Hy ‘het aan sy Skepper gedink in die dae van sy jonkheid’
“ADRIAN het altyd baie meer aandag van ons as ouers vereis”, het sy pa gesê. “Toe hy vier was, het hy met die gesin se motor in ’n boom vasgery en ons was gevolglik almal laat vir die gemeentelike vergadering. Toe hy vyf was, het hy ’n klomp paddas bymekaargemaak en hulle in die huis gebring. Dit het dae geneem om van die goed ontslae te raak. Ons het soos ’n Egiptiese gesin gevoel gedurende die Bybelse plaag van paddas.
“Toe hy 11 was, het hy drie wasbeertjies langs die hoofweg gevind en hulle in sy boeksak skool toe geneem. Toe die onderwyseres in die klaskamer kom, was daar chaos—kinders het om Adrian se boeksak saamgedrom en opgewonde gebabbel. Die onderwyseres het in die sak geloer, die wasbeertjies gesien en het hom en sy troeteldiere per motor na ’n plek toe geneem waar hulle diertjies versorg wat wees is. Adrian was in trane by die gedagte daaraan dat hy sy wasbeertjies moes afstaan, maar nadat hy die plek besigtig het en gesien het dat hulle klein jakkalsies en ander wesies goed versorg, het hy sy wasbeertjies daar gelos.”
Sy pa het verder gesê: “Adrian was nie ’n stout kind nie. Net baie woelig. Hy het ’n lewendige verbeelding gehad wat die lewe interessant gehou het.”
Adrian se ma het ’n heel ander prentjie van hom geskilder—hy was gesinsgeoriënteerd, ’n kind wat dit geniet het om by die huis te wees en ’n baie liefdevolle seun. Sy vertel: “Die kinders by die skool het hom beskryf as ’n kind wat niemand kwaad sou aandoen nie. ’n Meisie in sy klas was verstandelik beperk hoewel sy nie vertraag was nie. Sy het saam met Adrian op die skoolbus gery. Ander kinders het haar gespot, maar haar ma het ons vertel dat Adrian haar dogter altyd met respek en spesiale vriendelikheid behandel het. Hy was ook ernstig—’n baie bedagsame kind met diepliggende gevoelens wat hy nie dikwels uitgedruk het nie. Maar wanneer hy dit wel gedoen het, het hy ons verras met kommentare wat diep insig in sake getoon het.”
Sy het haar opsomming van haar seun soos volg afgesluit: “Sy siekte het hom vinnig volwasse gemaak en ’n dieper geestelikheid in hom geskep.”
Hy was vasbeslote—geen bloed!
Sy siekte? Ja. Dit het in Maart 1993 begin toe Adrian 14 was. ’n Gewas wat vinnig gegroei het, is in sy maag gevind. Die dokters wou ’n biopsie doen, maar was bang dat daar uitermatige bloeding sou wees en het gesê dat ’n bloedoortapping dalk nodig sal wees. Adrian het nee gesê. Hy was vasbeslote. Hy het met trane in sy oë gesê: “Ek sal eenvoudig nie met myself kan saamleef as ek bloed gegee word nie.” Hy en sy gesin was Getuies van Jehovah, wat bloedoortappings weier op grond van wat die Bybel in Levitikus 17:10-12 en Handelinge 15:28, 29 sê.
Terwyl Adrian in die Dr. Charles A. Janeway-kindergesondheidsentrum in St. John’s, Newfoundland, gewag het op die biopsie—wat sonder bloed gedoen sou word—het ’n gewaskundige, dr. Lawrence Jardine, hom gevra dat hy sy standpunt oor bloed moet verduidelik.
“U sien, Dokter”, het Adrian gesê, “dit maak nie saak of my ouers Jehovah se Getuies is of nie. Ek sou nog steeds nie bloed geneem het nie.”
Dr. Jardine het gevra: “Besef jy dat jy kan sterf as jy nie ’n bloedoortapping neem nie?”
“Ja, Dokter.”
“En jy is bereid om dit te doen?”
“As dit daarop neerkom.”
Sy ma, wat ook teenwoordig was, het gevra: “Waarom neem jy so ’n standpunt in?”
Adrian het geantwoord: “Mams, dis nie ’n goeie ruil nie. Om ongehoorsaam aan God te wees en my lewe nou met ’n paar jaar te verleng en om dan weens my ongehoorsaamheid aan God nie ’n opstanding en die ewige lewe op sy paradysaarde te kry nie—dis beslis nie slim nie!”—Psalm 37:10, 11; Spreuke 2:21, 22.
Die biopsie is op 18 Maart gedoen. Dit het gewys dat Adrian ’n groot limfselgewas gehad het. ’n Verdere beenmurgbiopsie het die vrees bevestig dat hy leukemie ontwikkel het. Dr. Jardine het nou verduidelik dat ’n baie intensiewe chemoterapieprogram met bloedoortappings die enigste manier was waarop Adrian enigsins ’n kans gehad het om te leef. Adrian het egter steeds bloedoortappings geweier. Daar is met chemoterapie begin, maar sonder die oortappings.
Maar nou, tydens hierdie kritieke stadium van die behandeling, is daar gevrees dat die Departement van Kindersorg dalk sou ingryp en ’n hofbevel sou kry om toesig oor Adrian te verkry, asook die gesag om hom bloedoortappings te gee. Volgens die wet kon enigeen van 16 jaar of ouer sy eie besluite oor behandeling neem. Die enigste manier waarop iemand onder 16 daardie reg kon verkry, was om as ’n volwasse minderjarige verklaar te word.
In Newfoundland se Appèlhof
Toe, op Sondagoggend, 18 Julie, het die waarnemende direktrise van die Departement van Kindersorg wel ’n hofsaak begin om toesig te verkry. ’n Uitstekende en hoogs gerespekteerde advokaat, David C. Day, Q.C., van St. John’s, Newfoundland, is onmiddellik in diens geneem om Adrian te verteenwoordig. Daardie selfde middag, om 3:30, is die Appèlhof van Newfoundland onder regter Robert Wells byeengeroep.
Gedurende die middagsessie het dr. Jardine dit aan die regter baie duidelik gestel dat hy Adrian as ’n volwasse minderjarige beskou wat ’n diepliggende godsdiensoortuiging teen die gebruik van bloed het en dat hy, dr. Jardine, Adrian belowe het dat hy nie bloedoortappings in enige behandeling sou insluit nie. Regter Wells het die dokter gevra of hy ’n oortapping sou uitvoer indien die hof dit beveel. Dr. Jardine het geantwoord: “Nee, ek persoonlik sal dit nie doen nie.” Hy het genoem dat Adrian oortuig was dat dit sy Bybelse hoop op die ewige lewe in gevaar sou stel. Die opregte getuienis van hierdie merkwaardige dokter was verbasend sowel as hartverblydend en het trane van vreugde in die oë van Adrian se ouers laat opwel.
“Respekteer my en my wense, asseblief”
Toe die hof weer op Maandag, 19 Julie, vergader het, het David Day afskrifte van ’n beëdigde verklaring voorgelê wat Adrian—wat te siek was om in die hof te verskyn—voorberei en onderteken het waarin hy sy eie wense oor die behandeling van sy kanker sonder die gebruik van bloed of bloedprodukte uiteengesit het. Daarin het Adrian gesê:
“Wanneer ’n mens siek is, dink jy baie, en as jy weens kanker siek is, weet jy dat jy kan sterf en jy dink daaraan. . . . Ek sal nie tot bloed instem of toelaat dat dit gebruik word nie; beslis nie. Ek weet dat ek kan sterf as geen bloed gebruik word nie. Maar dis my besluit. Niemand het my omgepraat om so te besluit nie. Ek vertrou dr. Jardine. Ek glo dat hy ’n man van sy woord is. Hy sê dat hy my intensiewe behandeling sonder enige bloed sal gee. Hy het my van die risiko’s vertel. Ek verstaan dit. Ek weet wat die ergste is wat kan gebeur. . . . Ek voel dat dit sal wees asof ek verkrag word as ek enige bloed gegee word, asof ek aangerand word. As dít gebeur, wil ek nie my liggaam hê nie. Ek kan nie daarmee saamleef nie. Ek wil geen behandeling hê as bloed gebruik gaan word nie, selfs nie eers as daar ’n moontlikheid daarvan is nie. Ek sal my teen die gebruik van bloed verset.” Adrian se beëdigde verklaring het met hierdie versoek afgesluit: “Respekteer my en my wense, asseblief.”
Gedurende die verhoor kon Adrian nie sy hospitaalkamer verlaat nie en het regter Wells hom goedgunstiglik daar kom besoek, met David Day wat teenwoordig was. Toe mnr. Day van daardie onderhoud verslag gegee het, het hy melding gemaak van Adrian se boeiende en oortuigende kommentare teenoor die regter in verband met hierdie saak: “Ek weet dat ek baie siek is, en ek weet dat ek kan sterf. Party mediese mense sê dat bloed sal help. Ek dink nie so nie, nie met al die gevare waarvan ek lees nie. Of dit nou help of nie, my geloof is teen bloed gekant. Respekteer my geloof en julle sal my respekteer. As julle nie my geloof respekteer nie, sal ek voel asof ek verkrag is. As julle wel my geloof respekteer, kan ek my siekte met waardigheid trotseer. Geloof is omtrent al wat ek het, en dis nou die belangrikste ding wat ek nodig het om my te help om die siekte te beveg.”
Mnr. Day het self ’n paar opmerkings oor Adrian gemaak: “Hy was ’n kliënt wat daartoe in staat was om sy ernstige siekte geduldig, met vasberadenheid en dapperheid te hanteer. Daar was vasberadenheid in sy oë; bedaarde selfvertroue in sy stem; moed in sy optrede. Bowenal het sy woorde en lyftaal ’n onwrikbare geloof aan my oorgedra. Sy kenmerkende eienskap was geloof. ’n Ontoegeeflike siekte het vereis dat hy brûe tussen jeugdrome en die volwasse werklikheid bou. Geloof het hom gehelp om dit te doen. . . . Hy was heeltemal openhartig en, volgens my mening, opreg. . . . Ek was op my hoede vir die moontlikheid dat sy ouers hulle teenkanting teen die gebruik van bloed in sy mediese behandeling aan hom [opgedwing het]. . . . Ek was tevrede [dat] hy geweet het wat hy wil hê toe hy sy wens uitgespreek het om sonder bloed behandel te word.”
By ’n ander geleentheid het mnr. Day ’n opmerking gemaak oor Adrian se opvattings wat “vir hom waardevoller was as die lewe self” en toe bygevoeg: “Hierdie standvastige jong man, wat met sulke groot probleme te kampe het, laat my voel asof al die ellendes in my lewe onbenullig is. Ek sal hom nooit vergeet nie. Hy is ’n volwasse minderjarige met geweldige moed, insig en intelligensie.”
Die besluit—Adrian is ’n volwasse minderjarige
Op Maandag, 19 Julie, is die verhoor afgesluit en het regter Wells sy beslissing gevel wat later in die Human Rights Law Journal van 30 September 1993 gepubliseer is. Hier is ’n paar aanhalings:
“Weens die volgende redes is die Direkteur van Kindersorg se aansoeke van die hand gewys; die kind het nie beskerming nodig nie; daar is nie bewys dat die gebruik van bloed of bloedprodukte met die doel om bloedoortappings of inspuitings te gee noodsaaklik is nie, en in die spesifieke omstandighede van hierdie saak kan dit nadelig wees.
“Tensy ’n verandering in omstandighede ’n verdere bevel noodsaak, word die gebruik van bloed of bloedprodukte in sy behandeling verbied en word die seun as ’n volwasse minderjarige verklaar wie se wens om mediese behandeling sonder bloed of bloedprodukte te ontvang, gerespekteer moet word. . . .
“Daar bestaan geen twyfel dat hierdie ‘jong persoon’ baie moedig is nie. Ek dink hy het die ondersteuning van ’n liefdevolle en sorgsame gesin en ek dink hy pak sy siekte met baie moed aan. ’n Deel van sy godsdiensoortuiging is dat dit vir hom verkeerd is om bloedprodukte te gebruik deur dit in sy liggaam in te neem, vir watter doel ook al . . . Ek het gister die geleentheid gehad om ’n beëdigde verklaring te lees wat A. afgelê het, en ek het die geleentheid gehad om sy moeder aan te hoor, wat getuienis afgelê het, en ek het die geleentheid gehad of met A. self te praat.
“Ek is tevrede dat hy met sy hele hart glo dat dit verkeerd is om bloed te neem en dat die toediening van bloed in die omstandighede onder bespreking ’n skending van sy liggaam, ’n skending van sy privaatheid en ’n skending van sy hele wese sal wees, in so ’n mate dat dit ’n groot uitwerking sal hê op sy krag en op sy vermoë om die vreeslike beproewing die hoof te bied wat hy moet deurmaak, al gebeur wat.
“Ek stem saam dat die dokter iets besonder sinvols gesê het in sy opmerking dat die pasiënt seker van en positief oor chemoterapie en ander kankerbehandeling moet wees as daar enige hoop, enige werklike hoop, op sukses gaan wees en dat ’n pasiënt op wie iets geforseer word wat teen sy diepste oortuigings is ’n pasiënt sal wees wie se geskiktheid vir die behandeling drasties verminder sal wees. . . .
“Ek dink dat wat met A. gebeur het hom meer volwasse gemaak het as wat enige 15-jarige kan wees wat nie te kampe het en saamleef met die probleme waarmee hy te kampe het en moet saamleef nie. Ek dink sy ondervinding is die ergste waaraan ek kan dink en ek vermoed dat hulle geloof een van die dinge is wat hom en sy gesin onderskraag. Ek dink dat wat gebeur het, het A. meer volwasse gemaak as wat oor die algemeen van enige 15-jarige verwag kan word. Ek dink die seun met wie ek vanoggend gepraat het, is baie anders as ’n gewone 15-jarige, juis weens hierdie tragiese ondervinding.
“Ek dink hy is volwasse genoeg om ’n oortuigende beskouing te huldig en hy het dit aan my bekend gemaak . . . Ek is ook tevrede dat dit gepas vir my is . . . om sy wense in aanmerking te neem, wat ek dan doen. Sy wense is dat bloedprodukte nie aan hom toegedien word nie en ek is boonop oortuig dat sy belange onmiskenbaar en ernstig benadeel sal word as die direkteur hierdie wense nie op die een of ander manier vanweë ’n hofbevel van hierdie hof respekteer nie. . . . Wat meer is, indien—en dit is baie moontlik—hy wel aan hierdie siekte sou sterf, sou hy in ’n gemoedstemming wees wat, as sy godsdiensoortuiging in aanmerking geneem word, baie hartseer, baie rampspoedig en geensins na wense sal wees nie. Ek neem al hierdie dinge in ag. . . .
“Met die oog op al hierdie omstandighede meen ek dat dit vir my gepas is om die versoek te weier dat bloedprodukte in A. se behandeling gebruik word.”
Adrian se boodskap aan regter Wells
Dit was ’n buitengewoon bedagsame boodskap wat hierdie jong seun, wat geweet het dat hy besig was om te sterf, aan regter Robert Wells gestuur het, wat soos volg deur mnr. David Day oorgedra is: “Ek dink ek sou nalatig wees as ek u nie namens my kliënt, met wie ek net kortliks gepraat het nadat u die hospitaal vandag verlaat het, uit die diepte van sy hart, en dis ’n baie groot hart, bedank dat u hierdie saak met spoed en met sensitiwiteit en met groot billikheid behartig het nie. Hy is baie dankbaar teenoor u, U Edele, en ek wil graag hê dat die verslag dit moet toon. Ek dank u.”
Adrian se ma sluit vir ons die verhaal af.
“Ná die verhoor het Adrian dr. Jardine gevra: ‘Hoeveel langer het ek nog?’ Die dokter se antwoord was: ‘Een of twee weke.’ Ek het my seun een traan sien stort, wat uit styf saamgeperste ooglede gebiggel het. Ek het na hom toe gegaan om my arms om hom te slaan en hy het gesê: ‘Moenie, Mams. Ek is besig om te bid.’ Ná ’n paar oomblikke het ek gevra: ‘Hoe voel jy hieroor, Adrian?’ ‘Mams, ek gaan in elk geval leef, al sterf ek ook. En as ek net twee weke het om te leef, wil ek dit geniet. Mams sal maar net moet sterk wees.’
“Hy wou die Wagtoringgenootskap se tak in Georgetown, Kanada, besoek. En hy het dit gedoen. Hy het daar met een van sy maats in die swembad geswem. Hy het na ’n wedstryd van die Blue Jays-bofbalspan gaan kyk en sy foto saam met party van die spelers laat neem. Maar die belangrikste van alles, in sy hart het hy hom aan Jehovah God toegewy, en nou wou hy dit deur waterdoop simboliseer. Teen hierdie tyd het sy toestand versleg, en hy was terug in die hospitaal en kon dit nie meer verlaat nie. Die verpleegsters het dus goedgunstiglik gereël dat hy een van die tenks van vlekvrye staal in die fisioterapiekamer gebruik. Hy is op 12 September daar gedoop; hy het die volgende dag, op 13 September, gesterf.
“Sy begrafnis was die grootste wat die begrafnisonderneming al ooit gehad het—verpleegsters, dokters, ouers van pasiënte, klasmaats, bure en baie van sy geestelike broers en susters van sy eie en ander gemeentes. As ouers het ons nooit besef watter wonderlike eienskappe ons seun begin toon het terwyl hy sy talle beproewinge verduur het of die vriendelikheid en bedagsaamheid wat ’n deel van sy ontwikkelende Christelike persoonlikheid was nie. Die geïnspireerde psalmis het gesê: ‘Seuns is ’n erfdeel van Jehovah.’ Hierdie seun was beslis en ons sien uit daarna om hom in Jehovah se nuwe wêreld van geregtigheid te sien wat nou binnekort op ’n paradysaarde tot stand gebring gaan word.”—Psalm 127:3; Jakobus 1:2, 3.
Ons kan uitsien na die tyd wanneer Jesus se belofte in Johannes 5:28, 29 in Adrian se geval vervul gaan word: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”
Deur bloedoortappings te weier wat dalk sy teenswoordige lewe kon verleng het, het Adrian Yeatts getoon dat hy een van die talle jongmense is wat God eerste gestel het.
[Venster op bladsy 5]
‘Die lewe is in die bloed’
Bloed is ongelooflik ingewikkeld en bereik elke sel in die liggaam. In ’n enkele druppel is daar 250 000 000 rooi bloedselle wat suurstof vervoer en koolsuurgas verwyder; 400-000 wit bloedselle wat na ongewenste indringers soek en hulle vernietig; 15 000-000 bloedplaatjies wat onmiddellik vergader waar daar ’n sny is en begin stol om die opening te seël. Al hierdie selle kom in ’n helder, ivoorkleurige plasma voor, wat self uit honderde bestanddele bestaan wat lewensbelangrike rolle in die bloed se lang lys take speel. Wetenskaplikes verstaan nie wat bloed alles doen nie.
Dit is geen wonder nie dat Jehovah God, die Skepper van hierdie wonderbaarlike vloeistof, sê dat ‘die lewe in die bloed is’.—Levitikus 17:11, 14.
[Venster op bladsy 7]
’n Hartoorplanting sonder bloed
Verlede Oktober is die driejarige Chandra Sharp in ’n hospitaal in Cleveland, Ohio, VSA, opgeneem met ’n vergrote hart sowel as hartversaking. Sy was ondervoed, haar groei was belemmer, sy het net nege kilogram geweeg en moes ’n hartoorplanting kry. Sy is net ’n paar weke gegee om te lewe. Haar ouers het ingestem tot ’n hartoorplanting, maar nie tot ’n bloedoortapping nie. Hulle is Jehovah se Getuies.
Dit was nie vir die chirurg, dr. Charles Fraser, ’n probleem nie. Die tydskrif The Flint Journal van Michigan het op 1 Desember 1993 berig: “Fraser het gesê dat die Cleveland-kliniek en ander mediese sentrums bedrewe daarin word om baie operasies—waaronder oorplantings—uit te voer sonder om ander mense se bloed aan die pasiënt toe te dien. ‘Ons het meer geleer oor hoe om bloeding te voorkom en hoe om die hart-long-masjien met ander oplossings as bloed te vul’, het Fraser gesê.” Hy het toe bygevoeg: “Sommige gespesialiseerde hospitale voer al dekades lank groot kardiovaskulêre operasies sonder bloedoortappings uit. . . . Ons probeer altyd om operasies sonder (oorgetapte) bloed te doen.”
Op 29 Oktober het hy die hartoorplanting sonder enige bloedoortappings op Chandra uitgevoer. ’n Maand later het Chandra volgens berig goed gevaar.