Miljoene lewens gaan in rook op
DIT is een van die verbruikersprodukte wat die beste ter wêreld verkoop. Dit het ’n menigte lojale kopers en geniet ’n vinnig groeiende mark. Die ingenome maatskappye wat dit vervaardig, spog met indrukwekkende winste, politieke invloed en aansien. Die enigste probleem is dat die beste klante bly doodgaan!
The Economist sê: “Sigarette is van die wêreld se winsgewendste verbruikersprodukte. Dit is ook die enigstes wat, as dit gebruik word waarvoor dit bedoel is, die meeste verbruikers daarvan (wettiglik) verslaafdes maak en hulle dikwels doodmaak.” Dit beteken groot winste vir die tabakmaatskappye, maar ontsaglike verliese vir hulle klante. Volgens die Amerikaanse Sentrums vir die Beheer en Voorkoming van Siekte word Amerikaanse rokers elke jaar van sowat vyfmiljoen lewensjaar ontneem, ongeveer ’n minuut vir elke minuut wat hulle rook. “Die rookgewoonte veroorsaak die dood van 420 000 Amerikaners per jaar”, berig die tydskrif Newsweek. “Dit is tot 50 keer dié van dwelms.”
Dwarsoor die wêreld sterf driemiljoen mense per jaar—ses elke minuut—weens die rookgewoonte, volgens die boek Mortality From Smoking in Developed Countries 1950-2000, uitgegee deur Brittanje se Imperiale Kankernavorsingsfonds, die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) en die Amerikaanse Kankervereniging. Hierdie ontleding van wêreldwye rooktendense, die breedvoerigste tot op hede, dek 45 lande. “In die meeste lande”, waarsku Richard Peto van die Imperiale Kankernavorsingsfonds, “gaan die ergste nog kom. As die huidige rookpatrone aanhou, sal daar teen die tyd dat vandag se jong rokers middeljarig of oud is ongeveer 10 miljoen sterftes per jaar weens tabak wees—een sterfte elke drie sekondes.”
“Die rookgewoonte is soos geen ander gevaar nie”, sê dr. Alan Lopez van die WGO. “Dit sal uiteindelik een uit twee rokers laat sterf.” Martin Vessey van die Departement van Openbare Gesondheid by Oxford-universiteit sê eweneens: “Hierdie bevindinge oor ’n tydperk van 40 jaar lei tot die verskriklike gevolgtrekking dat die helfte van alle rokers uiteindelik weens hulle gewoonte gaan sterf—’n waarlik skrikwekkende gedagte.” Sedert die vyftigerjare het 60 miljoen mense weens die rookgewoonte gesterf.
Dit is ook ’n waarlik skrikwekkende gedagte vir die tabakmaatskappye. As driemiljoen mense oor die wêreld nou elke jaar weens rookverwante oorsake sterf, en baie ander hou op rook, dan moet daar jaarliks meer as driemiljoen nuwe verbruikers gekry word.
Een bron het te voorskyn gekom na aanleiding van wat die tabakmaatskappye as die bevryding van vroue begroet. Dit is al ’n hele paar jaar in Westerse lande ’n voldonge feit dat vroue rook en dit versprei nou na plekke waar dit voorheen ’n stigma gedra het. Tabakmaatskappye is van voorneme om dit alles te verander. Hulle wil vroue help om hulle nuutgevonde welvaart en bevryding te vier. Spesiale sigaretsoorte wat beweer dat dit ’n laer teer- en nikotieninhoud het, lok vrouerokers wat vind dat hierdie sigarette nie so sterk is nie. Ander sigarette is geparfumeerd of het ’n lang, slanke ontwerp—die voorkoms wat vroue dalk graag wil verkry deur te rook. Tabakadvertensies in Asië beeld jong, elegante Asiatiese modelle uit wat op ’n verloklike wyse in Westerse swier geklee is.
Rookverwante sterftesyfers hou egter tred met die “bevryding” van vroue. Die aantal longkankerslagoffers onder vroue het in die laaste 20 jaar in Brittanje, Japan, Noorweë, Pole en Swede verdubbel. In die Verenigde State en Kanada het sterftesyfers met 300 persent toegeneem. “Jy het al ver gekom, skattie!” sê ’n sigaretadvertensie.
Party tabakondernemings het hulle eie strategie. Een Filippynse maatskappy in daardie oorwegend Katolieke land het gratis kalenders versprei met ’n portret van die Maagd Maria daarop en met die slagspreuk van hulle sigarette onbeskaamd onder die ikon. “Ek het nog nooit so iets gesien nie”, het dr. Rosmarie Erben, ’n Asiatiese gesondheidsraadgewer vir die WGO, gesê. “Hulle het die ikonmotief met tabak probeer verbind om Filippynse vroue op hulle gemak te laat voel met die idee van die rookgewoonte.”
In China rook ’n geraamde 61 persent van die volwasse mans, terwyl net 7 persent van die vroue rook. Westerse tabakmaatskappye het hulle oog op die “bevryding” van hierdie lieflike Oosterse dames, waarvan miljoene so lank al die “genietinge” van hulle Westerse prikkelpopsusters ontsê is. Daar is egter ’n groot vlieg in die salf: Die staatstabakmaatskappy voorsien die meeste van die sigarette.
Westerse maatskappye is nietemin besig om geleidelik toegang te verkry. Weens beperkte advertensiegeleenthede berei party sigaretmaatskappye hulle toekomstige klante op ’n slinkse manier voor. China voer rolprente uit Hongkong in, en in baie van hierdie rolprente word die akteurs betaal om te rook—’n subtiele advertensie!
Met die vyandigheid wat aan die tuisfront toeneem, brei die welvarende Amerikaanse tabakmaatskappye hulle gebied uit om nuwe slagoffers te verstrik. Die feite toon dat hulle hulle dodelike aandag op die ontwikkelende nasies toegespits het.
Gesondheidsbeamptes dwarsoor die wêreld rig waarskuwings. Die hoofopskrifte sê: “Afrika bestry ’n nuwe plaag—sigaretrokery.” “Rook verander in vuur in Asië namate die sigaretmark vinnig groei.” “Asiatiese rooksyfers sal tot ’n kankerepidemie lei.” “Die nuwe Derde Wêreldgeveg is oor tabak.”
Die vasteland van Afrika is deur droogte, burgeroorlog en die vigsepidemie geteister. Tog sê dr. Keith Ball, ’n Britse hartspesialis: “Afgesien van kernoorlog of hongersnood, is sigaretrokery die grootste bedreiging vir die toekomstige gesondheid van Afrika.”
Multinasionale reusemaatskappye huur plaaslike boere om tabak te verbou. Die boere saag bome af wat broodnodig is vir kookdoeleindes, verhitting en behuising en gebruik dit vir brandstof om die tabak te laat sweet. Hulle verbou winsgewende tabakoeste in plaas van minder lonende voedselgewasse. Verarmde Afrikane bestee gewoonlik ’n groot gedeelte van hulle karige inkomste aan sigarette. Gesinne in Afrika kwyn dus weens ondervoeding, terwyl die geldkoffers van die Westerse tabakmaatskappye vol raak van die winste.
Afrika, Oos-Europa en Latyns-Amerika is almal teikens van Westerse tabakmaatskappye wat die ontwikkelende wêreld as ’n reusesakegeleentheid sien. Maar wemelende Asië is verreweg die grootste goudmyn van almal. China alleen het tans meer rokers as die hele bevolking van die Verenigde State—300 miljoen. Hulle rook ’n ongelooflike 1,6 biljoen sigarette per jaar, ’n derde van die totale hoeveelheid wat in die wêreld verbruik word!
“Volgens geneeskundiges is die gesondheidsimplikasies van die groot aanvraag na tabak in Asië niks minder as skrikwekkend nie”, berig The New York Times. Richard Peto raam dat tweemiljoen van die tienmiljoen verwagte rookverwante sterftes elke jaar in die volgende twee of drie dekades in China alleen sal wees. Vyftigmiljoen Chinese kinders wat vandag leef, sal moontlik aan rookverwante siektes sterf, sê Richard Peto.
Dr. Nigel Gray het dit so opgesom: “Die geskiedenis van die rookgewoonte oor die afgelope vyf dekades in China en Oos-Europa verdoem daardie lande tot ’n groot epidemie van tabakverwante siektes.”
“Hoe kan ’n produk wat elke jaar die oorsaak is van 400 000 voortydige sterftes in die VSA, ’n produk wat die Amerikaanse regering hard probeer om sy burgers te laat ophou gebruik, skielik anders wees buite die Amerikaanse grense?” het dr. Prakit Vateesatokit van die Antirookveldtog van Thailand gevra. “Word gesondheid irrelevant wanneer dieselfde produk na ander lande uitgevoer word?”
Die Amerikaanse regering is ’n magtige bondgenoot van die ontwikkelende tabakbedryf. Saam het hulle gestry om in die buiteland vastrapplek te kry, veral in Asiatiese markte. Amerikaanse sigarette is jare lank nie toegelaat in Japan, Taiwan, Thailand en ander lande nie, waarvan party regerings hulle eie monopolie van tabakprodukte gehad het. Antirookgroepe het teen die invoer daarvan geprotesteer, maar die Amerikaanse administrasie het ’n oorredende wapen geswaai—strafmaatreëls.
Baie Asiatiese lande het vanaf 1985 hulle poorte onder hewige druk van die Amerikaanse regering oopgemaak, en Amerikaanse sigarette het ingestroom. Amerika se uitvoer van sigarette na Asië het in 1988 met 75 persent opgeskiet.
Die tragiesste slagoffers van die tabakoorloë is waarskynlik die kinders. ’n Studie waaroor The Journal of the American Medical Association berig het, sê dat “kinders en tienderjariges 90% van alle nuwe rokers uitmaak”.
’n Artikel in U.S.News & World Report raam die aantal tienerrokers in die Verenigde State op 3,1 miljoen. Elke dag begin 3 000 rook—1 000-000 per jaar.
In een sigaretadvertensie is daar ’n tekenprentkameel wat lief is vir pret en plesier en dikwels ’n sigaret in sy mond het. Hierdie sigaretadvertensie word daarvan beskuldig dat dit jongmense lok om nikotienslawe te word voordat hulle die gesondheidsrisiko’s begryp. Binne drie jaar nadat die advertensie verskyn het, het die sigaretmaatskappy ’n toename van 64 persent in verkope aan adolessente gehad. ’n Studie by die Mediese Kollege van Georgia (VSA) het bevind dat 91 persent van die sesjariges met wie ’n onderhoud gevoer is hierdie rokende tekenprentkarakter herken het.
Nog ’n gewilde sigaretikon is die ongebonde macho cowboy wie se boodskap, volgens een tiener, is: “As jy rook, is jy onkeerbaar.” Daar word gesê dat die verbruikersproduk wat die beste ter wêreld verkoop ’n sigaret is wat 69 persent van die mark onder tienerrokers beheer en die soort is wat die meeste geadverteer word. As ’n verdere aansporing kom daar koepons saam met elke pakkie wat verruil kan word vir jeans, hoede en sportdrag wat onder jongmense gewild is.
Omdat antirookgroepe besef watter ontsaglike mag reklame het, het hulle daarin geslaag om tabakadvertensies in baie lande op televisie en radio te laat verbied. Een manier waarop die slim tabakadverteerders egter die stelsel omseil, is om reklameborde op strategiese plekke by sportgeleenthede te plaas. Derhalwe wys ’n spel wat op televisie uitgesaai word, met ’n groot jong gehoor, dalk hulle gunstelingspeler op die voorgrond waar hy regstaan vir aksie met ’n toringhoë sigaretreklamebord op die agtergrond.
Slim geklede vroue in minirokke of in cowboy- of safari-uitrustings deel in die middestad of voor skole gratis sigarette uit aan gretige of nuuskierige tieners. Sigarette word by videoarkades, disko’s en rockkonserte vrylik omgestuur. Een maatskappy se bemarkingsplan wat aan die pers uitgelek het, toon dat ’n spesifieke soort in Kanada hom toegespits het op Franssprekende mans tussen 12 en 17 jaar.
Die felle boodskap is dat rokery genot, fiksheid, manlikheid en gewildheid verskaf. “Waar ek gewerk het”, het ’n reklamekonsultant gesê, “het ons hard probeer om 14-jarige kinders te beïnvloed om te rook.” Advertensies in Asië beeld gesonde, jong Westerse atletiese mense uit wat op strande en sportvelde baljaar—terwyl hulle natuurlik rook. “Westerse modelle en lewenstyle skep betowerende standaarde om na te streef”, het ’n bemarkingshandelsblad gesê, “en Asiatiese rokers kan net nie genoeg daarvan kry nie.”
Nadat hulle miljarde rande aan advertensies bestee het, het tabakverkopers reusesukses behaal. ’n Spesiale verslag van Reader’s Digest het getoon dat die toename in die aantal jong rokers angswekkend is. “In die Filippyne”, sê die verslag, “rook daar nou 22,7 persent van die mense onder 18. In sommige Latyns-Amerikaanse stede is die syfer van tienderjariges wat rook ’n verstommende 50 persent. In Hongkong rook kinders wat maar net sewe jaar oud is.”
Maar terwyl tabak nog sy verowerings in die buiteland vier, is sigaretmaatskappye pynlik bewus van die onweerswolke wat tuis saampak. Wat is tabak se kanse om die storm te deurstaan?
[Lokteks op bladsy 3]
Die beste klante bly doodgaan
[Lokteks op bladsy 5]
Asië, tabak se nuutste slagveld
[Lokteks op bladsy 6]
90 persent van alle nuwe rokers—kinders en tienderjariges!
[Venster op bladsy 4]
Die dodelike resep—Wat is in ’n sigaret?
Tot 700 verskillende chemiese bymiddels kan deur sigaretvervaardigers gebruik word, maar die wet laat die maatskappye toe om hulle lys geheim te hou. Daar is egter swaarmetale, plaagdoders en insekdoders op die lys. Party bestanddele is so giftig dat dit onwettig is om dit op ’n stortterrein te stort. Daardie sierlik kronkelende sigaretrook bevat ongeveer 4 000 stowwe, onder meer asetoon, arseen, butaan, koolmonoksied en sianied. Die longe van rokers en mense naby hulle word aan ten minste 43 stowwe blootgestel wat daarvoor bekend is dat dit kanker veroorsaak.
[Venster op bladsy 5]
Nie-rokers in gevaar
Woon, werk of reis jy saam met strawwe rokers? Indien wel, loop jy dalk ’n groter gevaar om longkanker en hartsiekte op te doen. ’n Studie in 1993 deur die EPA (Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap) het tot die gevolgtrekking gekom dat tabakrook in die omgewing ’n Groep A-karsinogeen is, die gevaarlikste soort. Die omvattende verslag het die resultate van 30 studies ontleed wat toon dat sigaretrook sowel as uitgeasemde rook die oorsaak daarvan is.
Die EPA blameer passiewe rook vir 3 000 longkankersterftes elke jaar in die Verenigde State. Die Amerikaanse Mediese Vereniging het die gevolgtrekkings in Junie 1994 bevestig met ’n studie wat hulle uitgegee het wat toon dat vroue wat nooit gerook het nie maar aan tabakrook in die omgewing blootgestel word ’n 30 persent groter gevaar loop om longkanker op te doen as ander lewenslange nie-rokers.
Vir jong kinders het blootstelling aan rook jaarliks 150 000 tot 300 000 gevalle van brongitis en longontsteking tot gevolg. Rook vererger elke jaar die asmasimptome van 200 000 tot 1 000 000 kinders in die Verenigde State.
Die Amerikaanse Hartvereniging skat dat tot 40 000 sterftes per jaar voorkom weens hart- en bloedvatkwale wat deur tabakrook in die omgewing veroorsaak word.
[Prente op bladsy 7]
’n Verleidelike Asiatiese model en die teikens