Hoe ons atmosfeer gered sal word
SAL die mens gewillig ophou om ons lug met gemors te vul? Is dit hoe ons atmosfeer gered sal word?
Nee. Die redding van ons atmosfeer hang nie van die mens se samewerking met antibesoedelingsvereistes af nie. Ingryping deur die Een wat die hoogste gesag besit, sal eerder nie net ’n gereinigde atmosfeer tot stand bring nie, maar ook ’n skoon aarde.
Die wonderlike manier waarop die Skepper die aarde ontwerp het, toon dat hy vir die aarde sowel as die lewe daarop omgee. Hy het dit gemaak om vir ewig en altyd te bestaan.—Psalm 104:5, 24.
Voorsienings vir instandhouding
Die atmosfeer is byvoorbeeld so geskep dat dit homself herstel en skoonmaak. Dink aan die osoon in die bo-atmosfeer. Die osoonskild is vernuftig gemaak sodat dit ultraviolet straling absorbeer wat dodelik vir mense op aarde sou wees. Terselfdertyd laat dit veilige lig deur wat nodig is vir lewe op aarde.
Ons het vroeër geleer dat die osoonskild erg beskadig word deur mensgemaakte chloorfluoorkoolstowwe wat tot in die bo-atmosfeer styg. Hoe sal die beskermende osoonskild herstel word? Verbasend genoeg het die Skepper dit ontwerp sodat dit selfherstellend is. Ja, osoon word voortdurend in die bo-atmosfeer geskep—trouens, deur die einste gevaarlike strale wat deur osoon buite gehou word! Terwyl die mens se besoedeling osoon dus vinnig vernietig, word ’n sekere hoeveelheid osoon aangevul.
Die situasie is soortgelyk in die onderatmosfeer waar die meeste van die meer as 5000 biljoen ton lug aangetref word. Natuurlike siklusse suiwer hierdie lug vinnig en op merkwaardige maniere van besoedelstowwe. The World Book Encyclopedia sê: “Wind versprei besoedelstowwe, en reën en sneeu spoel dit in die grond in.”
Dit is dus duidelik dat die lug gou oral soet en aangenaam sal wees as mense ophou om die lug te besoedel of sulke besoedeling grootliks beperk. Maar die bogenoemde naslaanwerk identifiseer die probleem en verduidelik: “In baie gebiede word besoedelstowwe vinniger in die lug vrygestel as wat weerstoestande daarvan ontslae kan raak.”
Hoe sal die mens se selfsugtige besoedeling van die atmosfeer dan gestop word?
’n Gereinigde aarde op hande
Besoedeling sal alleenlik deur God self gestop word, wanneer hy ingryp. Die Bybel voorspel dat hy ‘die verderwers van die aarde sal verderf’ (Openbaring 11:18). Hy sal nie toelaat dat gierige mense vir onbepaalde tyd voortgaan om hierdie pragtige aarde en sy lewensonderhoudende atmosfeer te besoedel nie. Hy belowe: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.”—Psalm 37:9.
Hoe sal daar ’n einde gemaak word aan alle kwaaddoeners? Dit sal gedoen word deur middel van God se hemelse regering, sy Koninkryk, wat ontoereikende menseregerings sal vervang. Die Bybel belowe: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Hierdie Koninkryksregering van God is die een waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.
God se wil vir ons aarde is dat sy Koninkryk oor die mensdom regeer en dat hulle gevolglik lewe in ’n onbesoedelde omgewing sal geniet. Dit is waarom God vasbeslote is “om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Wat ’n magtige daad van verlossing sal dit tog nie wees nie!
Stel jou die lewe op ’n aarde voor wat vry is van die besoedeling wat selfsugtige mense veroorsaak het! Ons kosbare atmosfeer sal dan tot ’n gesonde toestand herstel word. Dit sal plaasvind wanneer die Bybelse belofte vervul word: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4; 2 Petrus 3:13.
Wat moet jy doen om behoue te bly tot in die regverdige nuwe wêreld wat God beloof het? Jy moet leer van die een wat deur God as Sy verteenwoordiger aarde toe gestuur is en sy leringe volg (Johannes 3:16; 7:29). Hierdie persoon, Jesus Christus, het in gebed tot God gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 10]
’n Skoon, onbesoedelde paradysaarde is op hande