Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 10/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bloedgeld
  • ’n Tekort aan priesters
  • Nog bloedoortappingsgevare
  • Oorgewig kinders in Kanada
  • Asbesgevaar duur voort
  • Wie is die wenner?
  • Meer probleme as oplossings
  • Kos in ingeduikte blikkies
  • Lae geboortesyfers
  • Langdurige gevolge van oorlog
  • Die asbes-verhaal—van lewensredder tot doodsbedreiging
    Ontwaak!—1991
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Ontwaak!—1995
g95 10/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Bloedgeld

In 1994 was die Duitse publiek geskok toe hulle uitvind dat ongeveer 2 500 mense deur middel van bloedoortappings en bloedprodukte met HIV besmet is. (Sien die Ontwaak! van 22 April 1994, bladsy 28.) In ’n parlementêre debat in Januarie 1995, berig die Süddeutsche Zeitung, het die federale minister van gesondheid die slagoffers “in die naam van die federale regering om vergifnis” gevra vir foute wat hulle lyding vererger het. In die debat is daar gesê dat die farmaseutiese bedryf en die dokters hoofsaaklik verantwoordelik is en dat die Duitse Rooi Kruis sy beeld geskaad het deur te hard te probeer om “’n vervaardiger van geneesmiddels uit bloed” te word. Een vrou wat deur haar oorlede man met HIV besmet is, het gesê: “Ten minste 700 bloeiers kon nou nog gelewe het as die [farmaseutiese bedryf] toe oor meer as net geldmaak gedink het.”

’n Tekort aan priesters

Spanje, wat eens bekend was vir die Katolieke sendelinge wat dit na die buiteland gestuur het, sukkel nou om genoeg priesters te lewer om in plaaslike behoeftes te voorsien. Die koerant El País van Madrid berig dat die aantal priesters in Spanje elke jaar met 150 afneem. Kerkowerhede is bekommerd dat die 2 000 seminariste wat op die oomblik studeer nie genoeg priesters sal lewer om in die toekomstige vraag na herders te voorsien nie. Verlede jaar is slegs 216 priesters georden—73 minder as in 1993—en 70 persent van die Spaanse geestelikes is ouer as 50. Aan die ander kant het Jehovah se Getuies in Spanje in die laaste tyd gesien hoe hulle pioniergeledere elke jaar met 300 toeneem. Pioniers is onbetaalde bedienaars wat elke maand ten minste 90 uur aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk bestee.

Nog bloedoortappingsgevare

Volgens The Canberra Times van Australië het die Rooi Kruis dokters gewaarsku dat besmette bloed ’n dodelike bakteriese infeksie kan oordra en dat daar tot op hede geen manier is om die organisme vir seker te verwyder nie. Die Times het na ’n berig in The Medical Journal of Australia verwys en gesê dat vier mense tussen 1980 en 1989 in die staat Nieu-Suid-Wallis as gevolg van hierdie bakteries besmette bloed gesterf het. Die koerantartikel het verder gesê: “Die probleem is dat die bakterie, Yersinia enterocolitica, vinnig kan aanteel in sakkies heelbloed, selfs wanneer die bloed naby vriespunt is. Mense wat weke voordat hulle bloed geskenk het maaginfeksies gehad het, kan soms die organisme oordra, wat dan tot groot hoeveelhede kan aanteel terwyl die bloed geberg word en wag om oorgetap te word. Pasiënte wat ’n oortapping ontvang het, kan skielik toksiese skok opdoen en sterf.”

Oorgewig kinders in Kanada

“Baie voedingkundiges, kinderartse en navorsers” sê dat “uitgeputte ouers hulle kinders ongebalanseerde, oorverwerkte en vetryke maaltye gee”, berig The Globe and Mail. Wanneer albei ouers werk, is die lewe dikwels dol, met baie min of geen tyd oor vir die gesin om saam voedsame maaltye te nuttig. Die gevolg? Volgens deskundige skattings “is ten minste 20 persent van Kanadese kinders oorgewig as gevolg van ’n kombinasie van ’n vetryke dieet en ’n gebrek aan oefening”, sê The Globe. Dr. Stan Kubow, adjunkprofessor aan die fakulteit van dieet- en voedingkunde van die McGill-universiteit in Montreal, sê balans is nodig. Hy het gesê dat ouers moet “toesien dat daar suiwelprodukte, proteïene, vrugte, groente en vesel in hulle [kinders se] dieet is”. Een besorgde navorser het gevra: “As jy nie oor jou gesondheid besorg is nie, waaroor is jy dan besorg?”

Asbesgevaar duur voort

Duisende Britse konstruksiewerkers sal weens asbesverwante kanker sterf as gevolg van ’n misrekening deur veiligheidsowerhede, berig die tydskrif New Scientist. Jare gelede, in die sestigerjare, toe mediese kenners gesê het dat asbesvesel ’n gesondheidsgevaar is, het die Britse regering fabrieksregulasies ingestel om die konsentrasie van hierdie vesels in die lug te beperk. Navorsers vind egter nou dat timmermanne, elektrisiëns, loodgieters en gasaanlêers, wat sonder beskerming met asbesverwante produkte gewerk het, die werknemers is wat aan die grootste gevaar blootgestel was. Omdat een soort longkanker 30 jaar neem om te ontwikkel, het hierdie fout eers onlangs aan die lig gekom. Op die oomblik is dit nie bekend watter boumetodes of asbesprodukte die gevaarlikste is nie. Brittanje se Gesondheids- en Veiligheidsadministrasie spoor alle konstruksiewerkers gevolglik aan om uiters versigtig te wees wanneer hulle ’n stof ontdek wat asbes bevat en om dit by hulle werkgewers aan te meld, wat die stowwe moet ondersoek en voldoende beskerming moet voorsien.

Wie is die wenner?

“In die dobbelbedryf is daar geen krisis nie”, berig Veja. Die tydskrif sê dat Brasiliane elke jaar ongeveer R14,5 miljard aan loterye en ander vorme van dobbelary bestee. Dit is meer as die jaarlikse inkomste van ’n reusagtige landwye motormaatskappy! Daar word gesê dat die aantrekkingskrag van bingo in die sosiale sy daarvan lê. “In bingo is dit moontlik om met vreemdelinge of kennisse te gesels, om te eet, te drink en te juig terwyl ’n mens jou geluk beproef”, het die tydskrif gesê. Maar wie is die wenner? “In geen ander vorm van dobbelary is die opbrengs vir die dobbelhuis so hoog nie”, sê die wiskundige Oswald de Souza. “Die wenner van die rondte [in bingo] ontvang slegs 45 persent van die geld wat verwed is.”

Meer probleme as oplossings

Ten spyte van die feit dat die regering van Indië die grootste voedingsprogram in die wêreld finansier, is daar steeds 250 miljoen mense in daardie land wat aan verskillende grade van wanvoeding ly. ’n Verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds toon dat 43,8 persent van die kinders in Indië ondanks alle pogings aan ’n mate van proteïen-energietekort ly. Daar is ook 6,6 miljoen wat effens vertraag is en sekere bewegingsgebreke het, 2,2 miljoen wat aan kretinisme ly, en elke jaar word 60 000 as gevolg van ’n vitamientekort blind. Onder voorskoolse kinders het 56 persent ’n ystertekort en kinders tel ook onder die 40 miljoen mense wat skildkliergeswel het.

Kos in ingeduikte blikkies

“Kruidenierswarekopers wat geld probeer spaar, koop of hou dalk blikkies wat eintlik weggegooi moet word omdat dit gevaarlik kan wees”, waarsku die Winnipeg Free Press. “Baie duike aan blikkies is aanvaarbaar, maar party is nie”, het Peter Parys van die stad se gesondheidsdepartement gesê. “Gewoonlik is die blikkies veilig wanneer hulle verpak word; dit word later beskadig.” Volgens die stad se gesondheidsdepartement sluit ’n beknopte lys van wat weggegooi moet word blikkies in wat in hulle nate roes het, dié wat bo-op of aan die wand van die blikkie roes het wat nie maklik afgevee kan word nie, dié wat ’n sopperige geluid maak wanneer dit geskud word, sowel as blikkies wat bol staan of op enige manier geswel is, blikkies wat lek en blikkies met etikette wat afgekom het of verouderd is. Die koerantberig waarsku: “Sodra die seël gebreek is, word blikkies ’n volmaakte teelaarde vir salmonella en stafilokokkus. Dit kan diarree, vomering en krampe veroorsaak.”

Lae geboortesyfers

Baie paartjies in Oos-Europa stel dit voorlopig uit om kinders te hê weens hulle gevoel van finansiële en werksonsekerheid. The New York Times sê dat hierdie “onsekerheid nie net tot ’n skerp daling in geboortesyfers gelei het nie, maar ook tot ’n afname in huwelike en ’n meer as tienvoudige toename in sterilisasies”. Die Times sê verder dat demograwe reken “sulke skerp afnames is ongekend, behalwe in tye van oorlog, epidemies of hongersnood”. Om ’n soortgelyke neiging teë te werk, het die regerings van België, Luxemburg, Hongarye, Pole en Portugal al ’n geruime tyd geldelike vergoedings voorsien as aansporing om babas te hê. In onlangser tye het die regering van die Duitse staat Brandenburg begin om R2350 vir elke baba aan te bied.

Langdurige gevolge van oorlog

Die oorlogslagoffers in die voormalige Joego-Slawië sluit baie meer in as net diegene wat deur koeëls of bomme doodgemaak of vermink is. ’n Onlangse studie toon dat “die honderde tonne giftige stowwe wat in die omgewing vrygelaat is deur vure, ontploffings en chemiese lekke ernstige gesondheidsgevolge sal meebring”, sê The Medical Post. Hierdie chemikalieë en giftige metale besoedel die riviere en kan selfs ondergrondse waterbronne vergiftig. Volgens die Post waarsku kenners dat daar “’n aansienlike toename in die aantal kinders met aangebore misvormdheid sal wees omdat hulle ouers water gedrink het wat met giftige stowwe besoedel is”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2023)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privacy Settings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel