Wanneer ons atmosfeer beskadig word
IN 1971, op pad na die maan aan boord Apollo 14, het Edgar Mitchell, toe hy die aarde aanskou, gesê: “Dit lyk soos ’n skitterende blou en wit juweel.” Maar wat sou iemand vandag vanuit die ruimte sien?
As ’n spesiale bril hom die onsigbare gasse van die aarde se atmosfeer kon laat sien, sou hy iets baie anders sien. In die tydskrif India Today het Raj Chengappa geskryf: “Hy sal reusagtige gate in die beskermende osoonlaag oor Antarktika en Noord-Amerika sien. Pleks van ’n skitterende blou en wit juweel sal hy ’n vaal, vuil aarde vol donker, warrelende koolstof- en swaeldioksiedwolke sien.”
Wat het gate in ons bo-atmosfeer se beskermende osoonskild gemaak? Is die toename in atmosferiese besoedelstowwe werklik so gevaarlik?
Hoe osoon vernietig word
Meer as 60 jaar gelede het wetenskaplikes die ontdekking van ’n veilige koelmiddel aangekondig wat ander koelmiddels kon vervang wat giftig was en ’n slegte reuk afgegee het. Die nuwe chemikalie het uit een koolstof-, twee chloor- en twee fluooratome bestaan (CCl2F2). Dít en soortgelyke mensgemaakte chemikalieë word chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) genoem.
Teen die vroeë sewentigerjare het die produksie van CFK’s tot ’n groot wêreldwye bedryf gegroei. Hulle is nie net in yskaste gebruik nie, maar ook in aërosolspuitkannetjies, in lugversorgers, in skoonmaakmiddels en in die vervaardiging van kitskoshouers en ander skuimplastiekprodukte.
Maar in September 1974 het twee wetenskaplikes, Sherwood Rowland en Mario Molina, verduidelik dat CFK’s geleidelik tot in die stratosfeer styg waar hulle uiteindelik hulle chloor vrystel. Elke chlooratoom, het die wetenskaplikes bereken, kon duisende osoonmolekules vernietig. Maar pleks dat osoon eweredig in die hele bo-atmosfeer vernietig word, is die vernietiging daarvan baie erger oor die pole.
Sedert 1979 het groot hoeveelhede osoon elke lente oor Antarktika verdwyn en dan weer verskyn. Hierdie seisoenale afname van osoon word die osoongat genoem. Wat meer is, in onlangse jare word die so genoemde gat groter en is dit langer aanwesig. In 1992 het satellietlesings ’n osoongat van rekordgrootte getoon—groter as Noord-Amerika. En daar was nie baie osoon daarin oor nie. Ballonlesings het getoon dat daar ’n afname van meer as 60 persent was—die laagste wat nog opgeteken is.
Intussen neem osoonvlakke ook in die bo-atmosfeer oor ander dele van die aarde af. “Die jongste lesings”, berig die tydskrif New Scientist, “toon dat . . . daar in 1992 buitengewoon lae vlakke van osoonkonsentrasie tussen die breedtegrade 50° Noord en 60° Noord was, oor Noord-Europa, Rusland en Kanada. Die osoonvlak was 12 persent onder normaal, laer as enige ander tyd gedurende die 35 jaar dat hulle dit voortdurend monitor.”
“Dit lyk nou”, sê die tydskrif Scientific American, “asof selfs die droewigste voorspellings ’n onderskatting was van die osoonverlies wat deur chloorfluoorkoolstowwe veroorsaak is. . . . En tog het invloedryke stemme in die regering en nywerheid regulasies destyds hewig teëgestaan op grond van onvolledige wetenskaplike bewyse.”
Nagenoeg 20 miljoen ton CFK’s is reeds in die atmosfeer vrygestel. Aangesien dit CFK’s jare neem om tot in die stratosfeer te dryf, het miljoene ton nog nie die bo-atmosfeer bereik waar hulle hulle skade aanrig nie. Maar CFK’s is nie die enigste bron van osoonvernietigende chloor nie. “NASA skat dat daar met elke pendeltuiglansering ongeveer 75 ton chloor in die osoonlaag vrygestel word”, berig die tydskrif Popular Science.
Wat is die gevolge?
Die gevolge van minder osoon in die bo-atmosfeer is nie heeltemal duidelik nie. Maar een ding is seker, dit lyk of die hoeveelheid skadelike UV (ultraviolet) straling wat die aarde bereik, toeneem en meer gevalle van velkanker tot gevolg het. “Gedurende die afgelope dekade”, berig die tydskrif Earth, “het die jaarlikse dosis skadelike UV wat die noordelike halfrond tref met ongeveer 5 persent toegeneem.”
Daar word geskat dat ’n toename van net 1 persent in UV ’n toename van 2 tot 3 persent in velkanker veroorsaak. Getaway, ’n tydskrif van Afrika, sê: “Daar is jaarliks meer as 8000 nuwe gevalle van velkanker in Suid-Afrika . . . Ons het een van die laagste vlakke van osoonbeskerming en een van die hoogste voorkomssyfers van velkanker (die verband is geen toeval nie).”
Die wetenskaplikes Sherwood Rowland en Mario Molina het jare gelede voorspel dat die vernietiging van osoon in die bo-atmosfeer ’n toename in velkanker sou veroorsaak. Hulle het voorgestel dat die gebruik van CFK’s in aërosolspuitkannetjies in die Verenigde State onmiddellik verbied word. Baie lande het die gevaar erken en ingestem om teen Januarie 1996 die produksie van CFK’s te staak. Intussen hou die gebruik van CFK’s egter steeds ’n gevaar vir lewe op aarde in.
Die afname van osoon oor Antarktika, berig Our Living World, “veroorsaak dat ultraviolet straling dieper in die oseaan dring as wat voorheen vermoed is. . . . Dit het aansienlike afnames in die produktiwiteit van die eensellige organismes veroorsaak wat die basis van die oseaan se voedselketting uitmaak.” Eksperimente toon ook dat die toename in UV die wêreld se voedselvoorraad bedreig omdat dit die opbrengste van baie gesaaides laat afneem.
Ja, die gebruik van CFK’s is potensieel rampspoedig. Maar ons atmosfeer word met baie ander besoedelstowwe gebombardeer. Een daarvan is ’n atmosferiese gas wat in klein hoeveelhede onontbeerlik is vir lewe op aarde.
Die gevolg van besoedeling
In die middel van die 19de eeu het die mens al hoe meer steenkool, gas en olie verbrand en groot hoeveelhede koolstofdioksied in die atmosfeer vrygestel. Daar was destyds ongeveer 285 dele per miljoen van hierdie atmosferiese spoorgas aanwesig. Maar as gevolg van die mens se toenemende gebruik van fossielbrandstowwe het die hoeveelheid koolstofdioksied tot oor die 350 dele per miljoen toegeneem. Wat was die gevolg van die groter hoeveelheid van hierdie hittehoudende gas in die atmosfeer?
Baie dink dat die styging in die koolstofdioksiedvlak die styging in die aarde se temperatuur veroorsaak het. Maar ander navorsers sê dat wêreldwye verwarming veral toegeskryf kan word aan ons son se veranderlikheid—dat die son in onlangse tye meer energie uitstraal.
Hoe dit ook al sy, die tagtigerjare was die warmste dekade vandat daar in die middel van die 19de eeu begin is om dit op te teken. “Die verwarming het tot in hierdie dekade voortgeduur”, berig die Suid-Afrikaanse koerant The Star, “met 1990 as die warmste jaar tot op hede, 1991 die derde warmste en 1992 . . . die tiende warmste jaar in hierdie opname wat oor 140 jaar strek.” Die effense daling oor die afgelope twee jaar word toegeskryf aan stof wat in die atmosfeer vrygestel is toe berg Pinatubo in 1991 uitgebars het.
Daar word vurig gedebatteer oor die toekomstige gevolge van die styging in die temperatuur op aarde. Maar iets wat wêreldwye verwarming klaarblyklik wel gedoen het, is om die reeds moeilike taak van weervoorspelling te kompliseer. New Scientist sê dat onakkurate voorspellings “al hoe waarskynliker sal word namate wêreldwye verwarming die klimaat laat verander”.
Talle versekeringsmaatskappye vrees dat wêreldwye verwarming hulle beleide niewinsgewend sal maak. “Met [’n] golf van ongelukke waarvoor hulle te staan gekom het”, erken The Economist, “verminder party herversekeraars hulle blootstelling aan natuurrampe. Ander oorweeg dit om hulle heeltemal aan die mark te onttrek. . . . Hulle is bang vir onsekerheid.”
Dit is betekenisvol dat ’n groot deel van die Arktiese ysmassa in 1990, die warmste jaar tot op hede, tot ’n ongekende vlak teruggetrek het. Dit het tot gevolg gehad dat honderde ysbere meer as ’n maand lank op Wrangell-eiland vasgekeer was. “Weens wêreldwye verwarming”, waarsku die tydskrif BBC Wildlife, “kan hierdie toestande . . . ’n gereelde verskynsel word.”
“Weerdeskundiges”, het ’n koerant in Afrika in 1992 berig, “blameer wêreldwye verwarming vir die drastiese toename in die aantal ysberge wat van Antarktika af noord dryf en ’n gevaar inhou vir skepe in die Suid-Atlantiese oseaan.” Volgens Earth se nommer vir Januarie 1993 is die geleidelike styging van die seevlak langs die Suid-Kaliforniese kus gedeeltelik te wyte aan ’n verwarming van die water.
Ongelukkig gaan mense voort om ’n ongelooflike hoeveelheid giftige gasse in die atmosfeer te pomp. “In die VSA”, sê die boek The Earth Report 3, “het ’n verslag van 1989 deur die Omgewingsbewaringsagentskap geskat dat meer as 900 000 ton giftige chemikalieë jaarliks in die lug gepomp word.” Hierdie syfer word as ’n onderskatting beskou omdat dit nie die uitlaatgasse van miljoene motors insluit nie.
Skokkende verslae van lugbesoedeling kom ook uit baie ander nywerheidslande. Die onlangse berigte van onbeheerde lugbesoedeling in Oos-Europese lande gedurende dekades van Kommunistiese bewind was veral skokkend.
Die aarde se bome, wat koolstofdioksied absorbeer en suurstof vrystel, is onder die slagoffers van giftige lug. New Scientist het berig: “Duitsland se bome raak al hoe ongesonder, volgens . . . die minister van landbou [wat gesê het] dat lugbesoedeling steeds een van die hoofredes vir die woude se agteruitgang is.”
’n Soortgelyke situasie bestaan in Suid-Afrika se Transvaalse Hoëveld. “Die eerste tekens van suurreënskade verskyn nou in die Oos-Transvaal waar dennenaalde van ’n gesonde donkergroen na ’n sieklike gevlekte beige verander”, berig James Clarke in sy boek Back to Earth.
Sulke verslae kom van regoor die wêreld. Geen land is immuun nie. Met skoorsteenpype wat tot hoog in die lug reik, voer nywerheidslande hulle besoedeling na buurlande uit. Die mens se geskiedenis van gierige nywerheidsontwikkeling bied nie veel hoop nie.
Daar is egter grond vir optimisme. Ons kan seker wees dat ons kosbare atmosfeer van vernietiging gered sal word. In die volgende artikel sal jy leer hoe dit gaan gebeur.
[Prent op bladsy 7]
Die vernietiging van osoon in die bo-atmosfeer het tot ’n toename in velkanker gelei
[Prent op bladsy 9]
Wat is die gevolge van sulke besoedeling?