Ons beskou die wêreld
Twyfelagtige prestasie
Die Verenigde State het in 1990 die grootste verskaffer van wapens aan ontwikkelende lande geword, en het die Sowjetunie vir die eerste keer sedert 1983 oortref. Volgens ’n verslag van die Amerikaanse Kongresnavorsingsdiens is die Verenigde State ook die grootste verskaffer van wapens aan die Midde-Ooste, waarheen meer as die helfte van al die wapens gegaan het wat gedurende die afgelope agt jaar gekoop is. Die ontwikkelende lande het gedurende die tydperk vanaf 1983 tot 1990 wapens ter waarde van R829,7 miljard gekoop. Van die R113,6 miljard se wapens wat verlede jaar van al die verskaffers gekoop is, het die Verenigde State ’n rekordbedrag van R50,9 miljard verkoop—meer as twee keer soveel as wat hulle in 1989 verkoop het—terwyl die Sowjetunie se wapenverkope tot R33,8 miljard gedaal het. Die studie het voorspel dat daar ’n volgehoue aanvraag na Amerikaans vervaardigde wapens sal wees na die welslae wat hulle tydens die oorlog in die Persiese Golf behaal het. China en Frankryk is naas die Verenigde State en die Sowjetunie die grootste wapenverkopers.
Lande smeek: Stop die wapenhandel
“Latyns-Amerikaanse en Karibiese regerings spoor die Verenigde State aan om die [wapen]handel stop te sit wat in die afgelope dekade so uitgebreid en goed georganiseerd geword het dat groepe wat met vuurwapens smokkel nou die kragtigste wapens op die mark vir kliënte oral ter wêreld kan aanbied”, sê The New York Times. Die wapens is al gebruik tydens staatsgrepe, om verkiesings te ontwrig, om kandidate te vermoor en tydens ontvoerings. Die geld wat uit die onwettige verkoop van vuurwapens gemaak word, word na bewering slegs deur die winste van die dwelmhandel oortref. “Ons is daarvoor bekend dat ons die mees vooraanstaande wapenverskaffer in hierdie halfrond is, en ons het daardie reputasie seker verdien”, sê Stephen E. Higgins, direkteur van die U.S. Bureau of Alcohol, Tobacco and Firearms. “Ek het gevind dat die meeste lande waarmee ons sake doen baie strenger kontrole oor vuurwapens uitoefen as die Verenigde State.”
’n Dryfveer om op te hou rook
“Longkanker, hartaanvalle, beroerte. Navorsing toon dat die dodelike gevare van rook in werklikheid die sigaret se aantrekkingskrag verhoog vir sommige mense wat van gevaarlike bedrywighede hou”, sê Science News. “Maar twee nuwe verslae oor sekere niedodelike gevolge van rook kan selfs vir hierdie waaghalse as ’n kragtige dryfveer dien om op te hou rook.” Die eerste verslag toon dat urinêre inkontinensie in een derde van alle vroue wat aan dié lastige probleem ly, toegeskryf kan word aan die feit dat hulle tans rook of in die verlede gerook het. Die tweede studie het bevind dat rokers, mans sowel as vroue, meer geneig is om gesigsplooie te kry en dat voortydige velverrimpeling vererger hoe langer hulle rook en hoe meer sigarette gerook word. Die kanse dat oormatige velverrimpeling by strawwe rokers voorkom, is bykans vyf keer so groot as in die geval van hulle eweknieë wat nie rook nie. “Vir baie rokers, veral jong rokers, is die bewyse dat rook dinge soos plooie, slegte asem of geel tande veroorsaak baie oortuigender as die bewyse dat rook ’n mens doodmaak”, sê Thomas E. Kottke van die Mayo-kliniek in Rochester, Minnesota, VSA.
Europese waardes
Die Londense weekblad The European het ’n opname in ses Europese lande gedoen om te probeer vasstel wat die belangrikste in mense se lewens is. “Twee konsepte, die gesin en menseregte, is onder die boonste drie in elk van die ses lande”, berig die koerant. “Vryheid en gelykheid is ook feitlik oral as belangrik beskou.” Hoewel Europeërs hulle gesinne liefhet, “is [hulle] nie so gretig om te trou nie” en “heg [hulle] minder waarde aan die huwelik hoe jonger hulle is”. Diegene wat ondervra is, sê dat ’n werk belangrik is, dat hulle bang is om werkloos te word, maar plaas geld terselfdertyd onderaan hulle lys van prioriteite. ’n “Opvallende verskynsel”, sê die koerant, is dat van “die waardes wat vir Europeërs die belangrikste is”, godsdiens vir hulle die minste beteken.
Om dood te maak of nie
‘Om dood te maak kan Christelik wees’, beweer die Rooms-Katolieke kardinaal Giacomo Biffi. In ’n onlangse oudiënsie met Italiaanse gewetensbeswaardes het hy gesê: “Jy kan ’n Christen wees, doodmaak [en] oorlog maak as dit die lewens van ander red”, soos berig deur die Madridse koerant El País. Hoewel hy ’n sterk teenstander van aborsie is, het hy gesê dat “vrede en geweldloosheid nie absolute waardes” of selfs “Christelike waardes” is nie. Die prelaat het vir sy verbaasde gehoor gesê dat gewetensbeswaar in werklikheid “doelloos” is omdat vrede “’n onwêreldse vooruitsig is en dat dit onrealisties sal wees om dit op hierdie aarde te verwag”.
Nie-Jode immigreer na Israel
“Ons is besig om Israel met nie-Jode te vul”, kla Israel se minister van immigrasie, rabbi Yitzhak Peretz. Trouens, hy skat dat 35 persent van die 186 000 immigrante wat verlede jaar van die Sowjetunie af gekom het, en baie van die meer as 300 000 wat vanjaar verwag word, nie-Jode is, iets wat die Joodse Staat minder Joods sal maak. Die rabbi was geskok toe hy tydens ’n onlangse besoek aan Moskou gesien het dat ’n aantal mense Christenkruise dra terwyl hulle aansoek gedoen het om na Israel te immigreer. Volgens die Minister van Binnelandse sake, Arye Deri, het baie nie-Jode die feit dat hulle na Israel kan immigreer (burgerskap word vir familielede van Jode aangebied, en onder Sowjet-immigrante is daar ’n hoë getal gemengde huwelike), gebruik om aan die ekonomiese probleme in die USSR te ontsnap en by die R82 500 baat te vind wat Israel eindelik sal spandeer om elke Sowjet-immigrant te hervestig. Wanneer die subsidie opraak, voorspel hy, sal hulle die land verlaat. “Selfs bona fide-Sowjet-Jode wat in Israel aankom, is nie baie godsdienstig nie”, sê Newsweek. “Die meeste—72 persent volgens een opname—beskou hulleself as onkerklik en maak nie verskoning daarvoor nie.”
Belemmerde uitsig oor die aarde
Ruimtevaarders wat in Augustus op die pendeltuig Atlantis om die aarde gewentel het, het gesê dat daar ’n digte dynserigheid om die aarde is wat die uitsig vanuit die ruimte belemmer het. Hulle vermoed dat dit veroorsaak is deur as van die onlangse vulkaniese uitbarstings in die Filippyne en Japan, sowel as die digte rook van die brandende olieboorgate in Koeweit. Die ruimtevaarders het gesê dat daar in vergelyking met vorige vlugte ’n merkbare verskil in die aarde se atmosfeer is. Terwyl hy vanuit die ruimte op Koeweit se oliebrande neergekyk het, het vlugbevelvoerder kolonel John E. Blaha gesê: “Dit is werklik ’n tragiese gesig.”
Nuwe spesies gevind
“Kathryn Fuller, president van die Wêreldnatuurlewefonds, het sommer daar in haar kantoor in Washington, DC, op bleekgeel miere afgekom waarmee die wetenskap onbekend was”, sê die tydskrif National Geographic. Die miere, wat na haar lessenaar gelok is deur die krummels van haar middagete, het van ’n potplant af gekom. Eksemplare van die miere is gegee aan Edward O. Wilson, ’n deskundige op die gebied van miere aan die Harvard-universiteit, wat bevind het dat hulle tot ’n genus genaamd Pheidole behoort, en hy is van plan om hulle na Fuller te vernoem. “As jy ’n nuwe spesie in ’n kantoor in Washington kan vind”, sê Fuller, “moet daar ’n waarlik buitengewone aantal spesies buite in die natuur wees wat wag om ontdek te word.”
In teenstelling met hierdie miertjie is ’n nuwe walvisspesie in die Stille Oseaan naby Peru ontdek—die eerste in 28 jaar. Dit is die kleinste lid van die groep wat snoetwalvisse genoem word. ’n Uitgegroeide mannetjie is ongeveer vier meter lank. Hulle is nog so selde gesien dat dit wetenskaplikes 15 jaar gekos het om genoeg eksemplare te vind sodat hulle kon bewys dat die nuwe spesie wat nou Mesoplodon peruvianus genoem word, bestaan. Die walvis leef blykbaar van pylinkvis. “Dit is ’n raaisel presies hoe ’n walvissoort, selfs een wat relatief klein is, so lank onopgemerk kon bly”, sê The New York Times.
Aramees sterf uit
Aramees is klaarblyklik een van die tale wat 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus gepraat is terwyl hy op aarde was. Nou is die “Here se taal” besig om uit te sterf, berig die tydskrif Der Spiegel van Hamburg, Duitsland. Hoewel die taal nog deur mense in ’n paar afgeleë dorpies in die berge van Sirië gepraat word, is Arabies stadig besig om dit te vervang namate hulle jongmense geleerdheid verkry en die militêre diens betree. ’n Geskrewe vorm van Aramees bestaan al eeue lank nie meer nie. Om hierdie saak reg te stel, probeer aartsbiskop François Abu Mukh van Damaskus, wat van een van die dorpies af kom, ’n geskrewe vorm van die taal tot stand bring en is hy besig om Aramese klasse vir die dorpsmense te organiseer.
Winsgewende vullis
“Brasilië gooi jaarliks [R1 639 403 890] weg.” Dit is die waarde van 32,8 miljoen ton vullis, volgens João Tinoco Pereira Neto, koördineerder van die Sentrum vir Biologiese Behandeling van Organiese Oorblyfsels aan die Federale Universiteit van Viçosa, Minas Gerais. Hy skat dat ‘10,9 miljoen ton papier, plastiek, glas en metale, buiten aansienlike hoeveelhede klere, rubber, leer en timmerhout herwin kan word’. En die hersiklussering van vullis kan “15 miljoen ton organiese messtof” voorsien wat die hoë koste van chemiese messtof sal verminder. Tog word professor Pereira in die Jornal da Tarde aangehaal: “Dit is frustrerend om te weet dat verskeie voordele verkry kan word deur vullis te hersiklusseer en dan tot die gevolgtrekking te kom dat dit nie as ’n noodsaaklike openbare diens beskou word nie.”