Die Bybelse beskouing
Jou rol in jou gebede
TEEN ’n berghang wat oor die stad uitkyk, gaan staan die beleërde koning vir ’n kort rukkie om na sy majestueuse paleis en die uitgestrekte hoofstad te kyk en oor die droewige toestand van sy familie na te dink. ’n Groot leër het in die suide versamel en ruk nou op na die stad. Hooggeplaaste regeringsamptenare het na sy teenstander oorgeloop, en die volksmening het in die rebelle se guns gedraai. In sy mismoedige toestand bid die koning tot God. Omdat hy ’n baie godsdienstige man is, neem sy vertroue toe dat God sy pleidooi sal verhoor en die samesweerders se planne sal dwarsboom. Dan draai hy weg van sy luisterryke stad, klim teen die berg af en gaan verder noord in die rigting van die woestyn anderkant die rivier. Wat kan hy nog doen? Die situasie is nou in God se hande.
Net so wend nederige gelowiges hulle vandag gedurende moeilike tye in gebed tot God met die gerusstellende wete dat die Bybel nie net duidelike riglyne voorsien oor hoe om te bid nie, maar ook toon dat Jehovah God die “Hoorder van die gebed” is (Psalm 65:3). Ons is daarvan verseker dat almal wat God met ’n opregte hart soek deur hom verhoor sal word.
Maar is geloof en gebed voldoende? Watter rol speel ons in hoe ons gebede afloop?
Hoe kan ons ’n bydrae lewer?
Die koning wat aan die begin genoem is, was koning Dawid van eertydse Israel. Toe sy slinkse seun Absalom en sy skynheilige raadgewer Agitofel ’n sameswering teen hom gesmee het, het hy verkies om uit Jerusalem te vlug en skuiling in die versterkte woestynstad Mahanaim aan die oostekant van die Jordaanrivier te soek. Omdat hy waarskynlik teleurgesteld, neerslagtig en beangs was, het hy in gebed ’n versoek tot Jehovah gerig en gesê: “o HERE, verydel tog die raad van Agitofel!” (2 Samuel 15:11-15, 30, 31). Maar Dawid het nie net gebid nie. Hy het daadwerklik tot die suksesvolle afloop van sy gebed bygedra. Hoe so?
Sy bydrae het lank voor die beproewinge begin waarvoor hy te staan gekom het. Oor ’n tydperk van baie jare, selfs voordat hy koning geword het, het Dawid bewys gelewer dat hy ’n lojale aanbidder van Jehovah was (1 Samuel 16:12, 13; Handelinge 13:22). Hy het ’n intieme verhouding met God opgebou. Tydens beproewing het Dawid dus geloof gehad dat Jehovah sy gebed sou verhoor en op ’n gepaste wyse sou reageer.
Dieselfde geld vandag. ’n Belangrike manier waarop ons dikwels kan bydra tot hoe ons gebede afloop, is deur die toepassing van Bybelraad ’n lewenspatroon te maak. Wanneer ons dermate lojaal aan godgegewe beginsels vashou, sal dit ’n hegte verhouding met God tot gevolg hê. Hierdie noue band met God en geloofspatroon moet reeds daar wees voordat die beproewinge begin. Dit moet wees soos ’n sterk fondament waarop ’n huis gebou gaan word; dit moet daar wees voordat die gewig van die struktuur daarop geplaas word. Ons kan dus—nou reeds, voordat beproewinge kom—tot die suksesvolle afloop van baie van ons gebede bydra.
Tree daadwerklik op!
Dawid se verhouding met God het weliswaar ’n beslissende rol gespeel, maar hy het ook besef dat hy nie passief kon toekyk hoe sy gebed sou afloop nie. Inteendeel, Dawid het daadwerklik opgetree, soos blyk uit die verstandige handelswyse wat op sy gebed gevolg het.
Onder Dawid se lojale vriende was ’n Arkiet genaamd Husai. Husai het die voortvlugtige koning op die Olyfberg ontmoet. Alhoewel hy saam met Dawid in ballingskap wou gaan, het Husai toegegee toe Dawid daarop aandring dat hy in die stad bly. Hy moes voorgee dat hy aan Absalom lojaal is, die raad van die verraderlike raadgewer Agitofel probeer verydel en Dawid op hoogte van sake hou (2 Samuel 15:32-37). Husai het, soos hulle gehoop het, daarin geslaag om Absalom se vertroue te wen. Jehovah sou nou ingryp.
Die vindingryke maar slinkse Agitofel het ’n skitterende plan voorgestel. Hy het Absalom aangespoor om hom 12 000 manskappe te gee om Dawid nog daardie selfde nag aan te val, terwyl dié voortvlugtig, ongeorganiseerd en ’n maklike teiken was—’n doodslag wat die opstand met sukses sou bekroon! Maar tot baie se verbasing het Absalom Husai om raad gevra. Hy het Absalom aangeraai om die tyd te neem om ’n oorweldigende leërmag te versamel, onder aanvoering van niemand anders as Absalom self nie. Jehovah het dit so beskik dat Husai se raad aanvaar is. Agitofel, wat blykbaar besef het dat dit ’n gewisse nederlaag sou beteken as Husai se raad gevolg word, het na sy huis teruggekeer en selfmoord gepleeg.—2 Samuel 17:1-14, 23.
Jehovah het ongetwyfeld Dawid se gebed verhoor—net soos hy gebid het. Dawid se voorbeeld om in ooreenstemming met sy gebed te handel, voorsien ’n nuttige les vir almal wat God se hulp deur middel van gebed vra.
Jehovah sal sy deel bydra
Jesus het weliswaar sy volgelinge geleer om te bid om hulle daaglikse brood en het beloof dat God in hulle behoeftes sou voorsien indien hulle Sy belange eerste stel (Matteus 6:11, 33). As iemand byvoorbeeld werkloos is, moet hy optree in ooreenstemming met sy gebed om lewensmiddele deur alles in sy vermoë te doen om werk te kry of te skep.
Wat die onderwerp van ons gebede ook al is, ons vermoë om tot die afloop daarvan by te dra, verskil grootliks. Daar is tye wanneer ons baie kan doen en ander tye wanneer ons weinig, indien enigiets, kan doen. Wat hier belangrik is, is nie in watter mate ons ’n bydrae kan lewer of nie, maar of ons ons bes doen.
Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons omstandighede en vermoëns ken. Hy besef ten volle waartoe ons in staat is en hy sal nooit meer van ons verwag as wat ons kan doen nie. Hetsy ons baie of min kan doen, Jehovah sal vergoed waar ons te kort skiet. Hy waardeer en ondersteun ons pogings en sal daarmee saamwerk om die beste uitkoms vir al die betrokkenes te voorsien.—Psalm 3:4-8.
Te midde van ontbering kon koning Dawid met vertroue sê: “Die heil behoort aan die HERE; laat u seën wees oor u volk!” (Psalm 3:9). Mag ons vertroue in Jehovah se krag, tesame met ons daadwerklike bydrae, groot of klein, tot die suksesvolle afloop van ons gebede lei.