Volmaakte huishoudstertjies
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
OPENINGS in Afrika se reënwoude word dikwels gevul deur die barteria, ’n boom met hol takke. Om sy maksimum hoogte te bereik, moet die boom meeding met ander bome wat boontoe beur om die wouddak te bereik. Om in hierdie oorlewingstryd te slaag, het die barteria hulp nodig om vry te bly van versmorende slingerplante en van mos wat verhinder dat lig die blare bereik. Dit is waar swartsteekmiere ’n belangrike rol as huishoudstertjies vervul. Die verhouding tussen mier en boom is verfilm in Korup, ’n reënwoud van Kameroen, as deel van die dokumentêre TV-program African Rainforest: Korup, wat deur Phil Agland en Michael Rosenberg vervaardig is.
Die dokumentêre video wys hoe ’n nuwe mierkoningin ’n barteriaboom uitsoek. Sy weet instinktief dat die hol takke die ideale plek is om haar kolonie te begin. Nadat sy ’n gaatjie in ’n tak geboor het, lê sy haar eiers daarin. Die hol takke is ook die tuiste van dopluisies wat op die boom se sap teer. Die miere versorg hierdie plantluise soos lewende hawe en melk hulle om ’n voedsame drankie te kry.
Sodra die mierkolonie groot genoeg is, begin die miere ander inwoners verdryf en die boom skoonmaak. Hoe fassinerend is dit tog om hierdie vlytige huishoudstertjies dop te hou! Van hulle klim af tot waar die boom uit die grond kom en dam die slingerplante by wat dreig om die boom te versmoor. Hulle knaag dwarsdeur die stamme en maak sodoende die slingerplante dood. ’n Mens sien ander miere wat besig is om afval, mos en korsmos van die blare af te verwyder. Selfs ’n ruspe wat betrap word waar hy onder ’n blaar skuil, word uitgegooi.
“Met pynlike netheid”, verduidelik die dokumentêre video, “ruim die miere elke stukkie afval op. Noudat die barteria van alle skadelike insekte en slingerplante bevry is, kan hy suksesvol met die ander bome meeding terwyl sy miere hom beskerm. As vergoeding kan die miere die barteria se hol takke gebruik om hulle dopluise—hulle enigste voedselbron—aan te hou en om hulle eie larwes groot te maak.”
Watter vlytige werkers is hierdie miere tog! Soos ’n ou spreuk sê: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!”—Spreuke 6:6.