Quinoa—die merkwaardige woestynplant
Deur Ontwaak!-medewerker in Bolivia
DAAR is min plekke wat boere meer moeite gee as die Suid-Amerikaanse Altiplano. Hier, veral in die droë suide, verskroei die skraal grond bedags en verys dit snags. Neerslag, so min as 200 millimeter per jaar, val dikwels in die vorm van verwoestende haelstorms.
Hierdie ruwe land lewer nietemin ’n woestynplant op wat ’n rol kan speel om wêreldhonger te verlig. Dit word quinoa genoem. En dit is nie net van belang vir boere hier in die Andes nie maar ook vir navorsers dwarsdeur die wêreld. Maar wat is quinoa? Hoe gebruik die inwoners van die Andes dit? En waarom sal dit eendag moontlik ’n wêreldwye invloed hê?
’n Kossoort wat in die woestyn groei
Quinoa is ’n blaarryke kruid wat tot twee meter hoog word en ’n menigte sade oplewer—sade wat as voedsame kos dien. Dit is ’n verbasend sterk plant wat selfs in die ongunstige klimaat van die Suid-Amerikaanse Altiplano floreer.
’n Boliviaanse vrou genaamd Felicidad bewerk byvoorbeeld grond wat te rotsagtig is om geploeg te word. Tog kan sy quinoa plant deur eenvoudig gate met ’n spiesvormige werktuig in die grond te maak en dan die saad daarin te gooi. Die quinoa is binne ’n paar maande, en met die minimum sorg, ’n volgroeide plant. Die woestyn is dan ’n kleuregloed—geel, pers, groen en rooi. Daar is sowat 17 soorte quinoa, en verskillende soorte groei dikwels saam.
Wanneer die oestyd aanbreek, word die plante uit die grond getrek, in die son gedroog en met die hand gedors. Nou kom nog ’n merkwaardige eienskap van quinoa aan die lig. Dit kan jare lank gebêre word sonder dat dit bederf. Quinoa is ’n ware skat gedurende lang droë seisoene. Dit is dus maklik om te sien waarom dit die hoofvoedsel van mense in hierdie deel van Bolivia is. Maar van watter belang is dit vir die res van die wêreld?
’n Ideale, veeldoelige kossoort
Toe die Spanjaarde die Amerikas aanvanklik verken het, het hulle ’n aantal kossoorte ontdek wat spoedig gunstelinge op tafels dwarsdeur die wêreld geword het—mielies, kakao, tamaties, pynappels, grondboontjies en aartappels. Maar hulle het nie baie in quinoa belanggestel nie. Hoewel dit dwarsdeur die Andes verbou is, het die Spanjaarde dit as die kos van landsvolk verag. Die meeste mense was gevolglik tot onlangs onbewus van hierdie verbasende plant.
Ja, in lande ver van die Boliviaanse woestyn begin mense die waarde van quinoa insien. “Dit is die nuutste graansoort in die stad”, het die San Francisco Chronicle gesê. “Quinoa, wat reeds as ’n hoofvoedsel in die moderne en byderwetse eetplekke in New York-stad beskou word, is nou ’n gunsteling op die spyskaart in kusgebiede.”
Die rede vir al hierdie opwinding? Voedingkundiges het vasgestel dat quinoa min suiker en stysel bevat en ryk is aan vesel en onversadigde olies. Dit bevat talle onontbeerlike minerale en vitamiene. Maar wat voedingkundiges betref, is die grootste aantrekkingskrag die proteïene in quinoa—50 persent meer as in koring, hawer, gort of rys en van ’n beter gehalte. Dit bevat ’n ideale balans van die aminosure wat ons nodig het, onder andere ’n belangrike een genaamd lisien wat gewoonlik skaars is in plantaardige proteïene en net volop is in vleis, vis en eiers. Dit is waarom party gesaghebbendes quinoa ’n ideale voedsel noem.
Nog ’n merkwaardige kenmerk van quinoa is sy veeldoeligheid. Quinoa het ’n unieke, neutagtige smaak. Jy kan dit as ontbytkos gebruik. Jy kan dit koud saam met slaai, warm saam met vleisdisse of soet as ’n nagereg bedien. Dit is veral die mense van die Andes wat ’n aantal maniere ontdek het om quinoa te eet.
“Ek reis nooit sonder quinoa nie”, sê ’n gewese reisende opsiener van Jehovah se Getuies in die Andes. “Ek moet met min bagasie reis, aangesien ek, soos al die ander, fietsry. Ek neem altyd ’n sak geroosterde quinoa-meel saam met my. Wanneer dit met water gemeng word, is dit ’n voedsame verversing.”
Rosa, ’n Boliviaanse vrou wat in ’n dorpie op die Altiplano grootgeword het, noem nog ander maniere waarop die quinoa-sade gebruik kan word. “Ma het gewoonlik quinoa-brood en -beskuit gebak met die meel wat sy met ’n klip gemaal het, en dikwels het sy net gekookte quinoa saam met ’n eier voorgesit.” Rosa het later na die stad getrek en jare lank as ’n kok by ’n ryk gesin gewerk. Sy het hulle ’n gereg leer eet waarvan hulle baie hou: quinoa-sop! “Jy kerf net uie, wortels, boerboontjies en pampoen”, verduidelik sy, “en kook dit dan saam met heel gewaste quinoa-graan in vleiswater totdat die quinoa-korrels bars.a Sout kan bygevoeg word wanneer dit gaar is.”
Wat is die geliefkoosde quinoa-gereg onder Rosa se eie kinders? “Tortillas!” skreeu ’n seuntjie. “A, ja”, antwoord Rosa, “dit is maklik om te maak. Jy kook net gewaste quinoa-korrels soos jy normaalweg rys sal kook maar sonder sout. Die quinoa kan dan met ’n lepel tot ’n deeg geroer word. Roer ’n eier, ’n bietjie melk en ’n bietjie meelblom daarby. Nou kan jy ’n knippie sout en ’n bietjie kaneel byvoeg. Braai dan die mengsel soos jy pannekoeke sal braai, ’n lepelvol op ’n slag—heerlik!”
’n Oplossing vir wêreldhonger?
Organisasies vir die verligting van hongersnood meen dat quinoa ’n sleutelrol in die vermindering van wêreldhonger kan speel. Dit is ’n geharde graan en kan sonder duur plaasgereedskap in ’n onvriendelike omgewing verbou word. Navorsers het reeds deur kruisteelt geharde quinoasoorte ontwikkel wat bestand is teen ongunstige toestande soos haelstorms en ryp. Daarbenewens is dit voedsaam en heerlik en kan dit op ’n verskeidenheid maniere voorgesit word.
Slegs die tyd sal leer of quinoa die wêreldwye hongerprobleem sal help oplos. Jy kan intussen kyk of jy quinoa plaaslik kan bekom. Met ’n bietjie verbeelding en eksperimentering kan jy ’n voedsame gereg van quinoa—die merkwaardige woestynplant—by jou spyskaart voeg.
[Voetnoot]
a Quinoa wat in pakkies verkoop word, is gewoonlik industrieel gewas om die bitter doppies te verwyder. Kooktye verskil dus baie na gelang van die soort quinoa, hoe dit verwerk is en die hoogte waarby dit gekook word.