Kernafval—die dodelike vullis
’NMASSA huishoudelike vullis is nie die enigste gevaar wat lewe in hierdie wêreld bedreig nie. Dit is onbeduidend in vergelyking met ’n baie groter en dodeliker afvalprobleem. Sedert die mens geleer het om die atoom te gebruik om kernwapens te maak en elektrisiteit op te wek, weet wetenskaplikes nie wat die veiligste manier is om van die hoogs radioaktiewe kernafval wat die stelsels lewer ontslae te raak nie.
Miljarde rande is al bestee in pogings om maniere te vind om te voorkom dat mense en die omgewing in die toekoms deur hierdie dodelike afval besmet word. Dit is voorwaar ’n gedugte taak, aangesien radioaktiewe afval duisende jare lank vir alle lewensvorme dodelik kan bly!
Baie van hierdie afval is dekades lank eenvoudig in nabygeleë putte en sypelkomme gestort en daar is geglo dat die gevaarlike stowwe sal verdun en onskadelik sal raak—’n veronderstelling waarvan die gevolge katastrofies was, soos ons sal sien. Miljoene liters hoëaktiewe afval is in reusagtige ondergrondse tenks geberg; ander afval is in vate verseël en bogronds geberg, nog ’n gevaarlike metode om daarvan ontslae te raak.
Hierdie kernafval is so gevaarlik en dodelik dat wetenskaplikes al alles oorweeg het, van storting in die buitenste ruimte tot wegdoening daarvan onder die yskappe in die poolstreke. Die moontlikheid word nou ondersoek om houers met afval in die noordelike Stille Oseaan te gooi, waar daar verwag word dat hulle 30 meter diep in die modder onder die oseaanvloer sal insink. “Ons het goed op hierdie planeet waarmee ons iets sal moet doen, op land, in water of onder die seebodem. Dit is al wat ons het”, het die vise-president van die Woods Hole- Oseanografiese Instituut gesê.
Die meeste van hierdie radioaktiewe stof word voorlopig in baddens vol water in verseëlde geboue geberg totdat ’n veiliger en blywender manier gevind kan word om daarvan ontslae te raak. Ontario, Kanada, het byvoorbeeld 16 kernreaktors wat reeds meer as 7000 ton radioaktiewe afval gelewer het, wat nou in sulke houers geberg word. Brittanje moet ook die kwellende probleem oplos van wat om met sy afval te doen. Hoëaktiewe afval word tans bogronds bewaar, en hierdie beleid sal na verwagting gevolg word totdat lekvaste ondergrondse plekke gevind en getoets kan word. Frankryk, Duitsland en Japan probeer ook werk maak van hulle kernafvalprobleem.
“In die Verenigde State”, het The New York Times berig, “is die amptelike beleid dat dit die veiligste is om dit in ’n ‘diep geologiese bewaarplek’, iewers waar dit droog, stabiel en verlate is, te begrawe. Maar dit is moeilik om so ’n plek te kry.” Jy kan dit weer sê! Volgens wetenskaplikes moet die plek so droog en stabiel wees dat die stof 10 000 jaar lank veilig sal wees. Hoewel van hierdie kernafval volgens skatting 250 000 jaar lank dodelik kan bly, glo deskundiges dat daar soveel geologiese veranderinge oor 10 000 jaar sal plaasvind “dat dit sinloos is om verder vooruit te probeer beplan”. “Ek weet van hoegenaamd geen vooruitskattingsmodel wat selfs van ’n projeksie van 1000 jaar kan praat nie”, het ’n bekende stralingsdeskundige gesê. Hy het bygevoeg dat dit “moeilik [is] om van ’n gesondheidsgevaar 10-000 jaar in die toekoms te praat”.
Katastrofe!
Toe wetenskaplikes die geheime van die atoom onthul het, het hulle ’n vreemde nuwe verskynsel—die dodelike besoedelingsnagmerrie wat daarop sou volg—laat losbreek en hulle was nie daarop voorbereid om dit die hoof te bied nie. Selfs nadat regeringsamptenare teen die potensiële gevaar gewaarsku is, het hulle die waarskuwings doelbewus geïgnoreer. Toe kernwapens die prioriteit geword het van die nasies met die kundigheid en materiale om dit te maak, is respek vir die gesondheid en lewe van mense en die gehalte van die omgewing prysgegee. Daar is onverskillig te werk gegaan om die dodelike afval te beheer. Byvoorbeeld: By een kernwapenaanleg is “meer as [750 miljard liter] gevaarlike afval, genoeg om Manhattan [12 meter] onder die water te sit, in onuitgevoerde putte en lagunes gestort”, het U.S.News & World Report van Maart 1989 geskryf. “Toksiese sypeling het ten minste [260 vierkante kilometer] grondwater besmet. Sowat [170 miljoen liter] hoëaktiewe afvalwater word in reusagtige ondergrondse tenks geberg, en meer as 50 Nagasaki-grootte bomme kan gemaak word van die plutonium wat uit hierdie houers gelek het”, het die tydskrif gesê. Volgens skatting sal dit 169 miljard rand kos om hierdie terrein skoon te maak.
Party van die houers wat gebou is om kernafval te berg, het so warm geword van die radioaktiewe hitte dat hulle gekraak het. Volgens skatting het tweemiljoen liter radioaktiewe afval in die grond uitgelek. Drinkwater is besoedel met meer as duisend keer die toegelate hoeveelheid radioaktiewe stronsium-90 vir drinkwater, soos bepaal deur die Omgewingsbewaringsagentskap. In ’n ander kernwapenaanleg “lek radioaktiewe stowwe van afvalputte wat [42 miljoen liter] uraan bevat . . . in ’n akwifer uit en het dit fonteine [0,8 kilometer] suid van die aanleg besoedel”, het The New York Times berig. Die koerant het ook gesê dat miljarde liters besoedelde water in die staat Washington op die grond uitgegooi is, en ’n sterk stroom radioaktiewe tritium vloei in die Columbia-rivier in.
The New York Times het berig dat ’n bietjie plutonium uit vlak afvalputte by die Radioactive Waste Management Complex in Idaho ontsnap het. “Dit beweeg deur rotslae na ’n baie groot grondwaterreservoir wat duisende inwoners van suidelike Idaho van water voorsien.” Die dodelike element het ingesypel tot ’n diepte van 70 meter, byna halfpad na die akwifer, het die koerant gesê.
Hoe dodelik is hierdie plutoniumafval wat in die riviere en stroompies gestort en in die lug vrygestel word? “Plutonium bly 250 000 jaar lank radioaktief”, het The New York Times berig, “en selfs mikroskopiese deeltjies kan dodelik wees as hulle ingeasem of ingesluk word.” “Dit kan kanker veroorsaak as ’n mens selfs ’n titseltjie plutoniumstof inasem”, het die tydskrif Newsweek gesê.
Die onmiddellike en langtermynuitwerking van kernafval op mense is nie bekend nie. Dit sal moontlik nooit bekend wees nie. Maar dit is voldoende om te sê dat daar by een kernaanleg 162 kankergevalle aangemeld is onder diegene wat binne ’n paar kilometer van die aanleg woon. Mense is bang om die water te drink, en daar heers groot benoudheid. “Hulle gaan enigiets van ses tot 200 addisionele kankergevalle hê”, het ’n universiteitsdokter en werkerskonsultant by die aanleg gesê. “Hulle is almal bang. Hulle voel asof hulle beheer verloor het oor hulle omgewing en oor hulle lewe.”
En hulle het. ’n Getroue profeet van Jehovah het baie eeue gelede gesê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Die geskiedenis het beslis bewys dat hierdie woorde waar is—en dit is veral opvallend in hierdie laaste dae. Die groeiende vulliskrisis is net een van die mens se talle mislukkings om sy voetstappe verstandig te rig.
Maar dit is nie nodig om moed op te gee nie. Bybelprofesie toon duidelik dat hierdie huidige stelsel van dinge binnekort verwyder gaan word en dat die Skepper ’n nuwe wêreld gaan inlui. Hy sal dit wat die mens aan die aarde en homself doen nie baie langer verdra nie, maar hy sal “die verderwers van die aarde verderf” (Openbaring 11:18). Daarna sal mense, onder die Skepper se leiding, leer om behoorlik na die aarde om te sien en hoe om sy hulpbronne verstandig te gebruik.—Psalm 37:34; 2 Petrus 3:10-13.
[Lokteks op bladsy 9]
Kernafval kan 250 000 jaar lank dodelik bly
[Lokteks op bladsy 10]
“Dit kan kanker veroor- saak as ’n mens selfs ’n titseltjie plutoniumstof inasem”