Die sterre en die mens—Is daar ’n verband?
DIE beoefening van sterrekykery is niks nuuts nie. Volgens The World Book Encyclopedia het boere duisende jare gelede “die sterre dopgehou om te weet wanneer om hulle gesaaides te plant. Reisigers het geleer om rigting te bepaal deur die sterre te gebruik.” In ruimtereise word die sterre selfs vandag nog as gidse gebruik. Antieke volke het ook mites bedink oor mense en diere wat hulle geglo het in groepe sterre, of sterrebeelde, voorgestel is. Mettertyd het mense begin dink dat sterre hulle lewe kan beïnvloed.
’n Eindelose keuse van sterre
Die blote getal en grootte van die sterre is ontsagwekkend. Daar word geraam dat daar ongeveer 100 miljard sterrestelsels, of groot sterregroepe, in die heelal is! The International Encyclopedia of Astronomy sê: “Dit is hoeveel ryskorreltjies daar in ’n katedraal van gemiddelde grootte gepak kan word.” Die Melkwegstelsel, waarvan ons sonnestelsel deel uitmaak, bevat na raming op die minste soveel sterre. Die ster naaste aan ons Aarde (buiten die Son), een van die Alfa Centauri-groep, is ongeveer 4,3 ligjare ver. ’n Ligjaar is die afstand wat lig in een jaar aflê. Dit beteken dat wanneer ons na daardie ster kyk, het die lig wat ons oë binnedring die ster 4,3 jaar vroeër verlaat en gedurende al daardie tyd teen ’n snelheid van 299-792 kilometer per sekonde deur die ruimte beweeg. Dit is bo ons verstandelike vermoë om die betrokke afstand te begryp. Tog is dit net die naaste ster. Party sterre is miljarde ligjare van ons sterrestelsel af weg. Dit is geen wonder nie dat God se profeet uitgeroep het: “Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ’n stoffie!” (Jesaja 40:15). Wie steur hom aan ’n stofdeeltjie?
Die hemelliggaam naaste aan die aarde is die maan, wat ’n definitiewe invloed op ons aarde uitoefen, en sy swaartekrag veroorsaak selfs op sommige plekke ’n verskil van meer as 15 meter tussen hoog- en laaggety. Volgens drie Franse wetenskaplikes word daar nou gemeen dat die swaartekrag van die maan die aarde se as teen 23 grade gekantel hou en sodoende gereelde seisoensveranderinge verseker (Nature, 18 Februarie 1993). Aangesien die maan so ’n fisiese invloed oor ons planeet uitoefen, is dit redelik om te vra: Wat van die miljarde sterre? Maar eerstens: Wat vertel antieke bronne, soos die Bybel, ons van die sterre?
Sterre in die Skrif
Die Bybel verwys baie keer na die sterre, in ’n letterlike sowel as in ’n figuurlike sin. Volgens een psalmis het die Skepper byvoorbeeld ‘die maan en sterre gemaak om te heers oor die nag’, sodat die sterre lig vir die aarde sou help verskaf (Psalm 136:9). Later, toe God ’n verbond met getroue Abraham gesluit het, het hy gesê: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees” (Genesis 15:5). Die apostel Paulus wys daarop dat sterre van mekaar verskil deur te sê: “Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster” (1 Korinthiërs 15:41).a Terselfdertyd is hierdie ontsaglike aantal sterre en hulle heerlikheid nie buite hulle Skepper se beheer nie: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.”—Psalm 147:4.
Daarenteen vind ons in die Skrif dat sterre dikwels na mense, heersers en engele verwys. Jakob se seun Josef het ’n droom gehad waarin sy ouers as “die son en die maan” en sy broers as “sterre” afgebeeld is. Daar word na engele as “môresterre” verwys. Daar word van Babilon se koning gesê dat hy daarna gestreef het om hom bo “die sterre van God”, die Dawidiese heersers van die nasie Israel, te verhef. Onstandvastige manne in die Christengemeente word met “dwaalsterre” vergelyk, terwyl getroue liggame van gemeentelike ouere manne “sterre” in die regterhand van Christus genoem word.—Genesis 37:9, 10; Job 38:7; Jesaja 14:13; Judas 13; Openbaring 1:16.
Een verslag in die Bybel sê dat ‘die sterre uit hulle bane geveg het teen Sisera’, die leërowerste van koning Jabin van Kanaän, wat die nasie Israel 20 jaar lank verdruk het. Jehovah het rigter Barak van Israel opdrag gegee om Israel uit slawerny te verlos en hom ’n oorweldigende oorwinning oor Sisera gegee, al het laasgenoemde negehonderd strydwaens met ystersense aan hulle wiele gehad. In die oorwinningslied het die Israeliete gesing: “Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sisera geveg.” Daar word geen verduideliking gegee oor presies hoe die sterre geveg het nie. In plaas van aan te neem dat die sterre ’n direkte invloed op die veldslag uitgeoefen het, is dit redeliker om aan te neem dat die uitdrukking die een of ander vorm van Goddelike ingryping ten behoewe van Israel aandui.—Rigters 5:20.
“Die ster” van Betlehem
Een van die bekendste sterre wat in die Bybel genoem word, is waarskynlik “die ster” van Betlehem wat die astroloë van “die Ooste” af gerig het na die huis waarheen Jesus se ouers hom ná sy geboorte geneem het. Wat was daardie ster? Dit was beslis nie ’n gewone ster nie, want dit was laag genoeg sodat die astroloë dit ongeveer eenduisend seshonderd kilometer ver kon volg. “Die ster” het hulle eers na Jerusalem toe gelei. Nadat koning Herodus hiervan te hore gekom het, het hy hulle daaroor uitgevra en toe besluit om die kindjie Jesus dood te maak. Toe het “die ster” die astroloë na die spesifieke huis gelei waar Jesus gewoon het. ’n Gewone ster kon dit beslis nie gedoen het nie. Het hierdie steragtige voorwerp sy oorsprong by God gehad? Aangesien die astroloë se besoek indirek tot die dood van ‘al die seuntjies van twee jaar en daaronder in Betlehem en in al die omstreke daarvan’ gelei het, is dit redelik om tot die slotsom te kom dat “die ster” iets was wat deur God se Teenstander, Satan, gebruik is in ’n poging om God se Seun te vernietig, nie waar nie?—Mattheüs 2:1-11, 16.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat die astroloë van die Ooste af gekom het, moontlik van Babilon af, wat ’n antieke sentrum vir toordery, heksery en astrologie was. ’n Aantal hemelliggame is al na Babilon se gode vernoem. In koning Nebukadnesar se dae is waarsêery gebruik om hom te help besluit watter roete hy met sy krygstog moes volg.—Esegiël 21:20-22.
Die profeet Jesaja het Babilon se raadgewers uitgedaag en gesê: “Jy [Babilon] is magteloos ten spyte van die raad wat jy kry. Laat jou astroloë na vore kom en jou red—daardie mense wat die sterre bestudeer, wat die hemeldele in kaart bring en jou van maand tot maand vertel wat met jou gaan gebeur. Hulle sal soos stukkies strooi wees, en ’n vuur sal hulle verbrand! Hulle sal nie eens hulleself kan red nie . . . en geeneen sal oorbly om jou te red nie.” Net soos Jesaja geprofeteer het, het die magtige Babilon in 539 v.G.J. voor Kores die Grote geval. Die leiding wat daardie Babiloniese astroloë glo van die sterre gekry het, het rampspoed tot gevolg gehad vir almal wat daarby betrokke was.—Jesaja 47:13-15, Today’s English Version.
Beteken dit dat ons niks by die sterre kan leer nie?
[Voetnoot]
a Moderne astronomie bevestig Paulus se woorde, aangesien sterre van mekaar verskil wat kleur, grootte, hoeveelheid lig wat voorsien word, temperatuur en relatiewe digtheid betref.
[Venster op bladsy 5]
Wat party al gesê het
ASTROLOGIE:“’n Byvoegsel tot en bondgenoot van astronomie.”—Johannes Kepler (1571-1630), Duitse sterrekundige.
“Astrologie is ’n siekte, nie ’n wetenskap nie. . . . Dit is ’n boom in die skadu waaronder alle soorte bygelowigheid floreer.”—Moses Maimonides (1135-1204), Joodse geleerde van die Middeleeue.
“’n Protowetenskap wat beweer dat dit ’n individu se persoonlikheid en gedrag kan bepaal en toekomstige neigings en gebeurtenisse deur die onderlinge posisies van die hemele kan voorspel. . . . Daar word gemeen dat dit moontlik ongeveer die 6de eeu v.G.J. was dat die Chaldeërs in die suide van Irak die idee van ’n persoonlike horoskoop laat posvat het. Dit het gehandel oor die invloed wat die vaste sterre sowel as die Son, Maan en vyf planete ten tye van geboorte uitoefen. . . . Astrologie en die interpretasie van horoskope steun op idees wat vir sterrekundiges en die meeste ander wetenskaplikes subjektief en onaanvaarbaar is.”—C. A. Ronan, projekkoördineerder, East Asian History of Science Trust, Cambridge, Engeland, en medewerker van The International Encyclopedia of Astronomy waaruit hierdie aanhaling geneem is.
Om hierdie subjektiwiteit toe te lig, verduidelik mnr. Ronan dat Westerlinge die rooi planeet, Mars, met oorlog en aggressiwiteit assosieer, terwyl rooi vir die Chinese ’n pragtige kleur is en Mars vir hulle ’n minsame invloed het. In teenstelling hiermee assosieer Westerse mitologie Venus met wit en skoonheid. Vir die Chinese “is wit . . . die kleur van die dood, verderf en vernietiging; daar is gevolglik al na Venus verwys as die ‘sombere planeet van oorlog’”.
Mnr. Ronan sê voorts: “Ten spyte van die feit dat astrologie protowetenskaplik is, het dit in vroeëre tye ’n nuttige rol gespeel om sterrekundige waarneming te bevorder en fondse te voorsien om dit uit te voer.”
Negentien Nobel-pryswenners, saam met ander wetenskaplikes, het in 1975 ’n manifes uitgevaardig met die titel “Besware teen astrologie—’n verklaring deur 192 hoogaangeskrewe wetenskaplikes”. Dit het gesê:
“In antieke tye het mense . . . geen idee gehad van die ontsaglike afstande tussen die aarde en die planete en sterre nie. Noudat hierdie afstande bereken kan word en al bereken is, kan ons sien hoe oneindig klein die aantrekkingskrag en ander effekte van die verafgeleë planete sowel as die veel verder geleë sterre is. Dit is eenvoudig verkeerd om te dink dat die kragte wat die sterre en planete ten tye van geboorte uitoefen ons toekoms in enige opsig kan bepaal.”b
[Voetnoot]
b Vir verdere inligting oor astrologie, sien die Ontwaak! van 8 Mei 1986, bladsye 3-9.