1995—Wat van ons toekoms?
“Die wêreld het ’n beter kompas nodig as blote beroepe om demokrasie en markte—maar daar is nie een nie.”—Will Hutton, Guardian Weekly.
UIT ’n menslike oogpunt lyk hierdie stelling dalk waar. Dit lyk of die wêreld nie ’n betroubare kompas het wat die weg na vrede, veiligheid, geregtigheid, regverdigheid en goeie regering wys nie. Die mens het feitlik elke regeringstelsel probeer, van monargieë tot republieke, van diktatorskappe tot demokrasieë, en steeds vind hy dat sy wêreld byna onregeerbaar is. Waarheen moet hy hom nou wend?
Daar is blykbaar ’n keuse—die afdraande na ’n wêreld van meer geweld, misdaad, korrupsie, ongeregtigheid, godsdiens- en politieke huigelary, nasionalistiese haat en die uitbuiting van die armes. Volgens party is dit die pad wat na anargie lei.
Of daar is die moeilike, selfopofferende opdraande na ’n beter wêreld wat op God se oplossing vir heerskappy gebaseer is en in die Bybel gevind word. Dit is moeilik, want dit verg sedelike moed, persoonlike opoffering, ’n geestelike uitkyk op die lewe en geloof in ’n doelgerigte God. Maar as die mens daardie opdraande met welslae wil uitkom, moet hy ook nederig wees—nederig voor sy Skepper. Hy moet op God vertrou om regverdige heerskappy te bring. Die Christenapostel Petrus het gemaan: “Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef; terwyl julle al julle sorge op hom werp, want hy is besorg oor julle.”—1 Petrus 5:6, 7; Openbaring 4:11.
Wie laat haat ontvlam?
Die mens alleen kan nie hierdie wêreld permanent ten goede verander nie—die selfsugtige, bose elemente is te veel en te magtig. Die profeet Jeremia was reg toe hy geskryf het: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Sonder God kan die mens nie sy voetstappe met welslae ten behoewe van die hele mensdom rig nie. Waarom nie? Omdat daar benewens ons inherente onvolmaaktheid nog altyd daardie onsigbare vyand Satan is, wat regstaan om mense te manipuleer, soos hy in Rwanda gedoen het, en ’n bloedige konflik te ontketen.—Genesis 8:21; Matteus 4:1-11.
Ten einde vooroordeel, haat en moord in mense se harte en verstande te laat posvat, het Satan idees van nasionale, stam- en godsdiensmeerderwaardigheid by die nasies ingeprent. Hierdie diepgewortelde haat word van kleins af by kinders ingeprent deur ouers in wie se verstande dit reeds posgevat het, dikwels weens eeue oue tradisie. Hierdie tradisie word dan deur skoolstelsels en godsdiensonderrig versterk. Sodoende word miljoene mense met haat en vooroordeel in hulle harte grootgemaak. Hulle word gekondisioneer, van kleins af gebreinspoel, om in opdrag van gewetenlose politieke en godsdienstige opstokers teen hulle medemens te draai. Wanneer irrasionele slagspreuke en snydende uitlatings rondgeslinger word, kan dit soos ’n veldbrand versprei wat tot ’n “etniese suiwering” of ’n bloedbad lei.
Ter aanduiding van wat die nabye toekoms kan inhou, het Martin van Creveld, ’n militêre geskiedkundige in Israel, in The Transformation of War geskryf: “Uit die huidige oogpunt lyk dit asof daar ’n baie goeie kans is dat . . . [godsdiens]fanatisme ’n groter rol sal speel ter bevordering van gewapende konflik” in die Weste as op enige ander tydstip “gedurende die afgelope 300 jaar”. In plaas van vrede te bevorder en die mensdom se geestelikheid te verbeter, gaan godsdiens in sy historiese rol voort om haat, konflik en slagtings te veroorsaak.
’n Ander toekoms word beloof
As die mensdom vir lewe in ’n regverdige nuwe wêreld in aanmerking wil kom, moet hulle aan die vervulling van Jesaja se profesie deelneem: “Hy [Jehovah] sal ons onderrig omtrent sy weë, en ons sal in sy paaie wandel. . . . En hy sal sekerlik regspreek onder die nasies en sake regstel met betrekking tot baie volke. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:3, 4, NW.
Wie gee vandag wêreldwyd gehoor aan hierdie luisterryke profesie? Wie het in Rwanda eerder gesterf as om hulle medegelowiges van ’n ander stam dood te maak? Wie het eerder in Nazi-konsentrasiekampe gesterf as om in Hitler se leër te veg? Wie het eerder tyd in die tronke van baie lande deurgebring as om oorlog te leer voer? Dit is diegene wat die vervulling van Jesaja 54:13 ervaar het: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.”
Wêreldwyd het Jehovah se Getuies nou daardie vrede omdat hulle Jehovah se leringe in sy Woord, die Bybel, aanvaar het. Hulle volg die leer en voorbeeld van Christus Jesus. En wat het hy gesê? “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Hoewel Jehovah se Getuies voorheen Katolieke en Protestante was, beoefen hulle hierdie liefde in so ’n mate dat hulle nou in Noord-Ierland in harmonie saamwerk. Hoewel hulle voorheen godsdiensvyande was, werk hulle nou in Israel, Libanon en ander lande as Christene saam. Hulle leer nie meer om oorlog te voer nie. Wat ’n verskil sou dit tog maak as alle volke van die wêreld aan Jesus se woorde gehoor gee en dit in hulle lewe toepas!
Jehovah se Getuies glo dat God se beloofde nuwe wêreld naby is, ’n wêreld onder die heerskappy van ’n hemelse regering. Op grond waarvan het hulle so ’n vaste hoop?
God se beloofde, besliste optrede
In sy Woord, die Bybel, beloof God ’n regverdige heerskappy vir alle gehoorsame mense. Deur sy profeet Daniël het hy geprofeteer dat hy gedurende die tyd van die einde van hierdie huidige stelsel ’n permanente en regverdige regering tot stand gaan bring. “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Dit is dieselfde Koninkryksheerskappy waarvan Christus gelowiges in sy bekende gebed geleer het: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
In daardie gebed vra ons God om sy beloftes aangaande sy regverdige heerskappy te vervul. En ons weet dat God nie kan lieg nie. Paulus het gepraat van “die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, voor langdurige tye beloof het” (Titus 1:2; Hebreërs 6:17, 18). En wat het God beloof? Die apostel Petrus antwoord: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17; Openbaring 21:1-4.
Voordat daardie regverdige heerskappy hier op aarde ten volle waardeer kan word, moet ’n groot opruimingswerk plaasvind. Bybelprofesieë toon dat hierdie stap om die wêreld van Satan en sy bose magte te reinig binnekort gaan plaasvind. (Sien Matteus, hoofstuk 24; Lukas, hoofstuk 21 en Markus, hoofstuk 13.) Hierdie finale daad van reiniging word die slag van Armageddon genoem, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.—Openbaring 16:14, 16.
Ten spyte van wat baie dalk dink, is die jaar 2000 nie betekenisvol nie. Daardie jaartal geld per slot van rekening net vir die Christendom. Ander kulture het hulle eie dateringstelsels. Wat wel belangrik is, is dat dit nou die tyd is om jou tot God en sy Woord te wend sodat jy kan uitvind wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God” is (Romeine 12:1, 2). Wat saak maak, is dat jy nou moet kies—om ’n toekoms te betree wat deur God geseën word of om aan te hou loop op die pad van frustrasie wat Satan se wêreld bied. Ons spoor jou aan om God se weg te kies. Kies die lewe!—Deuteronomium 30:15, 16.
[Lokteks op bladsy 14]
“Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag.” —2 Petrus 3:13
[Prent op bladsy 13]
Nasies kan net onder die heerskappy van God se Koninkryk waarlik van hulle swaarde ploegskare smee