Die sterre het wel ’n boodskap vir jou!
SOOS daar in die voorafgaande artikels getoon is, is die mens veronderstel om die sterre, ten spyte van hulle heerlikheid, aan te sien vir dít wat hulle in werklikheid is—lewelose voorwerpe wat deur die Skepper vir sý doel in die hemele geplaas is. Hulle moes nie aanbid word nie. As ’n integrerende deel van Jehovah se wonderlike skepping wat aan sy wette onderworpe is, moes die sterre ‘die eer van God vertel’ en terselfdertyd as ’n bron van lig vir die mens dien terwyl hy die Skepper se voorneme met hom uitvoer.—Psalm 19:2; Deuteronomium 4:19.
In die Bybel lees ons: “Daar mag niemand by jou gevind word wat . . . met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel” (Deuteronomium 18:10-12). Jesaja het gesê: “Laat [julle raadgewers] nou opstaan en julle red, die aanbidders van die hemele, die sterrekykers . . . Kyk! Hulle het geword soos stoppels.”—Jesaja 47:13, 14, NW.
Wat ons by die sterre kan leer
Die lewelose sterre kan ons egter iets vertel as ons bereid is om te luister. Edwin Way Teale het geskryf: “Die sterre spreek van die mens se nietigheid in die lang ewigheid van tyd.” Ja, wanneer ons besef dat die oorgrote meerderheid van die sterre wat ons op ’n helder aand met die blote oog sien eeue gelede deur ons voorvaders gesien is, laat dit ons nederig voel, nie waar nie? Vervul dit ons nie met ontsag vir die Majestueuse Een wat hulle “in die begin” geskep het en later die mensdom voortgebring het nie? Koning Dawid van Israel het met eerbied geskryf: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Die hemele moet ons nederig laat voel en ons laat afvra wat ons met ons lewe doen.—Genesis 1:1; Psalm 8:4, 5.
By een geleentheid het Dawid gebid: “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God” (Psalm 143:10). Die verloop van Dawid se lewe toon dat sy gebed verhoor is. Hy het geleer om God se wil te doen, soos dit in Sy Wet uiteengesit is. Hy het ook geleer wat die Skepper se voorneme met die mensdom is, en hy het daaroor geskryf. “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. . . . Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon. . . . Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Kennis van daardie voorneme gaan gepaard met verantwoordelikheid: “Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is.”—Psalm 37:10, 11, 27-29.
Die sterre het dieselfde boodskap vir die hele mensdom. Sonder om hulle te aanbid of hulle te “raadpleeg”, kan ons die Skepper se liefde, wysheid en krag in hulle weerspieël sien. Die studie van astronomie, in teenstelling met astrologie, moet ons harte met ontsag vervul. Maar wat meer is, dit laat ’n begeerte in ons hart ontstaan om meer van God te leer. Hy het sy Woord, die Bybel, juis vir daardie doel voorsien. As jy hierdie boodskap van die sterre onderskei het, kan jy leer wat Jehovah se voorneme met die mensdom is en, nog belangriker, hoe jy ’n deel kan hê aan die seëninge wat hy vir hulle voorberei het. As jy vrae het oor God en die doel van die lewe, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou gebied in aanraking kom of na die naaste adres op bladsy 5 skryf.
[Prent op bladsy 8]
Die sterre kan ons nederigheid leer