Weggooiprodukte word onverwerkbare vullis
AS ’N mens onbewus is van die vulliskrisis en wat daartoe bydra, beteken dit dat jy die gebruike van hierdie weggooigemeenskap ignoreer. Byvoorbeeld: Verkies jy papierhanddoeke bo vadoeke in die kombuis? Gebruik jy papierservette pleks van linneservette wanneer jy eet? As jy babas het wat nog luiers dra, gebruik jy weggooiluiers pleks van materiaalluiers? Is weggooiskeermesse en -kameras net te gerieflik om dit nie te koop nie? Baie min jongmense van vandag het al met ’n vulpen geskryf; bolpuntpenne, sommige weggooibaar en ander met weggooibare inkhouers, het lankal die plek daarvan ingeneem. Sakeondernemings bestel derduisende bolpuntpenne. Adverteerders gee miljoene van hulle weg.
Wanneer ’n mens tee, koffie, koladrankies, melkskommels en frikkadelbroodjies bestel om saam te neem, word dit nie meer in kartonbekertjies en op papierborde bedien nie. Polistireenhouers het gemaak dat hulle nie meer gebruik word nie. Daar is plastiekmesse, -vurke en -lepels wat na dit een keer gebruik is in die vullisblik gegooi kan word. Daar is ’n oneindige getal en verskeidenheid weggooigeriewe. “Ons het ’n weggooigemeenskap geword”, het die direkteur van die staat New York se afdeling vir vaste afval gesê. “Ons sal ons gewoontes eenvoudig moet verander.”
Wat kan gesê word van melkbottels van plastiek pleks van glas; skoene van plastiek pleks van leer en rubber; reënjasse van plastiek in plaas van natuurlike waterwerende veselstowwe? Party lesers wonder dalk hoe die wêreld voor die eeu van plastiekstowwe kon funksioneer. Let ook op die rye en rye produkte in houers wat te groot is, wat van die rakke van selfdienwinkels en waar verpakte goedere ook al verkoop word na jou staar. Die eeu van rekenaars—wat miljarde bladsye papier uitspoeg—voeg by tot die hoop papier wat hemelhoog geword het.
Hoeveel ongerief is ons bereid om te verduur sodat hierdie groeiende vullisprobleem verlig kan word? Hoewel Amerikaners alleen gemiddeld nagenoeg 4,3 miljoen weggooipenne en 5,4 miljoen weggooiskeermesse per dag in hulle vullisblikke gooi, is dit onwaarskynlik dat hierdie gemeenskap ’n halfeeu agteruit sal gaan na die tyd voor die eeu van plastiek en hipertegnologiese weggooiprodukte, selfs al betaal ons ’n buitensporige prys vir hierdie geriewe.
Dieselfde kan gesê word van weggooiluiers. “Meer as 16 miljard luiers, wat volgens skatting 2,8 miljoen ton uitwerpsel en urien bevat, word jaarliks op ’n dalende aantal stortterreine in die land gestort”, het The New York Times berig. Meer as 4275 000 ton weggegooide luiers kan ’n mens ’n ander kyk op die saak gee. “Dit is ’n volmaakte geval”, het ’n Washingtonse deskundige op die gebied van vaste afval gesê, “van waar ons ’n weggooiproduk gebruik wat meer kos as ’n produk wat weer gebruik kan word, wat gevaarliker vir die omgewing is en wat nie-hernieubare hulpbronne opgebruik.” Is ouers bereid om die ongerief te verduur om hulle baba se luiers te was of by ’n afleweringsdiens aan te sluit? ’n Wêreld sonder weggooiluiers is vir baie iets ondenkbaars.
Weggooiluiers het vir omgewingsopvoedkundiges ’n simbool van die hele vullisprobleem geword. “Die ergste is”, skryf U.S.News & World Report “dat elke plastiekluier wat gemaak is sedert dit in 1961 bekendgestel is, steeds daar is; dit duur ongeveer 500 jaar voor hulle ontbind.”
Omgewingsdeskundiges en regeringsamptenare sê egter dat ons ons gewoontes moet verander of anders sal ons lewendig onder ons eie vullis begrawe word. Hedendaagse weggooiprodukte is moontlik vir verbruikers ’n seën, maar vir die aarde se vullisstortplekke is hulle ’n vloek. Weggegooide plastiek se lewensduur is nog lank nie verby nie. Die 159 miljoen kilogram papier wat Amerikaners daagliks weggooi en die onbekende aantal tonne wat mense oor die hele wêreld daagliks weggooi, ontbind en verdwyn, in teenstelling met die algemene opvatting, selfs nie nadat dit jare lank onder tonne vullis begrawe is nie. Koerante wat in stortterreine opgegrawe is nadat dit 35 jaar lank begrawe was, was nog net so leesbaar soos die dag toe dit gedruk is.
Die hersiklusseringprobleem
Daar is al geskryf dat daar net vier maniere is om die vullisprobleem op te los: “Begrawe dit, verbrand dit, hersiklusseer dit—of moenie in die eerste plek soveel maak nie.” Vullis wat in stortterreine begrawe is, is nie net ’n aaklige onooglikheid vir diegene wat daar naby woon nie, maar kan ’n gesondheidsrisiko inhou. Wanneer vullis in stortterreine verrot, produseer dit ’n kleurlose, reuklose, vlambare gas wat metaan genoem word. As dit nie gekeer word nie, kan metaan ondergronds van die stortterrein wegbeweeg, plantegroei vernietig, in nabygeleë geboue insyfer en ontplof as dit aan die brand raak. Dit het al in sommige gevalle die dood veroorsaak. Grondwaterreservoirs, of akwifers, word bedreig aangesien gevaarlike chemikalieë deur die aarde syfer en die mens se watervoorraad besoedel.
Die probleem met die hersiklussering van veral koerantpapier is die geweldige ooraanbod. “Die voorraad afvalkoerantpapier het ’n onoortroffe hoogtepunt bereik”, het ’n woordvoerder vir die Amerikaanse Papierinstituut gesê. “Meulens en papierhandelaars het meer as ’n miljoen ton koerantpapier in hulle pakhuise, wat ’n derde van ’n jaar se produksie verteenwoordig. Daar kom ’n tyd wanneer die pakhuise heeltemal vol sal wees.” Baie stede wat ’n jaar gelede R104 per ton vir hulle papier gekry het, betaal nou as gevolg van hierdie ophoping van papier R65 per ton om dit te laat wegry—sodat dit verbrand of op vullishope gestort kan word.
Wat kan van plastiek gesê word? “Die plastiekbedryf is gretig om hersiklussering te steun, hoofsaaklik omdat hulle bang is dat hulle alomteenwoordige produkte andersins verbied sal word”, het U.S.News & World Report gesê. Plastiekbottels kan byvoorbeeld in vesel verander word om poliëstermatte, watteersel vir parkas en ’n menigte ander goed te maak. Maar dit is goed dat die bedryf besorg is oor sy mark. Sommige plekke het reeds wette aangeneem wat die gebruik en verkoop van alle produkte van polistireen en PVC (polivinielchloried) in kleinhandelvoedselondernemings verbied. Die verbod sluit plastieksakke vir kruideniersware, polistireenbekertjies en -vleisbakkies en die polistireenhouers vir saamneem-frikkadelbroodjies in.
Volgens skatting kan meer as 75 persent van die vaste munisipale afval in die Verenigde State gehersiklusseer word. Maar as gevolg van openbare onverskilligheid en die tekortkominge in die tegnologie word hierdie potensiaal nie nou bereik nie. “Hersiklussering gaan nou ’n baie gevaarlike tyd in”, het een hersiklusseringdeskundige gesê. “Baie regerings gaan sukkel om veilig deur die slegte tyd te kom.”
Sommige amptenare sê die oplossing is om die vullis in reusagtige munisipale verbrandingsoonde te verbrand. Maar dit gaan ook met probleme gepaard. Omgewingsopvoedkundiges waarsku dat die verbranding van plastiek en ander vullis toksiese chemikalieë, onder andere dioksien, in die lug vrystel. “Jy kan aan ’n verbrandingsoond dink as ’n dioksienfabriek”, het ’n bekende omgewingsopvoedkundige gesê. “Die verbrandingsoonde lewer ook tonne as wat dikwels met lood en kadmium besoedel is”, het die tydskrif Newsweek berig. Mense wat naby voorgestelde verbrandingsterreine woon, maak heftig kapsie daarteen. Niemand wil dit in sy buurt hê nie. Dit word as ’n bedreiging vir die gesondheid en die omgewing beskou. Die vulliskrisis word dus steeds groter. Het enigiemand die oplossing?