Van ons lesers
Moedige jeugdige Ek is 15 jaar oud, en ek wil julle bedank vir die artikel “Joshua se geloof—’n oorwinning vir kinderregte” van 22 Januarie 1995. Hoe hartroerend was dit tog om van iemand van dieselfde ouderdom as ek te lees wat sulke geloof en liefde vir Jehovah het! Toe ek hierdie artikel gelees het, het ek besef dat ek my verhouding met Jehovah ernstiger moet opneem.
M. S., Verenigde State
Ek is 16 en dit is vir my baie moeilik om die tyd te vind om al ons tydskrifte te lees. Maar ek het die artikel oor Joshua gelees, en ek is nog nooit so deur enigiets geraak nie. Sy standpunt oor die weiering van ’n bloedoortapping was so ferm! Ek kon nie anders as huil nie. Ek besef nou dat ek alles moontlik moet lees wat van Jehovah se organisasie af kom.
T. S., Brittanje
Ek is ’n Anglikaan, maar ek geniet dit om die Ontwaak! te lees. Ek kan nie anders as huil oor wat Joshua deurgemaak het nie en dank God terselfdertyd dat daar mense is wat sulke geloof in Hom stel.
P. O., Nigerië
Ek is ’n 17-jarige voltydse bedienaar, en ek ly aan ’n siekte wat akute bloedarmoede veroorsaak. My dokter wou al bloed voorskryf, maar ek bied hierdie probleem die hoof. Ek het die artikel verskeie kere gelees, en elke keer het dit my meer moed gegee.
I. L. M., Brasilië
Nie eens die dood van geliefdes het my al ooit tot trane beweeg nie. Maar ek het gehuil toe ek Joshua se ondervinding gelees het. Sy geloof, moed, en onkreukbaarheid het my getref.
T. M., Zimbabwe
Slaap saam met baba Ons het kennis geneem van ’n uittreksel in julle nommer van 22 Julie 1994 (“Ons beskou die wêreld”) waarin dr. James McKenna se navorsing gemeld word. Dit het daarop gedui dat moeders wat saam met hulle babas slaap SSSS (Sindroom van Skielike Sterfte by Suigelinge) sal laat afneem. Die Nieu-Seelandse studie oor Wiegiedood het getoon dat die risiko van SSSS grootliks toeneem as die ouers die baba in die bed het wanneer hulle slaap.
Dr. S. L. T., Nieu-Seeland
Dankie vir hierdie inligting. Dr. McKenna het onlangs sy standpunt verduidelik en die gevare erken van toevallige versmoring van ’n baba wanneer ’n moeder saam met haar kind slaap. (Vergelyk 1 Konings 3:19.) Die meeste dokters raai ouers dus af om hulle baba by hulle te laat slaap en stel voor dat ’n baba in ’n wiegie sonder kussings of dik komberse slaap.—RED.
Die by versus die rekenaar Ek moet eenvoudig my dank uitspreek vir die artikel “Die by versus die rekenaar” (8 Februarie 1995). Die artikel het my baie diep geraak. Ons Grootse Skepper het selfs klein wesentjies soos die by gemaak om wonderlik en uniek te wees.
C. K., Duitsland
Outisme Baie dankie vir die artikel “Outisme—Hoe om die uitdagings van ’n raaiselagtige toestand die hoof te bied” (8 Februarie 1995). Daar is ’n outistiese seun in ons gemeente, en ek het baie geheg aan hom geraak. Die artikel het my gehelp om outisme te verstaan. Nou weet ek dat ek kan help deur bloot tyd saam met hom en sy moeder deur te bring.
A. F., Japan
Ons dogter is nie outisties nie, maar sy het soortgelyke karaktertrekke. Ons is bly dat julle mense inlig oor die probleme wat baie kinders het. Dit is so bemoedigend wanneer mense sulke kinders behandel as mense wat die lewe waardig is. Opmerkings soos ‘Ek voel so jammer vir julle’ of ‘Ek sal nooit kan doen wat julle doen nie’, is nie bemoedigend nie. Ons dogter is gelukkig, en soms veroorsaak ons ander kinders vir ons meer spanning. Ons is nie spyt oor haar geboorte nie.
L. H., Verenigde State