Ons kosbare atmosfeer
OP 4 Mei 1961 is Malcolm Ross en Vic Prather tot ’n hoogte van 34,6 kilometer geneem. Op daardie oomblik het dit vir Malcolm Ross nie veel beteken dat hy ’n nuwe rekord opgestel het nie. Wat hom beïndruk het, was die uitsig toe hy versigtig ’n skerm gelig en vir die eerste keer by die gondel uitgekyk het.
“Die uitsig was asemrowend toe ons 100 000 voet [30 500 m] bereik het”, sê hy. Malcolm Ross was verstom oor die kleure wat verskillende lae van die atmosfeer kenmerk. Daar is eerstens die “helder en witterige blou” van die troposfeer wat ongeveer 16 kilometer bo die aarde strek. Dan word die diepblou stratosfeer al hoe donkerder totdat dit uiteindelik in die swart hemelruim oorgaan. “In stille ontsag het ons oor die onbeskryflike prag van die atmosfeer uitgekyk”, het Malcolm Ross in National Geographic geskryf.
Dit is beslis die moeite werd om oor ons lieflike atmosfeer na te dink.
Lewensonderhoudend
Ons atmosfeer is in werklikheid ’n see van lug wat die aarde tot ’n hoogte van ongeveer 80 kilometer omsluit. Dit weeg meer as 5000 biljoen ton en op seevlak druk dit teen 1,03 kilogram per vierkante sentimeter op ons neer. Sonder daardie lugdruk sou ons nie kon lewe nie, aangesien dit voorkom dat ons liggaamsvloeistowwe verdamp. Die lugdruk in die bo-atmosfeer is te laag om menselewe te onderhou. Dit is waarom Malcolm Ross en Vic Prather ruimtedrukpakke moes dra. “Sonder kunsmatige druk”, het Malcolm Ross verduidelik, “sou ons bloed kook, en ons are en organe sou bars.”
Ons het natuurlik ook hierdie see van lug nodig om te kan asemhaal. Die meeste van ons dink egter nie eers daaroor nie, want ons kan dit nie sien nie. ’n Godsdienstige man uit die ou tyd het met waardering gesê: ‘God gee aan almal lewe en asem en alles.’—Handelinge 17:24, 25.
Sonder ons atmosfeer sou daar nie ’n medium wees waarin stof, waarom waterdruppels vorm, kan sweef nie. Daar sou dus geen reën wees nie. As ons atmosfeer nie daar was nie, sou ons deur die son se direkte strale verskroei word, en ons sou saans verkluim. Gelukkig is die atmosfeer soos ’n kombers wat van die son se hitte vaskeer sodat die nagte nie te koud is nie.
Daarbenewens beskerm die atmosfeer ons van inkomende meteoriete wat die bewoners van die aarde skade sou berokken. “Soliede liggame vanuit die ruimte”, verduidelik Herbert Riehl in sy boek Introduction to the Atmosphere, “bereik die buitenste grens van die atmosfeer met ’n geskatte gesamentlike massa van etlike duisend ton per dag.” Maar die meeste meteoriete disintegreer in die atmosfeer voordat hulle die aarde se oppervlak bereik.
Die atmosfeer dra by tot ons genieting van die lewe. Dit gee ons ons lieflike blou hemele, donserige wit wolke, verfrissende reën en pragtige sonsopkomste en sonsondergange. Daarbenewens sou ons sonder die atmosfeer nie ons geliefdes se stemme kon hoor nie, en ook nie na ons geliefkoosde musiek kon luister nie. Waarom? Omdat klankgolwe ’n medium nodig het om in te beweeg. Lug is ’n ideale draer van klank, terwyl geen klank in die buitenste ruimte gehoor word nie.
’n Wonderlike mengsel
In die ou tyd het mense die atmosfeer as ’n enkele stof beskou. Toe, laat in die 18de eeu, het wetenskaplikes ontdek dat dit hoofsaaklik uit die twee komplimentêre gasse, stikstof en suurstof, bestaan. Ongeveer 78 persent van die atmosfeer bestaan uit stikstof en 21 persent uit suurstof; die oorblywende 1 persent bestaan uit gasse soos argon, waterdamp, koolstofdioksied, neon, helium, kripton, waterstof, xenon en osoon.
Suurstof is natuurlik die lewensonderhoudende gas wat deur middel van asemhaling deur ons liggaam geabsorbeer word. Die suurstofvlak in ons atmosfeer is net reg vir lewe op aarde. As dit aansienlik sou afneem, sou ons lomerig word en uiteindelik ons bewussyn verloor. As die konsentrasie daarvan te veel sou toeneem, word daar gesê dat selfs klam takkies en groen gras aan die brand sou raak.
Stikstof is die ideale verdunmiddel vir suurstof; tog speel dit meer as net ’n passiewe rol in die onderhouding van lewe. Alle organismes moet dit hê om te lewe. Plante kry stikstof uit die atmosfeer deur middel van weerlig en ’n spesiale soort bakterie. Op ons beurt kry ons stikstof uit die kos wat ons eet.
Die feit dat ons atmosfeer die regte verhouding van suurstof en stikstof handhaaf, is ’n wonder. Danksy die waardevolle werk van mikro-organismes word stikstof weer in die atmosfeer vrygestel. Wat van suurstof? Groot hoeveelhede word in vure en deur die asemhaling van mense en diere gebruik. Tog handhaaf die atmosfeer sy suurstofvlak van 21 persent. Hoe? Deur fotosintese—’n chemiese proses in groen blare en alge—wat elke dag meer as eenmiljard ton suurstof in die atmosfeer vrystel.
Fotosintese kan nie sonder koolstofdioksied—’n spoorgas wat net 0,03 persent van die atmosfeer uitmaak—plaasvind nie. Plante is van lig en koolstofdioksied afhanklik om te groei en om vrugte, neute, graangewasse en groente te produseer. Koolstofdioksied kaats ook hitte na die aarde toe terug om ons planeet warm te hou. Maar as die vlak van koolstofdioksied deur die verbranding van te veel hout, steenkool, gas en olie sou toeneem, sou die aarde uiteindelik so warm word dat lewe tot niet sal gaan. Aan die ander kant, as koolstofdioksied te veel sou afneem, sou fotosintese ophou en sou ons van die honger doodgaan.
Osoon is nog ’n spoorgas waarvan lewe op aarde afhanklik is. Osoon in die boonste deel van die atmosfeer wat die stratosfeer genoem word, absorbeer ultraviolet strale van die son. Ons hier op aarde word dus teen hierdie skadelike ultraviolet strale beskerm.
Trouens, hoe meer ons van die atmosfeer te wete kom, hoe meer rede is daar om ons daaroor te verwonder. Sy samestelling van stikstof, suurstof en ander spoorgasse is net reg. Die grootte van die aarde is ook net reg om die balans te handhaaf. As die aarde kleiner was en minder geweeg het, sou sy aantrekkingskrag te swak wees en sou baie van ons kosbare atmosfeer in die ruimte ontsnap.
“Aan die ander kant”, sê die wetenskaphandboek Environment of Life, “as die aarde effens groter was as wat dit nou is, sou die groter aantrekkingskrag veroorsaak dat groter hoeveelhede gasse vasgevang word. . . . Die fyn balans tussen die gasse van die atmosfeer sou versteur word.”
Maar ongelukkig word die “fyn balans” wel deur die mens se moderne lewenswyse versteur. Hoe ernstig is die situasie, en watter hoop is daar dat ons kosbare atmosfeer van vernietiging gered sal word?
[Venster op bladsy 5]
Wanneer sonsondergange mooier is
Die atmosfeer weerkaats die son se strale sodat dit die lug ’n mooi blou kleur gee. Terwyl die son na die horison sak, moet sy strale deur baie meer atmosfeer beweeg. Dit bring ’n verskeidenheid helder kleure te voorskyn wat stadsbewoners dalk nooit sien nie.
Sonsondergange oor fabriekstede is gewoonlik dof en is, buiten skakerings van rooi, sonder kleur. As die gebied erg besoedel is, sê die tydskrif New Scientist, “lyk die Son na ’n dowwe rooi skyf wat kan verdwyn selfs voor dit die horison bereik”.
“In ’n besonder skoon, onbesoedelde atmosfeer”, sê die bogenoemde tydskrif, “is die kleure van sonsondergange baie helder. Die Son is heldergeel en die lug rondom is skakerings van oranje en geel. Terwyl die Son agter die horison verdwyn, verander die kleure geleidelik van oranje na blou. Lae wolke weerkaats die lig van die Son, selfs ná dit verdwyn het.”
Stel jou net die verskeidenheid pragtige sonsondergange voor wat in ’n wêreld sonder besoedeling geniet sal word!—Openbaring 21:3-5.