My dors na God word bevredig
EK HET tien jaar aan Suid-Amerikaanse seminaries gestudeer, en in die laaste drie jaar het ek in die teologie en filosofie gespesialiseer. Maar nou het ’n eenvoudige landbewoner vir my gesê hy kan my help om die Bybel te verstaan. My teleurstelling met my seminarie-opleiding het my laat luister.
Waarom wou ek ’n priester word? Maar waarom het ek, nadat ek jare lank in seminaries was, steeds ’n onversadigde dors na God gehad?
’n Eenvoudige agtergrond
My ouers het die sewe van ons seuns in Vallegrande in Bolivia grootgemaak. Ons het in ’n vrugbare vallei gewoon en met beeste sowel as met gewasse soos mielies, grondboontjies en aartappels geboer. Die dorp Naranjal waar ons gewoon het, was afgesonderd en ek kon dus nie skool toe gaan nie. Ek het egter geleer lees en skryf.
Elke jaar het ’n Rooms-Katolieke priester ons dorp tydens die plaaslike godsdiensfees besoek. Ek het altyd die manier bewonder waarop hy van God gepraat het. Tydens die een besoek het hy aangekondig dat daar ’n seminarie in Bolivia geopen is om jong mans as priesters op te lei. Toe ek sê dat ek graag van God wou leer, het hy belangstelling in my begin toon. Hy het gesê: “Jy kan soos ’n leer word en mense help om in die hemel te kom.”
Ek wou baie graag na die seminarie gaan en kennis van God opdoen. Ek het gehoop dat die dinge wat my gepla het daar opgeklaar sou word. Hoewel my ma my byvoorbeeld geleer het dat die berge, blomme en bome gawes van God af was, het sy ook gesê dat God party mense hel toe stuur om verskriklike foltering te ondergaan. ‘Hoe kan God so wees?’ het ek gewonder.
Seminarie-opleiding
Die nuwe seminarie was in Tupiza, ’n dorp in ’n pragtige vallei. Ek het in 1958 daar aangekom. Toe ek jonger was, het ek dit geniet om ’n koppie uit te klim waar ek oor ons liefdevolle Skepper gepeins het. Maar ek was teleurgesteld omdat ek nie veel van God by die seminarie geleer het nie. Hulle het nie eers die volledige Bybel daar gehad nie, net die “Nuwe Testament”. Toe ek vir een gevra het, het die onderrigters gesê dat ek geduldig moet wees.
Ná die eerste jaar het net drie van ons gekwalifiseer om met die kursus voort te gaan. Al die ander is huis toe gestuur. Aangesien ons so min was, is ons na Buenos Aires, Argentinië, gestuur om ons studies voort te sit. Toe ek by die San Miguel-seminarie aankom, is ek met ontsag vervul. Dit het na so ’n groot plek gelyk. ‘Hiér sal ek beslis nader aan God kom’, het ek gedink. Ons het Latyn, Grieks, Engels en Frans gestudeer en het die lewensverhale gelees van diegene wat deur die Katolieke Kerk as “heiliges” vereer word. Maar hierdie studies het my nie bevredig nie. My vrae het onbeantwoord gebly.
“Hoe kan God ’n Drie-eenheid wees?” het ek een van die onderrigters gevra. Hy het geantwoord dat selfs groot teoloë soos die 13de-eeuse Italianer Thomas van Aquino nie sulke dinge kon verduidelik nie. Ek het toe nog steeds nie ’n volledige Bybel gesien nie en het een van die professors gevolglik oor die “Ou Testament” uitgevra.
“Dít is net vir die Protestante”, het hy gesê.
Ek het gewonder hoe dit kon wees, aangesien ek geweet het dat Jesus dikwels daaruit aangehaal het. Ek het gefrustreerd en neerslagtig geraak.
Mettertyd is ses van ons as novises gekies, en ons het geloftes van kuisheid, armoede en gehoorsaamheid afgelê. Nadat ons ’n jaar lank as novises gestudeer het, het ons na die seminarie in Cordoba, Argentinië, toe gegaan. Ons kon net gewyde drag dra, wat bestaan het uit ’n lang, swart kleed en ’n wit kraag, asook ’n rosekrans en ’n groot kruisbeeld. Ek is met afwagting vervul; ek sou nou vir die eerste keer ’n kursus in die teologie volg.
Verdere teleurstelling
Die kursus in die teologie het ’n studie van hoër kritiek bevat, wat die Bybel, soos enige ander boek, as ’n letterkundige werk beskou. Ek was teleurgesteld omdat my talle vrae steeds nie beantwoord is nie. Ek het ’n intieme vriend van ’n biskop geword. “Hoekom sê die Bybel dat Jesus in die hel was?” het ek gevra (Handelinge 2:31).a Maar hy het eenvoudig my vraag ontwyk.
Daar was ook talle sedelike vrae wat my gekwel het. Ek het ’n teoloog oor masturbasie en geslagsomgang tussen ongetroudes uitgevra. Pleks van te wys wat God se Woord oor sulke sake sê, was hy geesdriftig oor die jongste idees van bekende teoloë in Parys. Hy het my een van hulle boeke gewys. “Hulle sê dat hierdie dinge nie sonde is nie”, het hy gesê. “Jy het niks om oor bekommerd te wees nie.” Maar dié antwoord het my nie bevredig nie.
Eendag het ek deur die boeke in die seminarie se biblioteek geblaai toe ek toevallig ’n Franse boek oopgemaak het. Dit het Psalm 42:3 aangehaal, wat sê: “My siel dors na God.” Ek het gedink: ‘Dit is presies hoe ek voel!’ Kort daarna, terwyl ek my ouerhuis besoek het, het ek na die klooster in die nabygeleë dorp, Vallegrande, gegaan. Daar in die boekwinkel het ek ’n eksemplaar van die volledige Bybel—die Nácar-Colunga-vertaling—gesien. Dit was die eerste keer dat ek ’n volledige Bybel gesien het. Ek het gevra of ek dit kon koop en het amper nie geglo dat dit moontlik sou wees nie. Hoe bly was ek tog toe ek met my eie Bybel onder my arm by daardie winkel kon uitstap!
Ek het al singende en fluitende huis toe gestap. Toe ek by die huis kom, het ek Psalm 42 begin lees, wat só begin: “Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God.” ‘Miskien,’ het ek gedink, ‘sal my dors na God nóú bevredig word.’ Maar ek het gou besef dat ek hulp nodig sou hê om Bybelantwoorde op my vrae te vind. My seminariestudies het nie gehelp nie.
In 1966 is daar vir my gesê dat ’n hoër seminarie wat in die teologie en filosofie spesialiseer naby Cochabamba in my geboorteland, Bolivia, geopen is en dat ek daarheen oorgeplaas sou word. Die seminariepersoneel het uit jong Spaanse priesters, moderne teoloë, bestaan en het ’n pragtige biblioteek gehad. ‘Miskien sal ek nóú die antwoorde op my vrae vind’, het ek gedink.
Ek het dikwels vrae gevra soos: “Hoe kan Maria die moeder van God wees?” Maar die onderrigters het hulle nie veel aan sulke vrae gesteur nie. Hulle het eerder meer in die Kommunistiese filosofie belanggestel. Ek het eenkeer ’n kardinaal ontmoet, maar hy het meer daarin belanggestel om my van sy ondervindinge tydens die Tweede Wêreldoorlog te vertel as om my vrae te beantwoord.
Nadat ek tien jaar opleiding in seminaries ontvang het, het ek ’n jaar se verlof gevra sodat ek kon uitkom en mense ontmoet. Ek wou met mense oor die evangelie praat. Ek het gou besef dat ek nooit met kloosters tevrede sou wees nie en het dus besluit om te vra dat ek van my geloftes vrygestel word. Later het ek met ’n voormalige non, Porfiria, getrou. Ons het in die stad Santa Cruz, Bolivia, gaan loseer.
’n Onverwagse besoeker
Die volgende jaar het ek op ’n dag op die patio gesit waar die eienares besig was om brood in ’n kooloond te bak. ’n Man het by die hek aangekom. Ek het aangeneem dat hy haar oor iets kom sien en het gevolglik uitgeroep: “Kom in!” Hy het en het langs my kom sit. Hoewel hy netjies aangetrek was, kon ek aan sy voorkoms sien dat hy ’n eenvoudige agtergrond het. Tot my verbasing het hy met my oor die Bybel begin praat.
Ek het later uitgevind dat die man se naam Adrian Guerra is en dat hy een van Jehovah se Getuies is. Dit het my nie lank geneem om te besef dat hy nie goed kon lees nie. Ek was op my hoede vir hom, maar ek was nie bang nie. ‘Ek ken per slot van rekening Latyn en Grieks’, het ek gedink. ‘Ek het in die teologie gestudeer en jare lank die filosofie met teoloë en biskoppe bespreek.’ Ek was nie trots of het hom verag nie, maar ek het eenvoudig nie gedink dat ek enigiets van hom sou leer nie.
Hy wou my mening hoor oor die vraag: Waarom is daar so ’n vermeerdering van ongeregtigheid in die wêreld? Ons het hieroor gesels, en toe het hy gevra dat ek vir hom my Bybel wys. Teen dié tyd het ek al die pas gepubliseerde Katolieke Jerusalem Bible gekoop. Hy het gevra dat ek Openbaring 12:12 lees, wat sê: “Maar vir julle, aarde en see, kom daar probleme—want die duiwel het in groot woede na julle neergedaal, want hy weet dat sy dae getel is.”
“Hier praat dit seker van die tyd toe die sonde begin het”, het ek geantwoord. Hy het gevra dat ek die konteks, verse 7-10, lees, wat sê dat daar oorlog in die hemel uitgebreek het toe Christus Koning geword het en dat Satan en sy engele as gevolg daarvan na die aarde toe neergewerp is. “Die verskriklike toestande wat ons nou sien, is die gevolg van die Duiwel se groter woede”, het Adrian verduidelik. “Maar ons kan bly wees dat Christus nou Koning is en dat die Duiwel se dae getel is.”
Dit het my gefassineer om hierdie dinge uit my Bybel te leer. Maar ek was ook verbaas dat hierdie eenvoudige man, wat so vriendelik geglimlag het, so daar kon sit en die Skrif kalm aan my kon verduidelik.
My dors na God word bevredig
Adrian het lektuur by my gelos en belowe om terug te kom. Ek was bly toe hy weer gekom het, en ek het hom vrae begin vra wat my al so lank verwar het, soos: “Hoe kan God ’n Drie-eenheid wees?” en “Waarom was Jesus in die hel?” Hy het ’n Bybelstudiehulp, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, gebruik en my uit my eie Bybel die tekste laat lees wat daarin genoem is en wat my vrae beantwoord het. Ek het soos ’n burro (donkie of domkop) gevoel. Ek het geleer dat God se naam Jahweh, of Jehovah, is en dat hy nie ’n Drie-eenheid is nie, dat die hel die graf is en dat Jesus vir dele van drie dae in ’n onbewuste toestand daar was.—Psalm 16:10; Prediker 9:10; Jesaja 42:8, NW.
Toe ek in die seminarie was, het ek dikwels vrae oor die lewe in die hiernamaals gevra en daar is vir my gesê dat die hemel soos ’n groot kerk is waar almal voor God sal staan en bid. ‘Hoe vervelig sal dit tog wees!’ het ek gedink. Maar nou, namate die Bybel se belofte van ewige lewe op ’n paradysaarde aan my verduidelik is, kon ek weer in God se liefde vir die mensdom glo.—Psalm 37:9-11, 39; Openbaring 21:3, 4.
Ná ’n paar besoeke het Adrian eendag saam met ’n vreemdeling daar aangekom, wat hy as ’n gemeentelike opsiener aan my voorgestel het. “Jy vra so baie vrae”, het hy gesê, “dat ek besluit het hierdie sendeling sal jou baie beter kan help.” Maar ek het van Adrian gehou, en die sendeling se teenwoordigheid het my senuweeagtig gemaak. Ek het dus voortgegaan om die Bybel saam met Adrian te studeer. Ek het vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon en het die Bybeltoesprake baie leersaam gevind.
Ek oorkom my vrees
Adrian het my mettertyd begin aanmoedig om dit wat ek geleer het aan ander te vertel. Jehovah se Getuies word by hulle vergaderinge aangemoedig om van huis tot huis te onderrig. Trouens, ek het uitgevind dat die Bybeltema wat Adrian die eerste keer met my bespreek het, oor die oorsaak van die vermeerdering in ongeregtigheid, daardie maand in 1970 die aanbevole onderwerp vir gesprekke vir Jehovah se Getuies in Bolivia was. Ek kon sien dat die opleiding wat Adrian ontvang het hom beter toegerus het om God te dien as wat my tien jaar lange opleiding my toegerus het! Maar die gedagte daaraan dat ek mense by hulle huis moes besoek, het my afgeskrik. Dit was so anders as om vir mense te preek wat kerk toe kom.
Die volgende keer wat Adrian gekom het om met my studie te hou, het ek in die huis weggekruip en voorgegee dat ek nie tuis is nie. Hy moes dit vermoed het, want hy het geduldig ’n volle halfuur lank buite gewag voor hy vertrek het. Maar hy het nie moed opgegee met my nie; tot my verbasing het hy die volgende week teruggekom. My liefde vir Jehovah het geleidelik versterk, en ek het my vrees oorkom. In 1973 is ek en my vrou gedoop. Porfiria het die pionierdiens betree en voltyds in die predikingswerk gedien en Bybelstudies gehou. Sy het daarmee volgehou tot op die dag van haar dood vroeg in 1992.
Adrian het vlot begin lees, en ek dien nou al baie jare as ’n ouere man in die gemeente. Albei van ons verkondig steeds die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis. Ek het onlangs ’n vrou ontmoet wat gesê het: “Jy moes in die kerk gebly het. Jy sou talle goeie dinge vanuit die kerk tot stand kon bring.”
Ek het haar gevra om vir my haar Bybel te bring. Nadat sy dit gedoen het, het ek haar Jeremia 2:13 gewys, wat beskryf hoe Israel God se Woord verwerp het. Dit sê: “My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”
“Iets soortgelyks het met die kerk gebeur”, het ek vir haar gesê. “Om mense se dors na God met onbybelse Katolieke leerstellings te probeer bevredig, is soos om ’n gebarste reënbak te probeer gebruik om water te voorsien.” Ja, dit was eers toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het dat my dors na God bevredig is.—Soos vertel deur Hugo Durán.
[Voetnoot]
a Die gedagte dat Jesus in die hel was, is op die bewoording van die geloofsbelydenis gegrond en ook op Handelinge 2:31 in party Bybels in Spaans, Engels en ander tale.
[Prent op bladsy 15]
Ek en Adrian dra die Koninkryksboodskap saam aan ander oor