Is die voorspelde einde van die wêreld naby?
DIE Detroit Free Press Magazine van 6 Februarie 1994 het gesê: “Apokaliptiese drome het met die begin van die atoomeeu ’n obsessie geword. Ná die vernietiging van Hirosjima op 6 Aug. 1945 was dit vir almal duidelik: Die wêreld kon nou werklik eindig!”
Verlede Desember het Charles B. Strozier, ’n psigoanalis en geskiedenisprofessor van New York, gesê: “Ons het nie meer digters nodig om vir ons te vertel dat dit alles met ’n slag of ’n fluistering of met die pyn van vigs kan eindig nie.” Hy het trouens bygevoeg: “Dit verg nou ’n lewendige verbeelding om nie aan die mensdom se einde te dink nie.”
Kan ons deur middel van Jesus Christus se leringe vasstel of die einde werklik naby is, aangesien hy geleer het dat die wêreld gaan eindig?
Die einde—Wanneer?
Jesus se dissipels het hom om ’n “teken” gevra wat sou aandui wanneer hierdie wêreld, of stelsel van dinge, sou eindig. “Wanneer sal hierdie dinge wees”, het hulle gevra, “en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Jy kan “die teken” wat Jesus in antwoord op hierdie vraag gegee het self ondersoek. Dit is in die Bybel in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken. Party van die belangrikste gebeure waaruit daardie teken bestaan, is soos volg:
GROOT OORLOË: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Ons het beslis die vervulling van hierdie deel van die teken gesien. Een geskiedkundige het gesê: “Die Eerste Wêreldoorlog [wat in 1914 uitgebreek het] was die eerste ‘totale’ oorlog.” Tog was die Tweede Wêreldoorlog, wat ongeveer 50 miljoen slagoffers geëis het, baie erger. En oorlog teister die aarde steeds.
VOEDSELTEKORTE: “Daar sal voedseltekorte . . . wees” (Matteus 24:7). Die Eerste Wêreldoorlog is deur verskriklike hongersnood gevolg, en sedertdien het hongersnood in baie dele van die aarde onbeheers bly uitbrei. Hongersnood en wanvoeding is selfs in ryker lande baie algemeen.
GROOT AARDBEWINGS: “Daar sal groot aardbewings wees” (Lukas 21:11). Kom ons kyk net na ’n paar groot aardbewings: 1920, China, 200 000 slagoffers; 1923, Japan, 143 000 verloor hulle lewe; 1970, Peru, 66 800 slagoffers en 1976, China, 240 000 (party sê 800 000) sterfgevalle. ’n Deskundige op die gebied van aardbewingsbestande bouwerk het die aardbewing van 1976 in China “die grootste aardbewingsramp in die geskiedenis van die mensdom” genoem.
SIEKTE: “Op die een plek na die ander peste” (Lukas 21:11). Net ná die Eerste Wêreldoorlog het ongeveer 21 miljoen mense aan die Spaanse griep gesterf. Die Science Digest het berig: “In die ganse geskiedenis was daar geen genadeloser, vinniger doder nie.” Sedertdien het hartkwaal, kanker, vigs en baie ander siektes honderdmiljoene mense gedood.
MISDAAD: “Toename in wetteloosheid” (Matteus 24:12). In baie lande is misdaad buite beheer. Moord, diefstal, verkragting, terrorisme, korrupsie—ons hoor daagliks van sulke misdade of ons ondervind dit self.
Ander Bybelprofesieë het ook toestande voorspel wat in die laaste dae sou bestaan. Die boek Openbaring bevat byvoorbeeld die visioen van die rit van vier perderuiters (Openbaring 6:1-8). Die eerste perderuiter beeld Jesus self as ’n verowerende Koning uit. Die ander ruiters met hulle strydrosse beeld gebeure op die aarde af wat die begin van Jesus se heerskappy aandui: oorlog, hongersnood en ontydige dood weens verskillende oorsake.
Nog ander Bybelprofesieë beskryf gesindhede en toestande wat gedurende “die finale era van hierdie wêreld” aan die orde van die dag sou wees. Kyk na wat ’n apostel van Jesus geskryf het. Wanneer jy hierdie profesie lees, moet jy jou die vraag afvra: Is dit nie ’n raak beskrywing van die moeilike tye van vandag nie?
“Die finale era van hierdie wêreld”, het die apostel geskryf, “gaan ’n tyd van moeilikhede wees. Mense sal niks behalwe geld en hulleself liefhê nie; hulle sal verwaand, grootpraterig en beledigend wees; sonder respek vir ouers, sonder dankbaarheid, sonder vroomheid, sonder natuurlike geneentheid; hulle sal onversoenlik in hulle haat wees, skindertonge, bandeloos en wreed, vervreemd van alle goedheid, verraaiers, onverskillig, opgeblase. Hulle sal mense wees wat plesier voorkeur gee bo God, mense wat ’n gedaante van godsdienstigheid behou, maar die realiteit daarvan bly verloën.”—2 Timoteus 3:1-5, The New English Bible.
Nog ’n belangrike profesie aangaande die wêreld se einde is die een wat belowe dat God ‘die verderwers van die aarde sal verderf’ (Openbaring 11:18). Mense in vorige geslagte het nooit die tegnologiese vermoë gehad om die aarde te verderf nie, maar hulle het dit nou. En vandag speel nuwe tegnologie ’n belangrike rol in die besoedeling van die omgewing. In November 1992 het koerante opskrifte soos die volgende gehad: “Vooraanstaande wetenskaplikes waarsku aangaande die vernietiging van die aarde.”
Onderskei ware profesieë
Daar kan geen twyfel hieroor bestaan nie. Al die dinge wat die Bybel voorspel het gedurende “die finale era”, of “die voleinding van die stelsel van dinge” sou gebeur, vind nóú plaas. Ons sien die vervulling van ware profesieë, en dit is lewensbelangrik dat ons daarop ag slaan. Jesus het dit getoon toe hy die situasie in die dag van Noag, “’n prediker van regverdigheid”, beskryf het kort voordat die wêreld van daardie tyd geëindig het.—2 Petrus 2:5.
Jesus het verduidelik: “Soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:38, 39). Wanneer ware profesieë geïgnoreer word, is die gevolge rampspoedig.
Jy sê dalk: ‘Ja, ek glo hierdie Bybelprofesieë; die einde sal eendag kom, maar dit sal nog lank wees.’ Maar is jy seker? Behoort jy nie nóú op die waarskuwing ag te slaan nie?
Waarskuwings waarop ons moet ag slaan
Dit spreek vanself dat party waarskuwings ongegrond is, en dit sou dwaas wees om daarop ag te slaan. Maar ander is nie. Daar is geen rede om ’n waarskuwing te ignoreer net omdat baie, met inbegrip van vername lede van ’n gemeenskap, dit verwerp nie. Beskou ’n voorbeeld.
Dit was Maart 1902, en op die pragtige Karibiese eiland Martinique het die vulkaniese Mont Pelée aktief geword. Teen April is rook, as en rotsstukke saam met skerp dampe uitgewerp. Die inwoners van St. Pierre, wat ongeveer agt kilometer daarvandaan geleë is, het bevrees geword. “Die stad is bedek met as”, het een inwoner geskryf. “Baie mense is verplig om nat sakdoeke te dra om hulle teen die sterk dampe te beskerm.”
Vroeg in Mei het die vulkaniese aktiwiteit toegeneem. Die plaaslike koerant het gesê: “Die asreën hou nooit op nie . . . ’n Mens hoor nie meer hoe perdekarre in die strate verbyry nie. Die geluid van die wiele word gedemp.” Die hitte was verstikkend.
Toe, op 5 Mei, het ’n massa skroeiende materiaal uit die vulkaan gevloei en tientalle mense in die pad daarvan doodgemaak. Maar wat het die stadsleiers gesê?
Die suikerrietoes sou kort voor lank begin en sakemanne het die mense verseker dat daar geen groot gevaar bestaan nie. Die politici wou ook nie hê dat die mense moes vlug nie, aangesien hulle besorg was oor die komende verkiesing op 10 Mei. Daarom het hulle ook die mense se vrese probeer stil. Wat meer is, die geestelikes het met die sakemanne en politici saamgewerk en hulle gemeentelede oorreed om nie die stad te verlaat nie.
Toe gebeur dit. Op 8 Mei, kort voor 8:00 vm., het Mont Pelée met ’n oorverdowende gedreun ontplof. Reusagtige, vuurwarm swart wolke het met ’n ongelooflike vaart op St. Pierre afgerol. Die warm gas het gou duisende lewens uitgewis. So te sê almal in St. Pierre het gesterf—sowat 30 000 of meer mense. Die enigste persoon wat dit oorleef het, was ’n jong gevangene wat in ’n kerker onder die tronk opgesluit was.
Die situasie vandag
So ook is daar vandag baie wat die bewyse verwerp dat Bybelprofesieë in vervulling gaan. Hulle weier om ag te slaan op bewyse wat enige redelike persoon behoort te oortuig dat die einde van hierdie stelsel naby is. Maar die Bybel het selfs hulle gesindheid voorspel waar dit sê: ‘In die laaste dae sal spotters kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan presies soos van die begin van die skepping af.”’—2 Petrus 3:3, 4.
Maar vandag se spotters misgis hulle. Feit is dat dinge wel verander het. Bybelprofesieë word wel vervul. Bewyse dat die einde naby is, is oorweldigend.
Dit sal dus verstandig wees om nie lewensreddende optrede uit te stel nie. Maar wat staan jou te doen?
[Foto-erkenning op bladsy 10]
U.S. National Archives photo
[Foto-erkenning op bladsy 10]
WHO/E. Hooper
[Foto-erkenning op bladsy 11]
WHO photo by W. Cutting