Die Verenigde Nasies—’n Beter manier?
DIE inleiding tot die Handves van die Verenigde Nasies spreek hierdie edele doelwitte uit: “Ons die volke van die Verenigde Nasies het besluit om volgende geslagte te red van die plaag van oorlog, wat twee keer in ons lewe al onsegbare smart vir die mensdom gebring het, . . . en [met die begeerte] om ons krag te verenig om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf, . . . het ons ons voorgeneem om hierdie doelwitte te bereik deur ons pogings te verenig.”
Het die VN ‘hierdie doelwitte bereik’? Het dit die nasies hulle krag laat verenig en vrede en veiligheid laat handhaaf? Nee, so ver nog nie, al het die VN opreg probeer om aansienlik doeltreffender as die Volkebond te wees om vrede te bewerkstellig. Maar die geslag wat gesien het hoe dit in 1945 gestig is, is sedertdien deur oorloë, revolusies, invalle, staatsgrepe en aggressie in baie dele van die aarde geteister. En hierdie geweld het baie van die nasies ingesluit wat hulle daartoe verbind het om “internasionale vrede en veiligheid te handhaaf”.
Nog nie die beter manier nie
Kritici wat die Verenigde Nasies se onvermoë om hierdie ellende te voorkom veroordeel, vergeet moontlik ’n belangrike feit—’n organisasie se krag hang af van die mag wat sy handves hom gee en van sy samestellende dele se verbintenis daartoe om hulle verpligtinge onder daardie handves na te kom. Ten eerste het die Handves van die Verenigde Nasies die VN nie ’n wêreldregering met oppermag oor al sy lidlande gemaak nie.
Artikel 2(7) bepaal: “Niks in die huidige Handves sal die Verenigde Nasies die magtiging gee om in te meng in sake wat wesenlik binne ’n staat se huishoudelike jurisdiksie val nie.” UNCIO (Verenigde Nasies se Konferensie oor Internasionale Organisasie) wat van 25 April tot 26 Junie 1945 in San Francisco vergader het om die handves te finaliseer, het dit nodig geag “om seker te maak dat die Verenigde Nasies nie onder die heersende wêreldtoestande aanvaarbare perke oorskry nie en dat hulle hul by gepaste bepalings hou”.
Het jy daardie kwalifiserende sinsnede, “onder die heersende wêreldtoestande”, gesien? As dit sou verander, kon hierdie beslissing volgens UNCIO ontwikkel word “soos die toestand van die wêreld, die openbare mening van die wêreld en die feitlike interafhanklikheid van die wêreld dit nodig en gepas maak”.
Die voorneme van die Verenigde Nasies om “internasionale vrede en veiligheid” te handhaaf waartoe die handves hom verbind, spreek ’n begeerlike doelwit vir die mensdom uit. Die wêreld sou inderdaad baie veiliger gewees het as die nasies Artikel 2(4) van die Handves van die VN gehoorsaam het: “Alle Lede sal hulle weerhou . . . van dreigemente of die gebruik van geweld teen die gebiedsintegriteit of die politieke onafhanklikheid van enige staat.” Maar die eiebelang van lidlande het herhaaldelik die VN se pogings om sy doelwit te bereik, gekortwiek. In plaas van getrou te bly aan hulle VN-verbintenis deur “hulle internasionale geskille vreedsaam by te lê” het nasies of hele blokke nasies hulle dikwels tot oorlog gewend terwyl hulle aanvoer dat die ‘saak wesenlik binne hulle huishoudelike jurisdiksie val’.—Artikel 2(3,7).
Nasies het nie alleen die VN se vredesprosedures geïgnoreer nie, maar hulle het sy beslissings om konflikte op te los veronagsaam en openlik getrotseer. En hulle staatsmanne het gereeld die VN-podium bestyg en lang toesprake gehou waarin hulle hulle dade van aggressie probeer regverdig. Hierdie omseiling van reëls wat uitgevaardig is om die vrede te handhaaf het die VN alte dikwels verlam en sy geloofwaardigheid ernstig geskend. VN-amptenare wat deur sulke lang sittings sit, is dikwels gefrustreerd. Uiteindelik is sulke praatjies gewoonlik net drogredenering wat probeer om die geweld en bloedvergieting wat plaasvind minder ernstig te laat lyk of dit te regverdig. Dit is geen wonder dat die VN se Sekretaris-generaal, Javier Pérez de Cuéllar, gesê het dat die VN “in party kringe as ’n toring van Babel beskou word en op sy beste ’n vergaderplek vir vrugtelose diplomatieke gebabbel is” nie.
Daar is nog ’n rede waarom die VN sukkel om te bewys dat hy daardie beter manier is. Toe dit op 24 Oktober 1945 begin funksioneer het, “was daar geen duidelike strategie vir vrede uiteengesit nie”, het Pérez de Cuéllar opgemerk. Hoe kan die Verenigde Nasies daarsonder die wesenlike krag vir die versekering van wêreldvrede word soos dit moes wees?
Watter soort vrede kan dit bewerkstellig?
Pérez de Cuéllar antwoord: “Vrede sal nie die einde van alle konflikte meebring nie. Dit sal dit net moontlik maak om konflikte deur ander middele as mag en intimidasie te hanteer. . . . Die Verenigde Nasies probeer om ons oë op daardie doelwit te rig.” Die enigste vrede wat die VN kan bewerkstellig is dus om geweld te beheer.
Is dit werklik vrede met veiligheid? “Lidmaatskap tot die Verenigde Nasies is [weliswaar] oop vir alle . . . vredeliewende state” (Artikel 4(1)). Maar sal ’n vredeliewende nasie wat hom by die VN aansluit so bly? Regerings verander en nuwe leiers bring nuwe beleidsrigtings in. Maar wat gebeur as ’n lid radikaal word met uiters nasionalistiese doelwitte en meer grondgebied wil hê? En sê nou hy begin hom met kern- en chemiese wapens bewapen? Die Verenigde Nasies sal nou ’n tikkende tydbom op sy hande hê. Tog, soos onlangse gebeure in die Midde-Ooste toon, kan so ’n verandering van gebeure juis die ding wees wat die nasies sal beweeg om die VN in staat te stel om hierdie bedreiging vir hulle veiligheid uit die weg te ruim.
Kan die nasies dit ’n beter manier maak?
Die nasies raak nou meer as ooit al hoe bewuster van wat UNCIO “die wesenlike interafhanklikheid van die wêreld” genoem het. Geen staat kan meer vir homself leef nie. Die nasies is almal lede van een internasionale gemeenskap. Almal het met ’n reeks gemeenskaplike probleme te kampe: die verwoestende gevolge van ekologiese besoedeling, armoede, verswakkende siektes, onwettige dwelmhandel op elke kontinent, terrorisme en gesofistikeerde kernwapens in die arsenale van al hoe meer nasies. Hierdie faktore het die nasies gedwing om óf vrede en veiligheid te soek onder die beskerming van die Verenigde Nasies, óf om selfmoord te pleeg op ’n wêreldskaal.
Die voormalige Sowjetminister van buitelandse sake Sjewardnadze het opgemerk: “Die Verenigde Nasies kan doeltreffend funksioneer as hy die magtiging van sy lede het en as state vrywillig toestem om tydelik ’n deel van hulle soewereine regte aan hom oor te dra en hom met die verrigting van sekere take in die belang van die meerderheid toevertrou.” Hy het bygevoeg: “Slegs op hierdie manier kan ons die tydperk van vrede blywend en onherroeplik maak.”
As dit gedoen kan word, sal die VN enige nasie wat die wêreld se vrede bedreig met gesag kan veroordeel. Met ware mag tot sy beskikking kan dit sulke aggressors kragtig en vinnig onderdruk. Maar sal die VN se lidlande hom ooit hierdie magtiging gee en ‘hulle gewapende magte, bystand en fasiliteite beskikbaar stel’ om vrede te verseker? (Artikel 43(1)). Hulle sal dalk—as ’n krisis dreig om die grondslag van hulle onderskeie nasionale soewereiniteite te ondermyn. As die nasies sien dat die ‘vereniging van hulle krag om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf’ onder beskerming van die VN sulke dreigemente uit die weg ruim, sal dit moontlik hulle respek daarvoor vergroot.
Miskien wonder jy: ‘Was die VN se rol in die Persiese Golf-krisis ’n begin in hierdie rigting?’ Dit kan wees. Baie nasies het voor die moontlik rampspoedige ineenstorting van hulle ekonomie te staan gekom. En as hulle inmekaargeweefde ekonomie ineengestort het, sou die hele wêreld s’n ineenstort. Daarom het die nasies onder die Verenigde Nasies saamgetrek. Die Veiligheidsraad het ’n reeks VN-resolusies aanvaar om die krisis vreedsaam te beëindig, en toe dit misluk, het hy ’n VN-resolusie aanvaar om krygsmag in die Golf te gebruik.
Toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake, James Baker, hierdie resolusie bepleit het, het hy gesê: “Die geskiedenis het ons nou nog ’n kans gegun. Met die koue oorlog agter die rug het ons nou die kans om ’n wêreld te bou wat die stigters van die . . . Verenigde Nasies wou sien. Ons het nou die kans om hierdie Veiligheidsraad en hierdie Verenigde Nasies wêreldwyd ware instrumente vir vrede en vir geregtigheid te maak. . . . Ons moet ons visie van ’n vreedsame en ’n regverdige wêreld ná die koue oorlog verwesenlik.” En hy het aangaande hulle beraadslaging oor die gebruik van krygsmag in die Golf opgemerk: “Ek dink dat [dit] beskou sal word as een van die belangrikstes in die geskiedenis van die Verenigde Nasies. Dit sal beslis baie doen om die toekoms van hierdie liggaam te bepaal.”
Jehovah se Getuies is vas oortuig dat die Verenigde Nasies in die nabye toekoms ’n vername rol in wêreldgebeure gaan speel. Hierdie ontwikkelinge sal sonder twyfel baie opwindend wees. En die gevolge sal ’n verreikende uitwerking op jou lewe hê. Ons moedig jou aan om Jehovah se Getuies in jou omgewing te vra om jou meer te vertel oor hierdie saak. Die Bybel beskryf duidelik dat daar binnekort mag en gesag aan die Verenigde Nasies gegee gaan word. Die VN sal dan baie verbasende dinge doen wat jou heel moontlik sal verstom. En jy sal verheug wees om te hoor dat selfs ’n beter manier ophande is wat beslis ewigdurende vrede en veiligheid sal meebring!
[Prent op bladsy 9]
Guido de Marco, voorsitter van die VN se Algemene Vergadering (regs) en sekretaris-generaal Pérez de Cuéllar by die 45ste sitting van die Vergadering
[Erkenning]
UN photo 176104/Milton Grant