Die Bybelse beskouing
Wanneer die ongetroude lewe ’n gawe is
‘EK IS eensaam’, kla ’n Christenvrou wat al baie jare ’n weduwee is. ‘Ek het gehoop om ’n huweliksmaat te kry. Dit help om besig te bly. Dit help om vriende te hê. Maar ek wil graag getroud wees.’
Wanneer jy opreg begeer om getroud te wees, maar jou soeke na ’n huweliksmaat nie suksesvol is nie, lyk die ongetroude lewe nouliks na ’n gawe—dit voel dalk meer asof jy gevonnis is na ’n tronk van negatiewe emosies wat jou afgemat en terneergedruk laat. Of as jy reeds jou eie gesin het, maar ongetroud is, het jy dalk die verantwoordelikheid om alleen in al jou kinders se behoeftes te voorsien.
Daarom beskou jy dalk nie jou ongetroude staat as ’n gawe nie. Maar daar is ander wat die ongetroude lewe as iets baie kosbaars beskou en verkies om alleen te lewe. Is die ongetroude lewe dus ’n gawe, en indien wel, wanneer en waarom? Wat sê die Bybel?
’n Hindernis op die weg na geluk?
Die huwelik kan ’n bron van groot vreugde wees (Spreuke 5:18, 19). Party “is daarvan oortuig dat die huwelik die enigste weg na geluk en bevrediging is”, sê die Los Angeles Times. Is ’n huwelikslisensie die enigste sleutel tot geluk?
’n Geestesgesondheidsdeskundige, Ruth Luban, sê volgens die Los Angeles Times: “Vroue [en mans] sal verbaas wees hoeveel bevrediging hulle daaruit kan put wanneer hulle met hulle lewe voortgaan en nie net sit en wag dat ’n man [of vrou] hulle van die ongetroude lewe sal red nie.” Ja, die ongetroude lewe is nie iets wat in die weg van ’n gelukkige, bevredigende lewe staan nie. Baie geskeides sal erken dat die huwelik nie outomaties ’n weg na geluk is nie. Ware geluk is die resultaat van ’n goeie verhouding met God. ’n Christen kan dus gelukkig wees, hetsy ongetroud of getroud.—Psalm 84:12, NW; 119:1, 2, NW.
Buiten die selfopgelegde struikelblokke wat hulle in hulle boek The Challenge of Being Single noem, vestig Marie Edwards en Eleanor Hoover die aandag op nog ’n hindernis op die weg na geluk—sosiale druk. Hulle sê daar word “aangeneem dat jy aan ’n diep, donker emosionele kwaal ly as jy nie getroud is nie. . . . Daar is beslis iets fout met jou.”
Selfs welmenende vriende kan onwetend groot druk op ongetroudes uitoefen deur knaend te vra: ‘Wanneer gaan jy trou?’ of: ‘Waarom het ’n aantreklike man soos jy nog nie ’n vrou gevind nie?’ Hoewel sulke opmerkings dalk skertsend gemaak word, kan hulle “soos swaardsteke” wees, wat tot gekrenkte gevoelens of verleentheid kan lei.—Spreuke 12:18.
Elkeen se gawe
Die apostel Paulus was ongetroud toe hy as ’n sendeling gereis het. Was dit omdat hy teen die huwelik gekant was? Geensins. Die apostel Paulus was ongetroud omdat hy verkies het om “ter wille van die evangelie” ongetroud te bly.—1 Korinthiërs 7:7; 9:23.
Paulus was in staat om ongetroud te bly; tog het hy besef dat nie almal soos hy kan wees nie. Hy het gesê: “Elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.”—1 Korinthiërs 7:7.
Die ongetroude lewe kan ’n weg na geluk word, selfs al is dit dalk nie die weg wat jy jou voorgeneem het om te bewandel nie. Die huwelik maak beslis deel uit van die baie gawes wat ons van Jehovah ontvang. Maar die Bybel toon dat die ongetroude lewe ook ’n “gawe” kan wees—as jy “daarvoor plek kan maak” (Mattheüs 19:11, 12, NW; 1 Korinthiërs 7:36-39, NW). Wat is party voordele van die ongetroude lewe?
Paulus het gesê dat egpare besorg is oor die “goedkeuring” van hulle huweliksmaats, terwyl die ongetroudes “besorg [is] vir die dinge van die Here”. Dit beklemtoon een van die grootste voordele van die ongetroude lewe—die geleentheid om Jehovah te dien “sonder om afgelei te word”.—1 Korinthiërs 7:32-35, NW.
Die Bybel sê nie dat ’n ongetroude persoon heeltemal sonder afleidings sal lewe nie. Maar ’n persoon wat alleen lewe, het gewoonlik minder afleidings as iemand wat vir ’n gesin moet sorg, aangesien hy die enigste persoon is wat in ag geneem moet word wanneer hy ’n besluit neem. Toe God Abraham beveel het om Haran te verlaat en na die land Kanaän te trek, sê die Bybel byvoorbeeld: “Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek” (Genesis 12:5). Hoewel Abraham se familieomstandighede hom nie teruggehou het nie, het hy ongetwyfeld baie tyd gebruik om sy huisgenote vir so ’n tog te organiseer.
Vergelyk Abraham se trek met dié van die apostel Paulus. Terwyl Paulus en Silas die goeie nuus in die stad Thessalonika verkondig het, het ’n woedende skare teen hulle opgetrek. Daardie selfde aand het die broers onmiddellik vir Paulus en Silas na Berea gestuur. By ’n ander geleentheid, in Troas, het Paulus ’n visioen ontvang om ‘na Macedonië oor te kom en hulle te help’. Dadelik ná hy die visioen gesien het, het hy na Macedonië gegaan. Die feit dat Paulus nie ’n vrou gehad het nie, het hom groot vryheid gegee sodat hy gou kon vertrek, iets wat met ’n groot gesin moeiliker sou gewees het.—Handelinge 16:8-10; 17:1-15.
Groter vryheid om persoonlike keuses te maak, is nog ’n voordeel wat die ongetroude lewe inhou. Wanneer jy alleen lewe, is dit gewoonlik makliker om te besluit waar om te bly, wat en wanneer om te eet of selfs watter tyd om bed toe te gaan. Hierdie vryheid geld ook vir geestelike bedrywighede. Meer tyd is beskikbaar om persoonlike studie van God se Woord te doen, aan die openbare bediening deel te neem en van geleenthede gebruik te maak om ander mense te help.
Hetsy jy ongetroud is weens eie keuse of weens omstandighede, wees dus vasbeslote om jou tyd verstandig te gebruik. Jy sal ’n gelukkiger lewe hê as jy jou ongetroude lewe gebruik om ander te help (Handelinge 20:35). As jy graag wil trou, moet jy jouself nie deur negatiewe emosies gevange laat hou of jou lewe lei asof jy slegs ’n halwe mens is net omdat daardie ‘spesiale persoon’ nog nie opgedaag het nie. Bly besig in God se diens en soos Paulus gesê het, sal jy dalk vind dat die ongetroude lewe ’n gawe kan wees.