Ontwerp om vir ewig te lewe
DIE menseliggaam is wonderbaarlik ontwerp. Die ontwikkeling en groei daarvan is eenvoudig ’n wonderwerk. ’n Skrywer van die ou tyd het uitgeroep: ‘Ek is op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak’ (Psalm 139:14, NW). Aangesien wetenskaplikes ten volle bewus is van die wonders van die menseliggaam, is veroudering en die dood vir party ’n raaisel. Is dit vir jou ook?
“Veroudering”, het die bioloog Steven Austad van Harvard-universiteit geskryf, “is iets waarvoor ons so gereeld te staan kom dat ek verbaas is dat meer mense dit nie as die vernaamste biologiese raaisel beskou nie.” Die feit dat almal oud word, het Austad gesê, “laat [veroudering] minder raaiselagtig lyk”. Maar maak veroudering en dood sin as jy werklik daaroor nadink?
Verlede jaar het dr. Leonard Hayflick, in sy boek How and Why We Age, die wonders van menselewe en -groei erken en geskryf: “Nadat die natuur die wonderwerke verrig het wat ons van bevrugting tot geboorte neem en daarna tot seksuele rypheid en volwassenheid, het die natuur verkies om nie die skynbaar eenvoudiger meganisme te ontwerp wat daardie wonderwerke eenvoudig vir ewig kan onderhou nie. Hierdie insig is dekades lank al vir biogerontoloë [diegene wat die biologiese aspekte van veroudering bestudeer] ’n raaisel.”
Is veroudering en die dood ook vir jou ’n raaisel? Wat is die doel daarvan? Hayflick het gesê: “Feitlik alle biologiese gebeure van bevrugting tot volwassenheid het blykbaar ’n doel, maar veroudering het nie. Dit is nie duidelik waarom veroudering moet plaasvind nie. Hoewel ons baie oor die biologie van veroudering geleer het . . . , ondervind ons steeds die onvermydelike resultaat van doellose veroudering wat deur die dood gevolg word.”
Is dit moontlik dat ons nie veronderstel is om oud te word en dood te gaan nie, maar om vir ewig op aarde te lewe?
Begeerte om te lewe
Jy is ongetwyfeld daarvan bewus dat omtrent niemand daarvan hou om oud te word en dood te gaan nie. Trouens, baie is bang daarvoor. In sy boek How We Die het dokter Sherwin B. Nuland geskryf: “Dit lyk asof nie een van ons sielkundig opgewasse is om die gedagte aan ons eie dood te verwerk nie, ook nie die idee van permanente bewusteloosheid waarin daar nie ’n leemte of vakuum is nie—waarin daar eenvoudig niks is nie.” Ken jy iemand wat oud en siek wil word en wil doodgaan?
Sou ons nie ouderdom en die dood verwelkom het as hulle natuurlik en deel van die een of ander meesterplan was nie? Maar ons doen dit nie. Waarom nie? Die antwoord lê in die manier waarop ons gemaak is. Die Bybel sê: “[God] het selfs die ewigheid in [ons] verstande geplaas” (Prediker 3:11, Byington). Weens hierdie begeerte na ’n eindelose toekoms soek mense al lank na ’n sogenaamde fontein van jeug. Hulle wil vir ewig jonk bly. Dit laat die vraag ontstaan: Het ons die potensiaal om langer te lewe?
Ontwerp om homself te herstel
Die bioloog Austad het in die tydskrif Natural History getoon wat die algemene beskouing is: “Ons is geneig om aan onsself en ander diere op dieselfde manier te dink as wat ons aan masjiene dink: slytasie is eenvoudig onvermydelik.” Maar dit is nie waar nie. “Biologiese organismes verskil wesenlik van masjiene”, het Austad gesê. “Hulle herstel hulleself: wonde genees, bene groei aan, siekte gaan verby.”
Die interessante vraag is dus: Waarom word ons ouer? Soos Austad gevra het: “Waarom moet [biologiese organismes] dan aan dieselfde vorme van slytasie as masjiene onderhewig wees?” Kan liggaamsweefsel, aangesien hulle hulleself vervang, nie aanhou om dit vir ewig te doen nie?
In die tydskrif Discover het die evolusionistiese bioloog Jared Diamond die wonderlike vermoë bespreek wat fisiese organismes het om hulleself te herstel. Hy het geskryf: “Die sigbaarste voorbeeld van skadebeheer wat in ons liggaam toegepas word, is wonde wat genees, waardeur ons die skade aan ons vel herstel. Talle diere kan baie verstommender resultate behaal as wat ons kan: akkedisse kan weer hulle afgebreekte sterte laat groei, seesterre en krappe hulle ledemate, seekomkommers hulle ingewande.”
Diamond het oor die vervanging van tande gesê: “Mense kry twee stelle, olifante ses stelle en haaie ’n onbepaalde getal gedurende hulle leeftyd.” Hy het toe verduidelik: “Gereelde vervanging vind ook op ’n mikroskopiese vlak plaas. Ons vervang die selle wat ons ingewande uitvoer een keer elke paar dae, dié wat die urineblaas uitvoer een keer elke twee maande en ons rooi bloedselle een keer elke vier maande.
“Op molekulêre vlak is ons proteïenmolekules aan voortdurende verandering onderworpe teen ’n tempo wat eie is aan elke besondere proteïen; sodoende vermy ons die ophoping van beskadigde molekules. As jy jou geliefde se voorkoms vandag dus met dié van ’n maand gelede vergelyk, lyk hy of sy dalk dieselfde, maar baie van die individuele molekules wat daardie geliefde se liggaam uitmaak, is anders. Hoewel al die koning se soldate Hompie Kedompie nie weer aanmekaar kon sit nie, is die natuur besig om ons elke dag uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit.”
Die meeste van die liggaam se selle word van tyd tot tyd deur nuwes vervang. Maar party selle, soos breinneurone, word moontlik nooit vervang nie. Hayflick het egter verduidelik: “As elke deel van die sel vervang is, is dit nie dieselfde ou sel nie. Die neurone waarmee jy gebore is, lyk dalk vandag asof hulle dieselfde selle is, maar baie van die molekules waaruit hulle saamgestel is toe jy gebore is, is in werklikheid . . . dalk met nuwe molekules vervang. Daarom is nieverdelende selle dalk tog nie dieselfde selle waarmee jy gebore is nie!” Dit is omdat die komponente van die selle vervang word. Vervanging van die liggaam se boustowwe kan ons dus teoreties vir ewig aan die lewe hou!
Hou ook in gedagte dat dr. Hayflick gepraat het van ‘die wonderwerke wat ons van bevrugting tot geboorte neem’. Wat is party van hierdie wonderwerke? Terwyl ons kortliks daarna kyk, dink aan die moontlike implementering van dit waarna hy verwys het as ‘die skynbaar eenvoudiger meganisme wat daardie wonderwerke eenvoudig vir ewig kan onderhou’.
Die sel
’n Volwassene bestaan uit ongeveer 100 biljoen selle, waarvan elkeen onbegryplik ingewikkeld is. Om die ingewikkeldheid toe te lig, het die tydskrif Newsweek ’n sel met ’n ommuurde stad vergelyk. “Kragstasies wek die sel se energie op”, het die tydskrif gesê. “Fabrieke vervaardig proteïene, noodsaaklike eenhede van chemiese handel. Ingewikkelde vervoerstelsels neem spesifieke chemiese stowwe van punt tot punt binne en buite die sel. Skildwagte by die versperrings beheer die invoer- en uitvoermark en kontroleer die buitewêreld vir gevaartekens. Gedissiplineerde biologiese leërs staan gereed om indringers aan te val. ’n Sentrale genetiese regering handhaaf die orde.”
Dink aan hoe jy—ongeveer 100 biljoen selle—tot stand gekom het. Jy het as ’n enkele sel begin wat gevorm is toe die saadsel van jou vader met ’n eiersel van jou moeder verenig het. Met daardie vereniging is die planne binne die DNS (die afkorting van deoksiribonukleïensuur) van daardie nuutgevormde sel opgestel om te vervaardig wat uiteindelik jy geword het—’n heeltemal nuwe en unieke mens. Daar word gesê dat die instruksies in die DNS, “as dit uitgeskryf sou word, duisend boeke met 600 bladsye elk sou vul”.
Mettertyd het daardie oorspronklike sel begin verdeel en twee selle, toe vier, agt en so meer gemaak. Uiteindelik, ná ongeveer 270 dae—waartydens miljarde selle van baie verskillende soorte binne jou moeder ontwikkel het om ’n baba te vorm—is JY gebore. Dit is asof daardie eerste sel ’n enorme kamer vol boeke gehad het met breedvoerige instruksies oor hoe om jou te maak. Maar net so wonderlik is die feit dat hierdie ingewikkelde instruksies na elke sel daarna oorgedra is. Ja, dit is verbasend dat elke sel in jou liggaam presies dieselfde inligting het as wat die oorspronklike bevrugte eiersel bevat het!
Dink ook hieroor na. Hoe is die instruksies om al die ander selle te maak, onderdruk toe dit tyd geword het om, sê nou maar, hartselle te maak, aangesien elke sel die inligting bevat om alle soorte selle te vervaardig? ’n Sel tree blykbaar op soos ’n kontrakteur met ’n volledige kabinet van bloudrukke om ’n baba te maak en kies uit sy liasseerkabinet ’n bloudruk om hartselle te maak. ’n Ander sel het ’n bloudruk gekies met instruksies om senuselle te vervaardig en nog ’n ander een het ’n bloudruk geneem om lewerselle te maak, ensovoorts. Hierdie steeds onverklaarde vermoë van ’n sel om die instruksies uit te soek wat nodig is vir die vervaardiging van ’n sekere soort sel en om alle ander instruksies terselfdertyd te onderdruk, is beslis nog een van die baie ‘wonderwerke wat ons van bevrugting tot geboorte neem’.
Maar dit behels veel meer. Die selle van die hart moet byvoorbeeld gestimuleer word sodat hulle ritmies saamtrek. ’n Ingewikkelde stelsel is dus in die hart gevorm om elektriese impulse op te wek wat die hart teen ’n behoorlike tempo laat klop sodat die liggaam met die bedrywigheid kan voortgaan waarmee dit besig is. Waarlik ’n wonderlike ontwerp! Dit is geen wonder nie dat dokters al van die hart gesê het: “Dit is doeltreffender as enige masjien van enige soort wat al deur die mens ontwerp is.”
Die brein
’n Selfs groter wonder is die ontwikkeling van die brein—die geheimsinnigste deel van die menslike wonderwerk. Drie weke ná bevrugting begin breinselle vorm. Mettertyd word ongeveer 100 miljard senuselle, wat neurone genoem word—soveel as die sterre in die Melkweg—in ’n mensebrein ingepak.
“Elkeen ontvang gegewens van ongeveer 10 000 ander neurone in die brein”, het die tydskrif Time gesê, “en stuur boodskappe aan ’n duisend ander neurone.” Die neurowetenskaplike Gerald Edelman het aangaande die moontlike kombinasiemoontlikhede gesê: “’n Deel van die brein so groot soos ’n vuurhoutjiekop bevat ongeveer ’n miljard verbindings wat op maniere kan verbind wat net as hiperastronomies beskryf kan word—van die orde van tien gevolg deur miljoene nulle.”
Watter potensiaal gee dit die brein? Die sterrekundige Carl Sagan het gesê dat die mensebrein inligting kan bevat wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul, soveel as wat daar in die wêreld se grootste biblioteke is”. Die skrywer George Leonard het verder gegaan en gesê: “Trouens, ons kan moontlik nou ’n ongelooflike hipotese voorstel: Die maksimum skeppingsvermoë van die brein is dalk feitlik oneindig.”
Ons moet dus nie oor die volgende stellings verbaas wees nie: “Die brein”, het die molekulêre bioloog James Watson, medeontdekker van die fisiese struktuur van die DNS, gesê, “is die ingewikkeldste ding wat ons nog in ons heelal ontdek het.” Die neuroloog Richard Restak, wat glad nie daarvan hou dat die brein met ’n rekenaar vergelyk word nie, het gesê: “Die uniekheid van die brein spruit voort uit die feit dat daar nêrens in die bekende heelal iets is waarmee dit selfs in die minste ooreenkom nie.”
Neurowetenskaplikes sê dat ons gedurende ons huidige lewensduur net ’n klein deeltjie van ons potensiële breinkrag gebruik, net ongeveer 1/10 000, oftewel 1/100 van 1 persent, volgens een skatting. Dink daaroor na. Is dit redelik dat ons ’n brein met soveel wonderbaarlike moontlikhede gegee sou word as dit nooit ten volle gebruik moes word nie? Is dit nie redelik dat mense, met die vermoë om vir ewig te kan leer, eintlik ontwerp is om vir ewig te lewe nie?
As dit waar is, waarom word ons oud? Wat het verkeerd geloop? Waarom gaan ons ná sowat 70 of 80 jaar dood, selfs al is ons liggame blykbaar ontwerp om vir ewig te hou?
[Diagram op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die sel—’n wonderlike ontwerp
Selmembraan:
Die omhulsel wat beheer wat die sel binnegaan en verlaat
Kern:
Dit word deur ’n dubbele membraan omhul en is die beheersentrum wat die sel se bedrywighede rig
Ribosome:
Strukture waarop aminosure tot proteïene saamgevoeg word
Chromosome:
Hulle bevat die sel se DNS, die genetiese meesterplan
Nukleolus:
Die plek waar die ribosome opgebou word
Endoplasmiese retikulum:
Membraanlae wat sorg vir die berging en vervoer van die proteïene wat gemaak is deur die ribosome wat aan hulle vasgeheg is (sommige ribosome dryf vry in die sel rond)
Mitochondria:
Produksiesentrums vir ATP, die molekules wat energie aan die sel verskaf
Golgi-liggaampie:
’n Groep plat membraansakkies wat die proteïene verpak en versprei wat deur die sel vervaardig is
Sentriole:
Hulle is naby die kern geleë en is belangrik by selvoortplanting