Jode, Christene en die Messiaanse hoop
“Ek glo met volkome geloof dat die Messias sal kom, en hoewel hy dalk vertoef, sal ek nogtans elke dag op sy koms wag.”—Moses Maimonides (ook bekend as Rambam), (1135-1204).1
MESSIAS! Die Jode het eeue lank geloof in sy koms gekoester. En tog, toe Jesus van Nasaret gekom het, het die meeste Jode hom uiteindelik as die Messias verwerp. In die oog van die Jood het Jesus nie aan die verwagtinge voldoen nie.
“Messias” beteken “gesalfde”. Onder Jode het die term uiteindelik na ’n afstammeling van koning Dawid verwys wat ’n glorieryke heerskappy sou inlui (2 Samuel 7:12, 13). Teen Jesus se dag het die Jode al eeue lank swaar gekry onder ’n reeks hardvogtige nie-Joodse heersers. Hulle het na ’n politieke verlosser uitgesien.2 Toe Jesus van Nasaret hom dus as die langverwagte Messias aangebied het, was daar natuurlik heelwat aanvanklike opwinding (Lukas 4:16-22). Maar tot groot teleurstelling van die Jode was Jesus geen politieke held nie. Inteendeel, hy het gesê dat sy Koninkryk ‘nie van hierdie wêreld is nie’ (Johannes 18:36). Boonop het Jesus nie destyds die glorieryke Messiaanse era ingelui wat vooruit deur die profeet Jesaja gesien is nie (Jesaja 11:4-9). En toe Jesus as ’n misdadiger tereggestel is, het die nasie in sy geheel belangstelling in hom verloor.
Jesus se volgelinge het hulle nie deur daardie gebeure laat afskrik nie en het voortgegaan om hom as die Messias bekend te maak. Wat was verantwoordelik vir hulle merkwaardige ywer? Dit was die geloof dat Jesus se dood profesieë vervul het, veral die profesie in Jesaja 52:13–53:12. Dit lui gedeeltelik:
“Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe [word]. . . . Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond. . . . Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; . . . ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop . . . Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word . . . Hy [is] afgesny . . . uit die land van die lewendes. . . . En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee.”
’n Lydende Messias?
Het Jesaja hier ’n lydende, sterwende Messias voorspel? Die meeste hedendaagse Joodse kommentators sê nee. Party beweer dat die Lydende Dienskneg die nasie Israel tydens sy Babiloniese ballingskap was. Ander bring die lyding in verband met tydperke soos die Kruistogte of die Nazi-Slagting.3 Maar kan hierdie verduideliking noukeurige ondersoek deurstaan? Dit is waar dat Jesaja in sekere kontekste van Israel as God se “dienskneg” praat. Maar hy praat van Israel as ’n weerspannige, sondige dienskneg! (Jesaja 42:19; 44:21, 22). Die Encyclopaedia Judaica maak hierdie teenstelling: “Die ware Israel is sondig, en die Dienskneg [van Jesaja 53] is sondeloos.”4
Party redeneer dus dat die Dienskneg ’n ‘regverdige elite’ in Israel verteenwoordig wat ten behoewe van die sondige Jode gely het.5 Maar Jesaja het nooit van enige so ’n elite gepraat nie. Inteendeel, hy het voorspel dat die hele volk sondig sou wees! (Jesaja 1:5, 6; 59:1-4; vergelyk Daniël 9:11, 18, 19.) Buitendien het die Jode in tye van beproewing swaar gekry ongeag of hulle regverdig was of nie.
Nog ’n probleem: Ten behoewe van wie het die Dienskneg gely? Die kommentaar in die Joodse Soncino meen dat dit die Babiloniërs was. Indien wel, wie het dan bely dat die Dienskneg ‘ter wille van ons ongeregtighede’ gely het? (Jesaja 53:5). Is dit redelik om te glo dat die Babiloniërs (of enige ander nie-Joodse volk) iets so verbasends sou erken—dat die Jode ter wille van hulle gely het?6
Dit is interessant dat party eerste-eeuse rabbi’s (en sedertdien ’n aantal ander), die Lydende Dienskneg as die Messias geïdentifiseer het.7 (Sien die venster op bladsy 11.) Duisende Jode het die onbetwisbare ooreenkomste tussen die Lydende Dienskneg en Jesus van Nasaret raakgesien. Jesus het, net soos daardie Dienskneg, ’n nederige oorsprong gehad. Hy is uiteindelik verag en vermy. Hoewel hy geen politieke oorwinningstog gevoer het nie, het hy die siektes van ander gedra deur hulle kwale wonderbaarlik te genees. Hoewel hy onskuldig was, het hy sy lewe as gevolg van geregtelike dwaling verloor—’n lot wat hy sonder protes aanvaar het.
’n Sterwende Messias?
Waarom sou die Messias moes sterf? Jesaja 53:10 verduidelik: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.” Dit het gesinspeel op die Levitiese gebruik om diere te offer om vir sonde of skuld versoening te doen. Die Messias sou ’n skanddood sterf, maar soos ’n offerdier sou sy dood versoeningswaarde inhou.
Hoe kan die Messias, as hy gesterf het, dan die profesieë omtrent sy glorieryke heerskappy vervul, om nie te praat van die feit dat hy ‘’n nakroos sien en sy dae verleng’ nie? Logieserwys deur ’n opstanding uit die dood. (Vergelyk 1 Konings 17:17-24.) Die Messias se opstanding sou ook die oënskynlike teenstrydigheid oplos tussen Daniël 7:13, wat voorspel het dat die Messias triomfantlik op die wolke van die hemel sou kom, en Sagaria 9:9, wat gesê het dat hy nederig op ’n esel sou kom. Die Talmoed het hierdie oënskynlike teenstrydigheid probeer verduidelik deur te sê: “As hulle verdienstelik is, sal hy op die wolke van die hemel kom; indien nie, sal hy nederig en op ’n esel as rydier kom” (Sanhedrin 98a).8 Dit sal beteken dat die profesie in Daniël 7:13 óf die een in Sagaria 9:9 onvervuld sal bly. Maar die Messias se opstanding sou hom in staat stel om albei profesieë te vervul. Hy sou aanvanklik in nederigheid kom om te ly en te sterf. Ná sy opstanding sou hy in heerlikheid terugkeer en die hemelse Messiaanse heerskappy inlui.
Honderde Joodse ooggetuies het daarvan getuig dat Jesus uit die dood opgewek is (1 Korinthiërs 15:6). Kan sulke verklarings bloot opsy gestoot word?
Judaïsme en Jesus
Die meeste eerste-eeuse Jode het Jesus as die Messias verwerp. Tog het hy ’n diepgaande invloed op Judaïsme gehad. Hoewel daar feitlik glad nie na Jesus in die Talmoed verwys word nie, probeer hulle met die bietjie wat hulle wel van hom gesê het om “Jesus as persoon te verkleineer deur ’n buite-egtelike geboorte, towery en ’n skanddood aan hom toe te skryf”.a—The Jewish Encyclopedia.9
’n Joodse geleerde Joseph Klausner erken dat dit “lyk asof [hierdie verhale] doelbewus daarop gemik is om gebeure wat in die Evangelies opgeteken is te weerspreek”.11 En heeltemal tereg! Die Katolieke Kerk het deur sy antisemitisme die Joodse afkerigheid van Jesus vererger. Dit het Jode verder afgestoot deur bekend te maak dat Jesus glo ‘God die Seun’ is—’n deel van ’n onbegryplike Drie-eenheid—in regstreekse teenstelling met Jesus se eie leer. In Markus 12:29 het Jesus die Tora aangehaal en gesê: “Hoor, o Israel: Die HERE onse God is een HERE.”—King James Version; Deuteronomium 6:4.
Hoewel Judaïsme bekering teengestaan het, “het die Christelike godsdiens Judaïsme aansienlik beïnvloed. Dit het die Rabbi’s gedwing om die klem te verskuif en in sommige gevalle om hulle siening te verander.”12 Rabbi’s uit vroeër geslagte het geglo dat die Messiaanse hoop oral in die Skrif voorkom. Hulle het ’n straaltjie van hoop in Bybeltekste soos Genesis 3:15 en 49:10 gesien. Die Palestynse Targoem het die vervulling van die eersgenoemde teks op “die dag van Koning Messias” toegepas.13 Die Midrash Rabbah het van die laasgenoemde teks gesê: “Dit sinspeel op die koninklike Messias.”14 Die Talmoed het ook profesieë van Jesaja, Daniël en Sagaria op die Messias toegepas.15 “Al die profete se profesieë het slegs heengewys na die dae van die Messias”, Talmoed, Sanhedrin 99a.16
Maar onder die druk van die Christendom se bekeringspogings het Judaïsme sy sieninge weer in oënskou geneem. Baie Bybeltekste wat lank op die Messias toegepas is, is opnuut geïnterpreteer.17 Aan die begin van die hedendaagse tye het party Joodse geleerdes, onder die invloed van hoër Bybelkritiek, tot die slotsom gekom dat die Messiaanse hoop glad nie in die Bybel voorkom nie!18
Met die totstandkoming van die staat Israel in 1948 het die Messiaanse hoop egter ’n soort wedergeboorte ondergaan. Harold Ticktin skryf: ‘Die meeste Joodse faksies beskou die verskyning van die staat Israel as ’n belangrike profetiese gebeurtenis.’19 Die vraagstuk oor wanneer die langverwagte Messias moet verskyn, het egter onopgelos in die Joodse gemoed gebly. Die Talmoed sê: “Wanneer jy ’n geslag sien wat deur baie probleme oorweldig is, soos deur ’n rivier, wag dan op [die Messias]” (Sanhedrin 98a).20 Die Joodse Messias het egter nie tydens die donker nag van die Nazi-Slagting gekom nie en ook nie tydens die onstuimige totstandkoming van die staat Israel nie. Dit laat ’n mens wonder: ‘Watter verdere probleme moet die Joodse volk nog deurmaak voordat die Messias sal kom?’
Soeke na die Messias
Die Messiaanse hoop is by die Jode gebore en is deur hulle gekoester. Daardie hoop het onder hulle verflou. Die glansrykheid daarvan is feitlik uitgedoof deur eeue van swaar kry en teleurstelling. Dit is ironies dat miljoene mense uit die nasies, of die nie-Jode, na ’n Messias begin soek het en hom uiteindelik aangeneem het. Is dit blote toeval dat Jesaja van die Messias gesê het: “En in die dag sal die nasies [nie-Jode] vra na die wortel van Isai”? (Jesaja 11:10). Behoort Jode nie self ook na die Messias te soek nie? Waarom moet hulle afstand doen van hulle langgekoesterde hoop?
Dit is egter vrugteloos om na ’n toekomstige Messias te soek. As hy sou kom, hoe sou hy kon bewys dat hy ’n bona fide-afstammeling van koning Dawid is? Is die geslagsregisters nie saam met die tweede tempel vernietig nie? Ofskoon dié registers in Jesus se dag bestaan het, is die feit dat hy ’n wettige afstammeling van Dawid was, nooit suksesvol betwyfel nie.b Kan enige toekomstige aanspraakmaker op Messiasskap ooit sulke getuigskrifte voorlê? ’n Mens moet dus soek na ’n Messias wat reeds in die verlede gekom het.
Dit vereis dat ons opnuut na Jesus moet kyk en van vooropgesette menings moet afsien. Die verwyfde askeet van kerkskilderye toon min ooreenkoms met die werklike Jesus. Die Evangelieverslae—wat deur Jode geskryf is—beeld hom uit as ’n sterk, lewenskragtige man, ’n rabbi met buitengewone wysheid (Johannes 3:2). In werklikheid oortref Jesus enige droom wat die Jode ooit omtrent ’n politieke verlosser gehad het. As ’n oorwinnende Koning sal hy nie bloot die een of ander swak politieke staat inlui nie, maar ’n onoorwinlike hemelse Koninkryk wat die Paradys oor die hele aarde sal herstel en waaronder “die wolf by die lam [sal wei]”.—Jesaja 11:6; Openbaring 19:11-16.
Sal jy gedurende daardie Messiaanse era lewe? Maimonides se raad aan Jode was om eenvoudig op ‘die Messias se koms te wag’.22 Maar ons tyd is te kritiek om die risiko te loop om sy terugkeer te mis. Die hele mensegeslag het ’n Messias, ’n verlosser van die probleme wat hierdie planeet teister, dringend nodig. Daarom is dit nou die tyd om hom te soek—vurig, aktief. Jehovah se Getuies wil jou graag help om dit te doen. Onthou, om die Messias te soek is nie verraad teen ’n mens se Joodse erfenis nie, want die Messiaanse hoop is inherent aan Judaïsme. En deur die Messias te soek, sal jy dalk agterkom dat hy reeds gekom het.
Bronnelys
1. The Book of Jewish Knowledge deur Nathan Ausubel, 1964, bladsy 286; Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 11, bladsy 754.
2. The Messiah Idea in Jewish History deur Julius H. Greenstone, 1973 (oorspronklik in 1906 uitgegee), bladsy 75.
3. Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 9, bladsy 65; Soncino Books of the Bible—Isaiah, onder redaksie van A. Cohen, 1949, bladsy 260; You Take Jesus, I’ll Take God deur Samuel Levine, 1980, bladsy 25.
4. Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 9, bladsy 65.
5. Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 9, bladsy 65; The Suffering Servant in Deutero-Isaiah deur Christopher R. North, Eerste uitgawe, 1948, bladsye 9, 202-3.
6. Soncino Books of the Bible—Isaiah, onder redaksie van A. Cohen, 1949, bladsy 261.
7. The Book of Isaiah, met kommentaar deur Amos Chakham, 1984, bladsy 575; The Targum of Isaiah, onder redaksie van J. F. Stenning, 1949, bladsy 178; The Suffering Servant in Deutero-Isaiah deur Christopher R. North, Eerste uitgawe, 1948, bladsye 11-15; Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 9, bladsy 65.
8. The Babylonian Talmud, vertaal deur dr. H. Freedman, 1959, Boekdeel II, bladsy 664.
9. The Jewish Encyclopedia, 1910, Boekdeel VII, bladsy 170.
10. Israelis, Jews, and Jesus deur Pinchas Lapide, 1979, bladsye 73-4.
11. Jesus of Nazareth—His Life, Times, and Teaching deur Joseph Klausner, 1947 (oorspronklik in 1925 in Groot-Brittanje uitgegee), bladsy 19.
12. The Jewish People and Jesus Christ deur Jakób Jocz, 1954 (oorspronklik in 1949 uitgegee), bladsy 153.
13. Neophyti 1, Targum Palestinense, Ms de la Biblioteca Vaticana, Génesis, 1968, Boekdeel I, bladsye 503-4; The Messiah: An Aramaic Interpretation deur Samson H. Levey, 1974, bladsye 2-3.
14. Midrash Rabbah, vertaal en geredigeer deur dr. H. Freedman en Maurice Simon, 1961 (Eerste uitgawe 1939), Boekdeel II, bladsy 956; Chumash With Targum Onkelos, Haphtaroth and Rashi’s Commentary, vertaal deur A. M. Silbermann en M. Rosenbaum, 1985, bladsye 245-6.
15. The Babylonian Talmud, vertaal deur dr. H. Freedman, 1959, Boekdeel II, bladsye 663-5, 670-1 (Sanhedrin 98a, 98b).
16. New Edition of the Babylonian Talmud, geredigeer en vertaal deur Michael L. Rodkinson, 1903, Deel IV, Boekdeel VIII, bladsy 312 (Sanhedrin-bundel); The Babylonian Talmud, vertaal deur dr. H. Freedman, 1959, Boekdeel II, bladsy 670 (Sanhedrin 99a).
17. The Suffering Servant in Deutero-Isaiah deur Christopher R. North, Eerste uitgawe, 1948, bladsy 18; The Jewish People and Jesus Christ deur Jakób Jocz, 1954 (oorspronklik in 1949 uitgegee), bladsye 205-7, 282; The Pentateuch and Haftorahs, onder redaksie van dr. J. H. Hertz, 1929-36, Boekdeel I, bladsy 202; Palestinian Judaism in New Testament Times deur Werner Förster, vertaal deur Gordon E. Harris, 1964, bladsye 199-200.
18. Encyclopaedia Judaica, 1971, Boekdeel 11, bladsy 1407; U.S. Catholic, Desember 1983, bladsy 20.
19. U.S. Catholic, Desember 1983, bladsy 21; What Is Judaism? deur Emil L. Fackenheim, 1987, bladsye 268-9.
20. The Babylonian Talmud, vertaal deur dr. H. Freedman, 1959, Boekdeel II, bladsy 663.
21. The Works of Josephus, vertaal deur William Whiston, 1987, “The Life of Flavius Josephus”, 1:1-6, en “Flavius Josephus Against Apion”, voetnoot oor 7:31, 32.
22. The Book of Jewish Knowledge deur Nathan Ausubel, 1964, bladsy 286.
23. The Targum of Isaiah, onder redaksie van J. F. Stenning, 1949, bladsye vii, 178; The Messiah: An Aramaic Interpretation, deur Samson H. Levey, 1974, bladsye 63, 66-7; The Suffering Servant in Deutero-Isaiah deur Christopher R. North, Eerste uitgawe, 1948, bladsy 11.
24. The Fifty-Third Chapter of Isaiah—According to the Jewish Interpreters deur S. R. Driver en A. Neubauer, 1969, Boekdeel II, bladsy 7; New Edition of the Babylonian Talmud, geredigeer en vertaal deur Michael L. Rodkinson, 1903, Deel IV, Boekdeel VIII, bladsy 310.
25. The Fifty-Third Chapter of Isaiah—According to the Jewish Interpreters deur S. R. Driver en A. Neubauer, 1969, Boekdeel II, bladsye 374-5.
26. The Fifty-Third Chapter of Isaiah—According to the Jewish Interpreters deur S. R. Driver en A. Neubauer, 1969, Boekdeel II, bladsye x, 99-100.
[Voetnote]
a ’n Israeliese geleerde Pinchas Lapide sê: “Gedeeltes in die Talmoed wat oor Jesus handel . . . is deur kerksensors geskend, verdraai of uitgewis.” Daarom “het Jesus heel waarskynlik oorspronklik ’n baie groter invloed op rabbynse literatuur gehad as waarvan die fragmente getuig waaroor ons vandag beskik”.—Israelis, Jews, and Jesus.10
b Sien The Life of Flavius Josephus, 1:1-6.21
[Venster op bladsy 11]
Die Lydende Dienskneg in rabbynse geskrifte
Deur die eeue heen het ’n aantal gerespekteerde Joodse geleerdes die profesie in Jesaja 52:13–53:12 op die Messias toegepas:
Die Targoem van Jonathan ben Uzziel (1ste eeu G.J.). In sy weergawe van Jesaja 52:13 sê die Targoem: “Kyk, my dienskneg, die Gesalfde (of, die Messias) sal voorspoedig wees.”23
Die Babiloniese Talmoed (Sanhedrin 98b) (ca. 3de eeu G.J.): “Die Messias—wat is sy naam? . . . Die Rabbi’s sê: Die melaatse [; diegene] van die huis van Rabbi [sê: Die sieke], soos daar gesê is: ‘Hy het gewis ons siektes gedra.’”—Vergelyk Jesaja 53:4.24
Moses Maimonides (Rambam) (12de eeu): “Hoe sal die Messias kom, en waar sal hy eerste verskyn? . . . Volgens die woorde van Jesaja [52:15], waar dit beskryf hoe konings na hom sal luister: Konings sal hulle mond oor Hom toehou.”25
Moses ibn Crispin Cohen (14de eeu): “Ek vertolk graag [Jesaja 53], in ooreenstemming met die leer van ons Rabbi’s, van die Koning Messias, en sal, sover dit vir my moontlik is, versigtig wees om by die letterlike betekenis te hou: sodoende sal ek moontlik gevrywaar wees van die gedwonge en vergesogte vertolkings waaraan ander [Joodse kommentators] hulle skuldig gemaak het.”26
[Prente op bladsy 10]
Die meeste Jode het die gedagte aan ’n “ lydende Messias” verwerp. Dit was strydig met hulle verwagting van ’n verowerende Koning
[Prent op bladsy 12]
Slegs die Messias kan die glorieryke toestande tot stand bring wat deur Jesaja voorspel is