Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/8 bl. 4-6
  • Hedendaagse speelgoed—Wat leer hulle ons kinders?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hedendaagse speelgoed—Wat leer hulle ons kinders?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verkoop aan kinders
  • Oorlogspeletjies
  • Die boodskap wat jy oordra
  • Ouers—Kies julle kind se speelgoed wyslik
    Ontwaak!—1994
  • Speelgoed—Vandag en in die verlede
    Ontwaak!—2005
  • Ouers—Waarmee speel julle kind?
    Ontwaak!—1994
  • Die beste speelgoed
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/8 bl. 4-6

Hedendaagse speelgoed—Wat leer hulle ons kinders?

KINDERS het ’n natuurlike begeerte om te speel. Volgens die boek Choosing Toys for Children sal gesonde kinders “spontaan hulle eie wêreld van ontdekking en fantasie skep”. Dit was selfs in die ou tyd die geval. Destyds was dit algemeen om te sien hoe kinders ‘op die pleine speel’ (Sagaria 8:5). Sulke spelery het dikwels skeppende, verbeeldingryke speletjies ingesluit.—Vergelyk Mattheüs 11:16, 17.

Dit is dus gepas dat spelery al ’n kind se werk genoem is, en as dit die geval is, kan speelgoed ’n kind se gereedskap genoem word. Die tydskrif Parents sê: “Kinders leer van die wêreld deur te speel. . . . As ’n kind met speelgoed speel, word die wêreld vir hom kleiner, ’n wêreld wat ’n kind kan hanteer en beheer. Spelery ontwikkel kinders se spiere en koördinasie, leer hulle om met ander kinders te assosieer, bied hulle die geleentheid om die grense tussen die werklikheid en fantasie te toets en help hulle om te leer om met mekaar te kommunikeer, om beurte te maak en om te deel. Wanneer hulle speel, prikkel dit hulle verbeelding en help dit hulle om die vermoë te ontwikkel om probleme op te los.”

Speelgoed was ook vir kinders in Bybeltye belangrik. Tydens opgrawings in Israel is ’n klein vonds van kinders se speelgoed uitgegrawe, soos ratels, fluitjies en miniatuurpotte en -strydwaens. The World Book Encyclopedia sê: “In eertydse Afrika het kinders gehou van balle, speelgoeddiertjies en speelgoed wat rondgetrek kon word. Kinders van eertydse Griekeland en Rome het pret gehad met bootjies, waentjies, hoepels en tolle. Gedurende die Middeleeue in Europa het gewilde speelgoed klei-albasters, ratels en poppe ingesluit.”

Speelgoed wat stimulerend, interessant en opvoedkundig is, speel vandag steeds ’n belangrike rol. Maar daar is ’n onrusbarende aantal speelgoed van twyfelagtige waarde te koop. ’n Artikel in 1992 in die tydskrif Time sê: “Moenie na vanjaar se voorraad nuwe speelgoed kyk as jy goeie, heilsame pret soek nie. Feitlik elke groot vervaardiger beklemtoon weersinwekkende aspekte.” Een reeks speelgoed het ’n lewensgroot plastiekkopbeen ingesluit wat kinders kon verander om “so afstootlik moontlik” te wees. Daar is ook speelgoed te koop wat liggaamsfunksies naboots, soos om te vomeer. Ouers sowel as kinders word aan ontsaglike druk onderwerp om hierdie speelgoed te koop.

Verkoop aan kinders

Die tydskrif Pediatrics in Review sê dat die eertydse “Kode van Hammoerabi dit ’n halsmisdaad verklaar het om enigiets aan ’n kind te verkoop”. Maar hedendaagse speelgoedvervaardigers en -adverteerders is nie skaam om hulle duur goedere aan onskuldige kinders op te dwing nie. Speelgoedontwerpers maak gebruik van gesofistikeerde navorsingstegnieke om uit te vind hoe kinders dink. En deur gedurig veranderinge aan hulle produkte aan te bring, laat hulle verlede jaar se model verouderd lyk en vanjaar s’n onmisbaar.

Die speelgoedbedryf maak ook ten volle gebruik van die invloed van die televisie. In die Verenigde State word televisieprogramme vir kinders feitlik deur speelgoedadvertensies oorweldig. Die advertensies gebruik slim fotografie, spesiale effekte en musiek wat sekere beelde by kinders wek, waardeur hulle die oninteressantste speelgoed betowerend en opwindend laat lyk. Hoewel die meeste volwassenes sulke manipulasie kan raaksien, “glo jonger kinders dat advertensies die waarheid vertel”.—Pediatrics in Review.

Baie van die televisieprogramme vir kinders is in werklikheid niks anders as speelgoedadvertensies nie. Volgens die publikasie Current Problems in Pediatrics is sulke programme “eerder daarop gerig om ’n speelding te verkoop as om kinders te onderrig of hulle lewe te verryk”. Die program Teenage Mutant Ninja Turtles het byvoorbeeld “meer as 70 produkte, ’n ontbytkos en ’n rolprent” tot gevolg gehad.

Volgens Pediatrics in Review “toon talle studies dat kinders wat aan advertensies blootgestel is by hulle ouers neul om die geadverteerde produkte te koop”. Die stigter van ’n internasionale speelgoedmaatskappy sê: “Jy sien kinders wat aan hulle ouers se klere trek en jy weet wat hulle sê: ‘As ek nie hierdie speelding kry nie, sal ek doodgaan.’” Dit is dus geen wonder dat winkelbesoekers in Kanada alleen meer as $1,2 miljard (R3,2 miljard) per jaar aan speelgoed vir hulle kinders, kleinkinders en vriende spandeer nie.

Oorlogspeletjies

Video-oorlogspeletjies is van die gewildste in die speelgoedbedryf. Voorstanders daarvan beweer dat sulke speletjies kinders help om die vermoë te ontwikkel om probleme op te los, om die koördinasie tussen oë en hande asook motoriese vermoëns te verbeter en dat dit weetgierigheid prikkel. “As ’n elektroniese speelding reg gebruik word”, sê ’n artikel in The Toronto Star, “kan dit onskadelik, selfs opvoedkundig, wees.” ‘Maar dit is meer dikwels ’n bedrywigheid wat die kind van ander afsonder, selfs ’n obsessie’, erken die koerant.

Beskou die geval van ’n seuntjie wat met video-oorlogspeletjies behep geraak het. Sy moeder sê: “Hy is ongelooflik—hy sal nie wegkom van die skerm voordat hy almal doodgemaak het nie.” Hoe oud is hierdie kind? Net twee jaar! Sy duimpie het skoon ’n blaas op omdat hy vier tot vyf uur per dag knoppies druk. Sy ma lyk nietemin glad nie bekommerd nie. “My enigste kommer is dat hy alles sommer net so gedoen wil hê”, sê sy met ’n klap van haar vingers. Die speletjie “is so vinnig . . . en die werklike lewe is nie so vinnig nie”.

Volgens The Toronto Star meen party teenstanders van videospeletjies dat die speletjies “kinders hulle lus ontneem om te leer hoe om hulleself te vermaak deur hulle verbeelding te gebruik, te lees of deur ander tradisionele tydverdrywe, en dit lok hulle ook van skoolwerk af weg”. Party kinderopvoeders sê selfs dat ‘videospeletjies ’n verleidelike bedreiging is en ’n gewelddadige, teruggetrokke houding by kinders kan aanmoedig’.

Die televisienuusdekking van die bomaanvalle tydens die oorlog in die Persiese Golf in 1991 het tot ’n groot aanvraag na meer konvensionele oorlogspeelgoed gelei. Die gewildste was modelle van die Abrams-tenk, Scud-missiele en Hind-helikopters. Deskundiges vrees dat kinders, deur met sulke speelgoed te speel, aangemoedig kan word om aggressief of miskien ongevoelig vir geweld te wees. Dit is op sy allerminste in stryd met die gees van die Bybelteks in Jesaja 2:4, wat voorspel het dat God se volk ‘nooit weer geleer sal word om oorlog te voer’ nie.—The New English Bible.

Daar was al gevalle waar speelgoed wat heel realisties lyk, soos kragtige watergewere, tot werklike geweld aanleiding gegee het. In een Noord-Amerikaanse stad het ’n geveg met kragtige plastiekwatergewere tot ’n werklike skietery gelei, wat die dood van ’n 15-jarige tot gevolg gehad het. In ’n ander geval is twee jeugdiges deur ’n ontstoke gewapende man gewond nadat hy met watergewere papnat gespuit is. Talle ander voorvalle van geweld is deur skynbaar onskadelike watergeweergevegte veroorsaak.

Die boodskap wat jy oordra

Daar is min verantwoordelike ouers wat geweld werklik goedkeur. Nogtans floreer die oorlogspeelgoedbedryf. Soms verkies ouers om eerder hulle eie beginsels prys te gee as om hulle die woede van ’n kind op die hals te haal. Maar hulle kan die kind daardeur oneindige skade berokken. Kanadese geestesgesondheidsnavorser Susan Goldberg sê: “Wanneer ons vir kinders speelgoed gee, toon ons ons goedkeuring vir wat ’n speelding voorstel.” Dit is weliswaar heel normaal vir sommige kinders om soms ’n bietjie aggressief op te tree. “Sonder speelgoedgewere”, redeneer een sielkundige, “sal kinders hulle eie weergawe maak en selfs hulle vingers gebruik.” Dit is miskien waar. Maar behoort ’n ouer aggressie aan te moedig deur vir kinders weergawes van die wapens van geweld te gee?

Dit is ook waar dat min kinders werklik misdadigers sal word net omdat hulle met ’n speelgoedgeweer gespeel het. Maar watter boodskap dra jy oor as jy vir jou kinders sulke speelgoed gee? Wil jy hê hulle moet dink dat geweld pret is of dat dit opwindend is om dood te maak en oorlog te voer? Leer jy hulle eerbied vir God se standaarde? Sy Woord sê: “[God se] siel haat . . . die wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.

Susan Goldberg sê voorts: ‘Hoe meer tyd kinders aan gewelddadige speletjies wy met die stilswyende goedkeuring van ouers, hoe groter is die moontlikheid dat hulle aggressie sal gebruik om probleme op te los’. Die Bybel sê in Galasiërs 6:7: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” Is dit enigsins moontlik dat ’n kind goeie karaktertrekke uit gewelddadige speletjies kan maai?

Daar moet redelikerwys erken word dat geen kind dieselfde is nie. Een kind sal aan ’n elektroniese speletjie verslaaf raak, maar ’n ander nie. En of kinders werklik die geluide en beelde wat vernietiging op ’n videoskerm voorstel met geweld in die werklike lewe vereenselwig, is ’n omstrede punt. Ouers moet derhalwe besluit wat die beste vir hulle eie kinders is en baie versigtig wees watter speelgoed hulle vir hulle kinders kies.

[Prent op bladsy 6]

Wanneer kinders speel, leer hulle hoe om met ander kinders oor die weg te kom

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel