond is op die gesteldheid van die mens soos ons dit vandag sien. Die belangrike vraag is of die gesteldheid van die mens altyd dieselfde was en of dit altyd dieselfde sal bly. God se belofte is: “Kyk, Ek maak alles nuut.” In die nuwe wêreld wat vinnig nader kom, “sal [Hy] al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan”.—Openbaring 21:4, 5.
[Prent op bladsy 8, 9]
‘’n Rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, het uitgestroom uit die troon van God.’—Openbaring 22:1