Olifante—Vriende of vyande?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
OLIFANTE word om verskeie redes waardeer en om ander redes gehaat. Vir party mense is hulle nuttige werkers, bedrewe daarin om yslike stompe te vervoer en in netjiese rye te pak. Ander weer heg waarde aan olifante vir hulle tande, vel en vleis. Nog ander beskou hulle net as ’n bedreiging vir hulle grond en gewasse.
Baie navorsers heg egter waarde aan olifante vir hulle amusante gewoontes. Cynthia Moss het olifante 13 jaar lank in Kenia se Amboseli-natuurreservaat bestudeer. Sy skryf in haar boek Elephant Memories: “Ek het al gesien hoe die waardige ou aartsmoeders hulle families lei en verdedig en ek het ook al gesien hoe hulle alle waardigheid verloor en al spelende rondhardloop met hulle stert oor hulle rug opgekrul en ’n wilde glinstering in hulle oë.”
Daphne Sheldrick van Kenia het talle olifantwesies grootgemaak en hulle weer in die natuur vrygelaat. In ’n onderhoud met die tydskrif Getaway het sy verduidelik: “Al die olifantjies wat hier aankom, het verskillende geaardhede, net soos mensekinders. . . . Hulle is ’n bietjie mededingend, hulle word jaloers en wanneer jy hulle berispe, kan hulle dikbek raak. . . . Party van hulle sal opsetlik ondeund of ongehoorsaam wees. Ons moet hulle dissiplineer, net soos jy mensekinders dissiplineer.”
Behalwe dat olifante amusant is, speel hulle ’n praktiese rol in die natuur. ’n Redelike aantal olifante in ’n beperkte streek dra by tot ’n groter verskeidenheid en ’n oorvloed van plantsoorte. Die boek Elephants, Economics and Ivory noem ander waardevolle funksies, soos die feit dat hulle nuwe grasvlaktes skep, sade versprei en “die verskyning van die tsetsevlieg” verminder. “Olifante”, som die skrywers op, “speel ’n onmisbare, ekologiese rol in die savannes en woude van Afrika.”
As daar egter te veel olifante is, beskadig hulle die plantegroei. Dit is wanneer hulle vir party mense ’n vyand word. Daarom dun bewaringsgesindes olifante in party beperkte streke gereeld uit. In ander dele van Afrika waar olifante nog volop ruimte het, is daar nog nie van uitdunning gebruik gemaak nie. Dit hou voordele in. “In Kenia se Amboseli-natuurreservaat”, verduidelik die tydskrif New Scientist, “waar daar glad nie van uitdunning gebruik gemaak is nie, loop olifante vrylik tussen die mense rond en toon geen vrees vir hulle nie.”
Wetenskaplikes bestudeer alternatiewe metodes om die geboortesyfer van olifante te verminder. Terwyl die mens intussen meer omtrent olifante te wete kom, sal hy ongetwyfeld meer redes vind om hulle as vriende te beskou.
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Animals/Jim Harter/Dover Publications, Inc.