Ons beskou die wêreld
Die invloedrykste boek
Watter boek het al die grootste invloed op baie mense gehad? Die Bybel. Volgens ’n opname oor leesgewoontes wat vir die Amerikaanse Kongresbiblioteek en die Boek-van-die-maandklub gedoen is, is dit boaan die lys omdat dit mense meer as enige ander boek beïnvloed het. Die opname wat onder 2032 lede van die boekklub gedoen is en wat verlede November uitgereik is, het getoon dat diegene wat ondervra is gemiddeld 9 uur per week boek lees teenoor 12 uur per week waartydens hulle televisie kyk. ’n Mens kan maar net wonder: Hoeveel van daardie tyd bestee hulle werklik daaraan om die Bybel te lees?
Alkoholisme—tweevoudige las
’n Studie wat deur die Worldwatch-instituut gedoen is, het volgens ’n verslag in die Nederlandse tydskrif Onze Wereld tot die gevolgtrekking gekom dat alkoholisme net so rampspoedig vir die ekonomie van ontwikkelende lande is as wat inflasie, skuld en wanbestuur is. Byvoorbeeld, in Papoea-Nieu-Guinee word 30 persent van die gemiddelde gesin se inkomste aan sterk drank bestee, terwyl mans in die Afrikaland Burkina Faso 44 persent van hulle inkomste aan bier uitgee. Omdat alkoholiste so erg deur drank aangetas is dat hulle nie die grond kan bewerk nie, word hulle “’n belangrike bydraende faktor tot die oorsaak van voedseltekort”. Hulle kinders is die tragiesste slagoffers. In een stad in Guatemala is ’n derde van alle kinders ondervoed as gevolg van die ouers se drankmisbruik. Wat dit nog erger maak, sê Onze Wereld, is die feit dat die las van alkoholisme tweevoudig is: Dit verminder volksinkomste maar vermeerder die koste van gesondheidsorg. In Trinidad ondervind 47 persent van alle mans wat in die stad se grootste hospitaal opgeneem word byvoorbeeld alkoholverwante mediese probleme.
Rassevooroordeel in Europa
Die grootste studie wat nóg in Europa gedoen is oor rassegevoelens het ’n paar onaangename resultate opgelewer. “Baie van die 13000 mense wat in 12 Europese lande op die studie gereageer het, openbaar vyandigheid teenoor rasseminderheidsgroepe in hulle lande”, berig The European. Vooroordeel word gegrond op kleur, anti-Semitisme, ekonomiese faktore en ou geskille oor grondgebied. Volgens die meningsopname is Duitsers ongewild in Pole, net soos mense van Poolse herkoms ook ongewild in Duitsland is. Hongare hou nie van Roemeniërs nie; en Bulgare hou ook nie van die Turke nie, wat vroeër die heersers in Bulgarye was. Nog ’n oorsaak van spanning is godsdiens. “Noord-Afrikane wil die Islam aan Frankryk afsmeer”, het ’n Franse taxibestuurder gekla. Dit is duidelik dat ideale om Europa in een vreedsame entiteit te verenig nog lank nie ’n werklikheid is nie.
Nuwe neiging in winkeldiefstal
In Suid-Afrika lei die voortdurende stroom plattelanders wat na die stede toe trek tot ’n toenemende aantal werkloses. Stygende inflasie dra verder tot die probleem by, en gevolglik pleeg al hoe meer mense ’n ongewone vorm van winkeldiefstal in supermarkte om hulleself aan die lewe te hou. Daar is “meer oopgemaakte pakkies op die rakke as voorheen”, sê die tydskrif Security Focus. “Meer mense is nou honger genoeg om in te kom en eenvoudig te eet wat hulle in die winkel kan kry. Die kanse dat hulle gevang sal word, is kleiner, en hulle kry iets in hulle maag.”
Aktiewe gelowige —Iets van die verlede?
Volgens ’n konferensie oor godsdiens onder Europeërs wat verlede Oktober in Turyn gehou is, beweer 2 uit elke 3 Europeërs dat hulle in God glo. Die Italianers en Spanjaarde neem die voortou onder diegene wat beweer dat hulle godsdienstig is. Maar waarom is die meeste Europeërs gelowiges? Volgens La Stampa sê navorsers dat “vandag se godsdienstigheid swak is, nie té voorskrywend [ortodoks] is nie, en baie individualisties is, en in [hierdie godsdienstigheid] kan almal doen wat hulle wil”. Maar hierdie godsdienstoegewydheid is blykbaar ’n weerspreking. Byvoorbeeld: Hoewel minder as 60 persent van die Duitse bevolking hulleself as godsdienstig beskou, het 92 persent hulle kinders laat doop; maar in Italië, waar 83 persent hulleself as godsdienstig beskou, woon 53 persent nie godsdiensplegtighede by nie. Volgens die kenners het godsdienstigheid drastiese veranderinge ondergaan. “Die laaste dekade is gekenmerk deur ’n progressiewe skeiding tussen geloof en die beoefening daarvan, of, soos die sosioloë sou sê, ‘tussen godsdiensoortuiging en godsdiensverband’”, sê La Stampa. “Die aktiewe gelowige is nou amper iets van die verlede.”
Sweisers in gevaar
Studies wat gedoen is oor die langtermynuitwerking van sweisdampe op mense het etlike kommerwekkende feite aan die lig gebring. Om maar een ding te noem, volgens berig is die voorkoms van longkanker onder sweisers hoër as die gemiddelde syfer. ’n Artikel met die titel The Dark Side of Welding in die Suid-Afrikaanse tydskrif Safety Management noem ten minste tien verskillende metale en dampe wat algemeen in sweiswerk aangetref word en potensieel nadelig vir mense is. Die tydskrif berig dat ’n hoë konsentrasie kadmiumdampe “irritasie van die lugweë en water op die longe” kan veroorsaak en dat “langtermynblootstelling aan lae vlakke daarvan tot emfiseem kan lei en die niere kan beskadig”. Safety Management sê dat die beste beskerming teen die nadelige gevolge van sweiswerk behoorlike asemhalingsbeskerming en goeie ventilasie is, wat die gebruik van doeltreffende uitlaatstelsels kan insluit.
Niemand tuis nie
Australië se hoofstroomkerke het onlangs ’n sensus genaamd Bywoningsopname gehou. Die godsdienskorrespondent vir die koerant The Weekend Australian het groot tekortkominge in hierdie opname opgemerk en het geskryf: “Ek is die afgelope 20 jaar net drie keer deur die plaaslike kerke besoek. Elke besoek was gedoen om uit te vind tot watter godsdiens ek behoort tydens ’n opname wat gedoen is om die skape van die bokke te skei. . . . Huisbesoek is natuurlik vir die meeste kerke iets van die verlede, en die afwesigheid van huisbesoeke word verdedig met argumente dat niemand ooit tuis is nie of dat ’n predikant te besig is. . . . Vandag is die klop aan die deur in alle waarskynlikheid dié van die Mormone, die Jehovasgetuies of die een of ander ‘sekte’, wat gewoonlik deur ander Christene as onortodoks of erger as onortodoks beskou word. . . . Wat evangelisasie betref, doen die sektes ongelukkig baie beter, aangesien hulle met ander praat oor wat hulle glo.”
Gevange gehoor
Mense wat telefoonoproepe maak en gevra word om aan te bly, is ’n gevange gehoor. Maatskappye buit hierdie geleentheid dikwels uit en bombardeer hulle met ’n klomp advertensies—vermoedelik selfs wanneer die persoon wat bel dadelik deurgeskakel kon word. Nou gebruik ’n Amerikaanse maatskappy mense pleks van opnames om die boodskappe oor te dra in ’n poging om klante te paai. Aangesien die maatskappy meer as 13-000 oproepe per dag ontvang, moet klante dikwels tien minute of langer wag. The Economist het gesê die “aanbly-joggies” gesels net soos platejoggies met hulle gehoor, speel strelende musiek en gee tyd- en verkeersverslae benewens die maatskappy se advertensies wat hulle lees. Hulle sê ook van tyd tot tyd vir die persoon wat bel hoe lank dit sal duur voordat hy deurgeskakel sal word na die afdeling wat sy vraag kan beantwoord. Die maatskappy sê dat hulle nie net minder misnoegde klante het nie maar dat hulle mededingende diens lewer, en hulle kan selfs hulle advertensies tot spesifieke klante rig.
Verbeterde kindersorg
Die Brasiliaanse staat Ceará het UNICEF (Verenigde Nasies se Kinderfonds) se aanbevelings toegepas en het “sy kindersterftesyfer van 95 sterftes vir elke 1000 babas na 65 verlaag”, sê Newsweek. ’n Verteenwoordiger van UNICEF sê: “Geen land of staat het dieselfde dramatiese resultate in dieselfde kort tydperk as die staat Ceará behaal nie.” Newsweek sê dat 4000 gesondheidswerkers ná 80 uur se opleiding die platteland te voet, met fietse, perde, donkies en kano’s besoek het om moeders basiese babasorg, soos borsvoeding, te leer. Nadat ’n moeder van drie geleer is hoe om ’n lewensreddende mondelike rehidrasieformule van suiker, sout en water aan te maak, het sy verbaas gesê: “Ek het gedink dit sou ingewikkelder wees.”
Indiane se regte
Die Ianomami-Indiane woon al eeue lank in ’n groot gebied langs die grens tussen Brasilië en Venezuela. Die gebied lê in die Amasone-woud en is ses keer so groot as België. Dit is ook ryk aan goud en tinerts—’n groot aantrekkingskrag vir myners en ontwikkelaars. Brasilië se tydskrif Veja sê dat Venezuela se president Carlos Andrés Pérez onlangs twee wetlike bepalings onderteken het. Hierdie bepalings verklaar die gebied aan die Venezolaanse kant van die grens tot ’n reservaat om die biosfeer te beskerm, asook tot ’n nasionale park. Sodoende word die Ianomami-Indiane se reg op die gebied beskerm. Hy het ook “dié blankes wat dekades lank al hulle siele probeer wen—die sendelinge—asook die myners—wat hulle minerale rykdom probeer inpalm, dié gebied” belet. Sommige ekoloë het dit as “’n fantastiese besluit” verwelkom.