Waarom is die hemel blou?
Die uitgestrekte buitenste ruimte is in duisternis gehul. Die atmosfeer wat die aarde omring, die deel van die ruimte wat vir die menslike oog sigbaar is, is wat ons hemel, of lug, noem. Wanneer mense na hierdie groot uitgestrektheid, die hemel, kyk, het baie al gewonder: ‘Waarom is die hemel blou?’ Waarom is dit nie violet, groen, geel, oranje of rooi nie, wat die ander basiese kleure van die sigbare spektrum is?
Sonlig bestaan uit lig van verskeie golflengtes, wat as die verskillende kleure van die sigbare spektrum waargeneem word. Die langste van hierdie liggolwe is rooi, en die kortste is blou of violet. Die gasmolekules van ons atmosfeer versprei baie meer lig van die korter golflengtes, die bloues, as van die langer golflengtes, die rooies. Gevolglik is helder lug blou. Die lug wat die aarde omring, met sy ontelbare deeltjies soliede materiaal, soos stof, versprei lig en verleen so die skyn van sigbaarheid, asof deur ’n spieël teruggekaats.
Wanneer die son naby die horison is, trek sonlig daarenteen deur ’n groter deel van die atmosfeer om die oog te bereik, en die langer golwe breek beter deur as die korter golwe, wat veroorsaak dat die lug diep oranje en rooi lyk. Soliede deeltjies in die lug bring die rooi na vore. Wanneer rook of digte wolke die lug vul, word liggolwe van alle kleure ook so versprei. Dit veroorsaak dat die lug grys lyk.
Hierdie ontsagwekkende vertoon van hoe God lig in die atmosferiese hemel gebruik, herinner ons aan die woorde van die psalmis: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:2.