Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 12/8 bl. 26-27
  • “Ons daaglikse brood”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons daaglikse brood”
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Het jy al geëet van die brood van die lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • “Ware brood uit die hemel”
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Jesus – “Die brood van die lewe”
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus—“Die ware brood uit die hemel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 12/8 bl. 26-27

“Ons daaglikse brood”

“GEE ons vandag ons daaglikse brood.” Jy herken hierdie woorde ongetwyfeld as ’n deel van die bekendste gebed wat nog ooit gedoen is—die sogenaamde Onse Vader (Mattheüs 6:9, 11). In Jesus se dag was brood die stapelvoedsel in Israel en kon dit gepas as ’n simbool van fisiese voeding gebruik word.

In die meeste wêrelddele is brood vandag nie meer die belangrikste item op die spyskaart nie. Vandag is ons letterlike daaglikse brood dikwels bloot ’n bygereg by ’n maaltyd. Brood speel nietemin steeds ’n belangrike rol in die lewe van miljoene dwarsdeur die wêreld.

Mexikaanse huisvrouens maak dun broodjies wat tortillas genoem word. In Ethiopië maak die vrouens ’n eenvoudige brood deur ’n loperige deeg in ringe op ’n warm plaat te gooi. In Westerse lande word brood op groot skaal in ’n verstommende verskeidenheid vorms en groottes geproduseer. En baie huisvrouens in daardie lande bederf steeds hulle gesin met verskillende soorte tuisgebakte brood.

Wie watertand nie as hy warm brood ruik wat uit die oond gehaal word nie? Die reuk kan verbygangers in ’n bakkery in lok. Vir baie wek dit aangename herinneringe aan hulle huis en die veiligheid van hulle kinderdae.

Dit is nie seker wie nou eintlik die broodbakkuns ontdek het nie. In Genesis 3:19 is daar vir die eerste mensesondaars gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde.” Die woord “brood” is hier blykbaar bloot as ’n simbool van voedsel in die algemeen gebruik. In Genesis 14:18, 19 lees ons egter dat die priester Melgisedek “brood en wyn” gebring het toe hy uitgetrek het om die aartsvader Abraham te seën. Dit was ongetwyfeld ’n soort brood wat ’n stapelvoedsel vir die mense van die ou tyd was. In party dele van die Midde-Ooste is brood steeds ’n stapelvoedsel.

Antieke Egipte het kommersiële bakkers gehad, en so ook latere nasies soos Griekeland en Rome. Teen die einde van die 19de eeu was die Industriële Omwenteling in volle gang. Brood is al hoe minder in huise gebak namate fabrieke dit in massa begin produseer het. ’n Aantal nuwe uitvindsels het in hierdie produksiebehoeftes voorsien: mengtoestelle, vervoerkettings, outomatiese bakoonde, asook sny- en toedraaimasjiene. Broodbakkery het van ’n huishoudelike kuns tot ’n kommersiële wetenskap ontwikkel.

Baie, indien nie die meeste, van die brood wat vandag in nywerheidslande verbruik word, word kommersieel geproduseer. En dit speel steeds ’n belangrike rol in die kookkuns van baie kulture. Kan jy jou ’n spaghettimaaltyd sonder korserige Italiaanse brood voorstel? Of dink aan ’n stywe Duitse suurkoolgereg sonder die smaak van donker, taai, growwe rogbrood! Wie kan plaatkoekies op ’n koue wintersoggend weerstaan? Plaatkoekies is maar net vinnig gebakte brood wat van mieliemeel, volkoringmeelblom of bokwietmeelblom gemaak word.

Die soort brood wat vir Italiaanse pizzas gebruik word, het baie gewild geword in Westerse lande. Dit is ook iets besonders om te sien hoe dit voorberei word; selfs volwassenes sal met kinderlike verwondering kyk wanneer ’n pizzabakker met die vaardigheid van ’n sirkusarties die ronde stuk deeg bo sy kop in die rondte laat tol.

Iets vir elkeen? Ja, inderdaad! Maar een van die beste maniere om brood te geniet, is moontlik om jou eie te probeer bak. Jy sal jou dalk verbaas oor die bevrediging wat jy uit hierdie persoonlike poging kan put. En dit kan ’n huisvrou skeppingsbevrediging gee, iets wat die waskamer of skropemmer haar nie sal gee nie.

Met die bygaande resep sal jy brood kan bak wat met suurdeeg rys en gewild is in Westerse lande. Dit kan heel prettig wees om die bestanddele af te meet en te meng. En as jy die deeg knie, kan jy op ’n gesonde manier aan allerhande frustrasies uiting gee! ’n Ander fassinerende deel van broodbakkery is om die brood te sien rys. Dit rys as gevolg van gisting. Wanneer suurdeeg by die deeg gevoeg word, veroorsaak dit koolstofdioksiedborrels, wat die deeg poreus maak. Dan word die deeg afgeknie, tot brode gevorm en in broodpanne gelaat om weer te rys voor dit gebak word. Daarna word die brood in die oond gesit—en wat ’n heerlike reuk versprei deur die huis! Maar dit is die lekkerste om dit te proe. Dit sal vir jou dalk moeilik wees om weer winkelbrood te koop. En as jy eers die slag het om brood te bak, sal jy moontlik graag met verskillende soorte meel wil eksperimenteer, soos met koring-, gars-, rog-, mielie-, rys-, aartappel- of sojaboonmeel.

Miskien is dit wel vir jou geriefliker om eenvoudig een van die verskillende soorte kommersieel gebakte brode te koop. Maar wat ook al vir jou die lekkerste is, om dit te bak of te eet, en hetsy dit ’n belangrike deel van jou dieet uitmaak of net eenvoudig ’n bygereg is, moet jy probeer om brood nie as vanselfsprekend te aanvaar nie. Dit is God self wat “ons daaglikse brood” voorsien!

[Venster/Prent op bladsy 27]

Broodresep

Los 1 koekie suurdeeg (of 3 pakkies droë gis) in 4 koppies warm water op

Roer 5 koppies meelblom by (volkoring of wit)

Laat die mengsel in ’n warm plek tot dubbel sy volume rys

Voeg 2 teelepels sout, 1/2 koppie suiker, 1/2 koppie plantaardige vet by

Meng goed

Voeg nog ongeveer 4 koppies meelblom by om ’n stywer deeg te kry

Knie vir 15 minute op ’n meelbestrooide oppervlakte

Laat deeg in ’n gesmeerde bak tot dubbel sy volume rys

Knie liggies en vorm brode

Laat deeg vir ’n paar minute in gesmeerde broodpanne rys

Bak een uur teen 165°C

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel