Jou toekoms—Wat kan dit wees?
DIE bestudering van die menslike genoom openbaar reeds baie aangaande die potensiële siektes waaraan ’n persoon uiteindelik kan ly. Maar wat van die moontlike behandeling en selfs die voorkoming van sulke siektes?
Hoe meer navorsers oor die genoom van plante, diere en mense leer, hoe groter is die moontlikhede om medisyne en terapieë te ontwikkel om siektes mee te behandel, sê The Times van Londen. Volgens die tydskrif Industry Week sê wetenskaplikes nietemin dat ons versigtig moet wees, aangesien “die diagnose [hierdie proses] 20 tot 50 jaar vooruit kan wees”. Hierdie situasie, volgens ’n professor in biochemie, Charles Cantor, laat ’n mens “feitlik . . . sonder hoop”. Maar dit hoef nie so te wees nie.
Die Bybel belowe duidelik dat alle siekte beëindig gaan word. “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie”, sê Openbaring 21:4. Sal genetikusse dit verwesenlik deur wat die tydskrif The Christian Century “genetiese medeskepping” noem? Die vervulling van die Bybel se beloftes berus nie op die voltooiing van die Menslike Genoomprojek, enige “genetiese medeskepping” of, selfs, ’n geleidelike verbetering van ons omgewing nie. Die sekerheid daarvan hang eerder uitsluitlik af van God se werkende krag, sy heilige gees.
Hoe erflikheid en die omgewing teëgewerk word
Ongeveer drieduisend jaar gelede het ’n Israelitiese koning gesê: ‘Ek is op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak.’ Hoewel Dawid niks van vandag se Menslike Genoomprojek geweet het nie, het hy hierdie woorde tot lof van God gesing: “U oë het selfs my embrio gesien‚ en in u boek was al die dele daarvan beskrywe.”—Psalm 139:14, 16, NW.
Hoe het hierdie eertydse koning geweet dat sy ontwikkeling as ’n embrio in sy moeder se baarmoeder volgens “geskrewe” instruksies plaasgevind het? Dawid self het erken: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Samuel 23:2). Ja, die Skepper se werkende krag, heilige gees, het Dawid se woorde geïnspireer.
Bevat dit nie ’n les wat baie mense vandag ignoreer of, ten minste, versuim om in ag te neem nie? Hoewel erflikheid en die omgewing ons tot ’n sekere mate maak wat ons is, kan God se heilige gees ’n kragtige invloed op ons hê en selfs ander invloede teëwerk.
Beskou die geval van Ian. “Ek was ’n baie prikkelbare klein seuntjie”, verduidelik hy. “My pa is soms uiters prikkelbaar, en nou is my seuntjies presies dieselfde. Toe ek jonger was, was ek vreeslik senuweeagtig. Ek kon niks sê sonder om te hakkel en te stotter nie, en toe het ek my tot drank as die oplossing gewend. Dit het my gekalmeer, of dis wat ek gedink het. Drank het my in werklikheid senuweeagtiger gemaak.” Toe Ian die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy besef dat hy nie langer op alkohol kon vertrou om sy senuwees te beheer nie. “Ek het gemeen dat my eie wilskrag genoeg was, en ek het toe ook ’n jaar lank nie gedrink nie. Maar”, erken hy, “ek kon nie daarmee volhou nie.”
“Op ’n dag”, gaan hy voort, “terwyl dit hard gereën het, het ek in die straat af geloop met die gedagte dat ek sou loop totdat ek dood neerslaan. Ek het al verskeie kere opgehou drink en dan weer begin. Toe het ek besef dat ek my drankprobleem op my manier probeer oplos het, nie op Jehovah se manier nie. Ek het gevolglik begin bid terwyl ek aangestap het en in werklikheid vir Jehovah gesê dat ek dinge nou op sy manier gaan doen en hom gevra om my sy heilige gees te gee om my te versterk.” Dit was ongeveer tien jaar gelede. Hoe gaan dit nou met Ian?
“Ek moet myself steeds inspan om my swakheid te beheer”, erken hy, “en ek het geleer om grootliks op Jehovah staat te maak om aan die gang te bly.” Waaraan skryf Ian die welslae toe wat hy tot dusver behaal het? “Ek onthou nog my eerste Bybelleestoewysing nadat ek na die gemeente van Jehovah se Getuies teruggekeer het. Dit was Psalm 116, wat begin: ‘Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge.’ Halfpad deur die psalm het ek gelees: ‘Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?’ [vers 12]. Dit was soos ’n trapklip wat my gehelp het om ’n mate van normaliteit in my lewe terug te kry.” Ian raai nou enigiemand aan wat in ’n soortgelyke situasie verkeer: “Moenie jouself om die bos lei nie.” Hy voeg by: “Toe ek uiteindelik van my probleme werk gemaak het en om Jehovah se heilige gees gebid het om my in my voorneme te versterk, het ek welslae begin behaal.”
Ian, tesame met byna vyfmiljoen ander Getuies van Jehovah, vertrou op heilige gees om hulle te help om die weg te volg wat in die belangrikste instruksieboek, die Bybel, uiteengesit word. Laat die Getuies in jou omgewing jou inlig omtrent die duidelike, ongekompliseerde, eenvoudige boodskap daarvan—die boodskap van God se Koninkryk, sy hemelse regering in die hande van die verrese Christus Jesus. Hierdie instrument sal binnekort elke spoor van genetiese gebreke verwyder en sal die mensdom van ’n paradysagtige omgewing voorsien waarin hulle vir ewig kan lewe. Jy kan ook daar wees!