Hoe ek by God se sorg baat gevind het
EK HET die oggend van 18 Mei 1963 baie gelukkiger as gewoonlik wakker geword. Dit was die begin van ’n pragtige, warm, sonnige dag. Maar kom ek vertel julle eers ’n bietjie van myself voordat ek verduidelik waarom daardie dag vir my so spesiaal was.
Ek is op 20 Mei 1932 in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA, gebore, die jongste meisie in ’n gesin van vier dogters. My ma is dood toe ek twee was, en my pa het weer getrou toe ek vyf was. Mettertyd is ses jonger broers en susters by ons gesin gevoeg. Ons was in die Baptistekerk, en op een stadium het ek selfs daaraan gedink om ’n Sondagskoolonderwyseres te word.
Ek is met verkreupelende gewrigsontsteking gebore, wat tot baie moeilike kinderjare gelei het. Toe ek nege was, het ’n dokter vir my gesê dat my toestand met die jare sou vererger. Ongelukkig is sy voorspelling bewaarheid. Teen die tyd dat ek 14 was, kon ek nie meer loop nie. Eindelik was my hande, voete en bene heeltemal gebreklik en het my heupe verstyf. My vingers het so misvorm geraak dat ek gesukkel het om te skryf of selfs iets op te tel. Weens my toestand kon ek nie na ’n openbare skool teruggaan nie.
Toe ek op 14-jarige ouderdom in die hospitaal opgeneem is, was ek bly dat die verpleegsters my toegelaat het om dingetjies te doen om hulle te help. Ek het hierdie werk baie geniet. Later het ek die punt bereik waar ek nie self regop kon sit nie. Die dokters het vir my ouers gesê dat daar niks was wat hulle vir my kon doen nie; ek is dus huis toe gestuur nadat ek drie maande in die hospitaal deurgebring het.
Die volgende twee jaar, totdat ek 16 was, het ek nie veel gedoen behalwe om in die bed te lê nie. Ek het ’n bietjie tuisonderrig ontvang, maar toe het my toestand versleg. Ek het ’n seer op my regterenkel asook rumatiekkoors gekry, wat vereis het dat ek moes teruggaan hospitaal toe. Ek het daar 17 geword. Ek het weer eens drie maande in die hospitaal gebly. Toe ek terug is huis toe, was ek nie meer geregtig op tuisonderrig nie.
Laat in my 20ste jaar was ek baie ongelukkig en het ek meestal gehuil. Ek het geweet dat daar ’n God is, en baie keer het ek gebid dat hy my moet help.
’n Hoop vir die toekoms
Terwyl ek in Philadelphia se Algemene Hospitaal verdere behandeling vir my enkel ontvang het, het ek ’n kamer met ’n jong meisie met die naam Miriam Kellum gedeel. Ons het vriendinne geword. Toe Miriam se suster Catherine Miles haar kom besoek het, het Catherine inligting uit die Bybel aan my meegedeel. Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het ek altyd op die een of ander manier met Catherine, wat een van Jehovah se Getuies was, in aanraking gebly.
Ongelukkig het my stiefma nie veel van my gehou nie. Toe ek 25 was, het ek by een van my ouer susters ingetrek, en Catherine het toevallig in ’n huis om die hoek ingetrek. Ek het haar gebel, en sy het die Bybel met my begin studeer en die boek Laat God waaragtig wees as ’n studiehulp gebruik. Wat ’n vreugde was dit tog om te leer dat ek nie altyd gebreklik sou wees nie en dat daar eendag ’n einde aan alle goddeloosheid gemaak gaan word! (Spreuke 2:21, 22; Jesaja 35:5, 6). Hierdie waarhede, tesame met die opstandingshoop en die vooruitsig om my ma weer te sien, was vir my wonderlik.—Handelinge 24:15.
Ek het onmiddellik die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Catherine se man het my na hulle motor toe gedra en my Koninkryksaal toe geneem. Wanneer ek die vergaderinge bygewoon het, is ek aangemoedig deur die liefde wat aan my betoon is.
Hoe ek struikelblokke oorkom het
Ongelukkig is my suster en haar man uitmekaar en moes ek weer eens by my pa en stiefma gaan bly. Aangesien my stiefma baie teen Jehovah se Getuies gekant was, moes ek die Bybel vanaf 1958 tot 1963 in die geheim bestudeer. Sy het Jehovah se Getuies glad nie in die huis toegelaat nie. Ek het saam met verskillendes oor die telefoon gestudeer of wanneer ek in die hospitaal was.
Nog ’n struikelblok was dat my stiefma soms geweier het om my te voer en te bad. Eenkeer het sy my hare agt maande lank nie gewas nie. Sy het my ook nie toegelaat om enige pos te lees wat sy nie eers goedgekeur het nie. Jehovah se sorg was egter duidelik, aangesien my broer my toegelaat het om my pos na sy huis te laat stuur. Hierdie reëling het Pat Smith, ’n Christensuster met wie ek gekorrespondeer het, in staat gestel om met my in aanraking te bly en my van skriftuurlike aanmoediging te voorsien. My broer het haar briewe na my toe ingesmokkel; ek het hulle beantwoord, en hy het my briewe uitgesmokkel.
In 1963 moes ek teruggaan hospitaal toe, en Pat Smith het voortgegaan om daar met my te studeer. Eendag het sy my gevra: “Sal jy graag by ons kringbyeenkoms gedoop wil word?”
“Ja!” het ek gesê.
Ek was in die rehabilitasiesaal en kon toestemming kry om ’n dag uit te gaan. Op die dag van die kringbyeenkoms het Pat, saam met ander Getuies, my kom haal. Die broers moes my oor ’n afskorting tel en my in die water laat sak sodat ek gedoop kon word. Nou was ek een van Jehovah se knegte! Dit was 18 Mei 1963, ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie.
In en uit verpleeginrigtings
In November moes ek die hospitaal verlaat. Ek wou nie teruggaan huis toe nie omdat ek geweet het dat my diens aan Jehovah daar beperk sou wees. Ek het dus reëlings getref om na ’n verpleeginrigting te gaan. Daar het ek aan die bediening begin deelneem deur briewe aan mense te skryf met wie die Getuies nie maklik in die huis-tot-huis-bediening in aanraking kon kom nie. Ek het ook die doodsberigte gelees en aan familielede geskryf van diegene wat kort tevore dood is en het vertroostende tekste uit die Bybel ingesluit.
Toe, in Mei 1964, het ek na die stad New York getrek om by my oudste suster en haar man te gaan woon. Hy het vir my my eerste rystoel gekoop, en ek het die vergaderinge begin bywoon. Wat ’n vreugde was dit tog om my eerste toespraak in die Teokratiese Bedieningskool te hou terwyl ek in die stad New York was!
Vroeg in 1965 het vriende in Philadelphia my gevra om twee weke by hulle deur te bring. Terwyl ek in Philadelphia was, het my suster vir my geskryf en gesê dat sy my nie meer wou hê nie en dat ek moet bly waar ek is. Ek het gereël om weer na ’n verpleeginrigting te gaan. Terwyl ek daar gewoon het, het ek voortgegaan om die vergaderinge by te woon en om vir mense te getuig deur briewe te skryf. Dit was toe dat ek my bediening kon uitbrei deur deel te neem aan wat as die hulppionierdiens bekend staan.
Ontvanger van liefdevolle sorg
’n Verdere aanduiding van Jehovah se sorg was die bystand wat ek van die Wesgemeente van Jehovah se Getuies in Philadelphia ontvang het. Behalwe dat hulle my na Christelike vergaderinge geneem het, het hulle my ook voorsien van die skryfbehoeftes en ander benodigdhede vir my bediening.
In 1970 is ’n verdere bewys van Jehovah se sorg gelewer toe reëlings getref is dat ek by Maude Washington, ’n Christensuster en afgetrede verpleegster, intrek. Hoewel sy toe al amper 70 was, het sy my die volgende twee jaar gewillig versorg totdat sy dit nie meer kon doen nie.
Terwyl ek by Maude was, het die broers van die Ridgegemeente in Philadelphia hulle ywerig daarop toegelê om seker te maak dat ek al die vergaderinge kon bywoon. Dit het beteken dat hulle my drie keer per week met drie stelle trappe op en af moes dra. Hoe dankbaar is ek tog teenoor diegene wat my so getrou gehelp het om by die vergaderinge te kom!
In 1972, toe suster Washington nie meer vir my kon sorg nie, het ek besluit om my eie woonstel te kry. Hierdie aanpassing sou nie moontlik gewees het sonder die selfopofferende hulp en liefde van die Christensusters in die Ridgegemeente nie. Hulle het reëlings getref om my te voer, te bad en na my persoonlike behoeftes om te sien. Ander het gehelp deur inkopies te doen en na ander nodige sake om te sien.
Elke oggend het die susters vroeg gekom om my te voer en vir die dag aan te trek. Nadat hulle my gehelp het om in my rystoel te kom, het hulle my na my lessenaar in ’n hoekie van die woonstel naby ’n venster gestoot. Ek het daar gesit en aan die bediening deelgeneem deur die telefoon te gebruik en deur briewe te skryf. Ek het hierdie deel van my woonstel paradyshoekie genoem, aangesien ek dit met talle teokratiese tonele laat versier het. Ek het die hele dag in my bediening deurgebring totdat iemand saans gekom het om my in die bed te sit.
In 1974 het my gesondheid vereis dat ek hospitaal toe gaan. Terwyl ek daar was, het die dokters druk op my probeer uitoefen om bloed te neem. Ongeveer ’n week later, nadat my toestand verbeter het, het twee van die dokters my kom besoek. “O, ek onthou julle twee”, het ek vir hulle gesê. “Julle het my probeer ompraat om bloed te neem.”
“Ja”, het hulle geantwoord, “maar ons het geweet dit sou nie werk nie.” Ek het die geleentheid gehad om vir die dokters te getuig van die Bybel se belofte van die opstanding en van die Paradysaarde.—Psalm 37:29; Johannes 5:28, 29.
Gedurende die eerste tien jaar wat ek alleen gebly het, kon ek Christelike vergaderinge bywoon. Ek het hulle nooit oorgeslaan tensy ek siek was nie. As die weer onplesierig was, het die broers my bene met ’n kombers toegedraai en hulle bedek om hulle droog te hou. Af en toe het ’n kringopsiener my kom besoek. Gedurende sy besoeke het hy “ingesit” op ’n Bybelstudie wat ek oor die telefoon gehou het. Sulke tye het my groot vreugde verskaf.
Hoe ek ’n verergerende situasie verduur het
In 1982 het ek die punt bereik waar ek nie meer uit die bed kon kom nie. Ek kon nie die vergaderinge bywoon nie, en ek kon ook nie pionierdiens doen nie, wat ek 17 jaar lank ononderbroke gedoen het. Hierdie omstandighede het my baie droewig laat voel, en ek het dikwels gehuil. Maar Jehovah se sorg was duidelik—Christen- ouer manne het gereël dat ’n Gemeentelike Boekstudie in my woonstelletjie gehou word. Hoe dankbaar is ek steeds vir hierdie voorsiening!
Aangesien ek heeldag in die bed moes bly en nie by my lessenaar kon kom nie, het ek begin oefen om op ’n stuk papier te skryf wat ek op my bors laat lê het. Aanvanklik was my skrif onleesbaar, maar met baie oefening het dit leesbaar geword. Vir ’n rukkie kon ek weer getuig deur briewe te skryf, en dit het my ’n mate van vreugde verskaf. Ongelukkig het my toestand verder versleg en kan ek nie meer ’n aandeel aan hierdie aspek van die bediening hê nie.
Hoewel ek sedert 1982 nie meer ’n streekbyeenkoms fisies kon bywoon nie, probeer ek gedurende die byeenkomstyd in die stemming van die geleentheid kom. ’n Christensuster bring vir my ’n lapelkaartjie en steek dit aan my nagrok vas. Ek sit ook die televisie op ’n stasie aan waar ’n bofbalwedstryd by Veteran’s Stadium in Philadelphia gespeel word en dink aan waar ek gedurende ons streekbyeenkomste daar gesit het. Gewoonlik neem iemand die streekbyeenkomsprogram op sodat ek na die hele program kan luister.
Ek gee nie moed op nie
Hoewel ek nie meer soveel in die bediening kan doen as wat ek voorheen gedoen het nie, bly ek daarvan bewus om met mense oor Bybelwaarhede te praat. Dit was vir my ’n bron van vreugde dat ek aan die pionierdiens kon deelneem en ’n aantal belangstellendes kon help om die Bybel te bestudeer. Hoewel dit nie maklik was om die afgelope 22 jaar alleen te bly nie, het ek die vryheid geniet om Jehovah ongehinderd te dien, wat ek nie sou kon gedoen het as ek by die huis gebly het nie.
Ek het ook besef dat ek my ywerig daarop moet toelê om my eie persoonlikheid te verander. Soms was my woorde nie altyd aangenaam wanneer ek vir diegene wat aangebied het om my te help, gesê het wat om te doen nie (Kolossense 4:6). Ek bid steeds tot Jehovah om my te help om op hierdie gebied te verbeter. Ek is waarlik dankbaar vir die geduld en vergewensgesindheid van diegene wat my deur die jare heen met liefde verdra het. Hulle liefdevolle bystand is ’n seën waarvoor ek hulle en Jehovah bedank.
Hoewel ek al jare lank nie meer fisies daartoe in staat is om die vergaderinge by te woon nie—ek het in al daardie tyd nie my woonstel verlaat nie behalwe een keer om hospitaal toe te gaan—is ek steeds vreugdevol en gelukkig. Ek raak weliswaar soms terneergedruk, maar Jehovah help my om dit gou te bowe te kom. Ek geniet dit nou om deur middel van ’n telefoonverbinding met die Koninkryksaal na die vergaderinge te luister. Omdat ek my deur gebed op Jehovah verlaat en op hom vertrou, het ek nog nooit alleen gevoel nie. Ja, ek kan waarlik sê dat ek by Jehovah se sorg baat gevind het.—Soos vertel deur Celeste Jones.
[Prent op bladsy 24]
Ek het hierdie plekkie waar ek aan die bediening deelgeneem het paradyshoekie genoem