Kan jy van ’n gebroke hart sterf?
ONGELUKKIG is dit ’n baie algemene verskynsel: ’n Bejaarde wat skynbaar gesond is en pas ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het, stort ineen en sterf binne die bestek van ’n paar dae of weke. Die doodsoorsaak? “’n Gebroke hart”, sê vriende.
Dit is dalk nie bloot ’n gesegde nie. Navorsers weet al lank dat stres wat nie verwerk is nie die hart met chemikalieë vul wat tot onreëlmatige hartklop of selfs hartkrampe kan lei. Maar presies hoe hierdie proses in die brein begin, het ’n raaisel gebly.
Stephen M. Oppenheimer, ’n neuroloog van die mediese opleidingskool aan die Johns Hopkins-universiteit in Baltimore, Maryland, VSA, glo dat hy ’n deel van die brein geïdentifiseer het wat die hart met die emosies verbind. Die insulêre korteks is ’n klein deel van die brein waar die outonome senustelsel, wat funksies soos asemhaling asook hartklop beheer, en die limbiese stelsel, wat te doen het met emosies soos woede, vrees en plesier, mekaar ontmoet. Dr. Oppenheimer het gevind dat stimulering van die insulêre korteks by rotte soortgelyke skade aan die hartspier tot gevolg gehad het as dié wat by mense gesien word met skielike hartfibrillasie. Daar is ook getoon dat stimulering van die insulêre korteks by mense veranderinge in die hartklop en bloeddruk tot gevolg het. Hierdie bevindinge gee te kenne dat dit inderdaad moontlik is om van ’n gebroke hart te sterf.
Party mense sê dat ’n gebroke hart ’n faktor by die dood van Jesus Christus was, van wie daar voorspel is: “Die smaad breek my hart, en ek is verswak” (Psalm 69:21). Moet ons hierdie woorde letterlik verstaan? Miskien, want die ure voor Jesus se dood was uiters pynlik—nie net fisies nie, maar ook emosioneel (Matteus 27:46; Lukas 22:44; Hebreërs 5:7). Daarbenewens kan ’n gebroke hart dalk verklaar waarom “bloed en water” uit die spieswond gevloei het wat Jesus net ná sy dood opgedoen het. ’n Breuk in die hart of in ’n groot bloedvat kan bloed tot in die borskas laat vloei of tot in die perikardium—’n membraan wat vloeistof bevat en die hart lossies omhul. ’n Deursteking in enige van hierdie plekke kan ’n uitvloeiing van wat na “bloed en water” lyk tot gevolg hê.—Johannes 19:34.
Natuurlik was daar ongetwyfeld ook ander faktore betrokke by Jesus se betreklik vinnige dood, waaronder die manier waarop hy aan die folterpaal genael is en die mishandeling wat hy vooraf verduur het. Hoe dankbaar is ons tog dat Jesus onder hierdie moeilike omstandighede sy lojaliteit behou het! Gevolglik het sy Vader, Jehovah, hom uitermate verhef (Filippense 2:8-11). Wat meer is, hy het dit vir ons moontlik gemaak om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Johannes 17:3; Openbaring 21:3, 4.